Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (3)
Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (3) – Adrio König
Psalm 136
Hier is nog een van die Psalms wat die lof van die Here uitjuig. Net soos Psalm 114 is dit waarskynlik tydens die Pasgafees (Paasfees) in die tempel gesing. Die herhalende refrein “Aan sy liefde is daar geen einde nie” is deur die gemeente gesing in antwoord op die voorsanger wat die eerste deel van elke vers gesing het.
Daar is interessante ooreenkoms met Psalm 114. Ook in hierdie geval word daar geen aandag gegee aan die rol van Israel by die uittog nie. Dit gaan uitsluitlik om die werk en veral die groot mag van die Here. Daar is ook verskille. In Psalm 114 gaan dit net oor die uittog, eintlik net oor twee insidente tydens die uittog: Die tog deur die Rietsee, en dié deur die Jordaan. Hier gaan dit om veel meer. Dit gaan om die uittog, die deurtog deur die woestyn, en die intog in Kanaän in. Maar selfs nog meer. Die lied begin met ’n verwysing na die skepping.
Dit is belangrik dat die uittog dus hier in dieselfde asem as die skepping genoem word. Dit plaas die uittog op ’n baie hoë vlak, want die skepping is die aangrypendste en ingrypendste wonder ooit. Maar Psalm 114 het dit eintlik ook al gedoen deur die manier waarop dáár na die uittog verwys is: In die taal van die stryd teen die chaosmagte wat by die skepping sou plaasgevind het (114:3-6). Dit alles beteken dat die skrywers van die Ou Testament die uittog gesien het as ’n skeppingsdaad, die skepping van die volk. Elders word die Here dan ook die Skepper van Israel genoem (Jes 45:11).
Natuurlik het hulle reeds voor die tyd bestaan. Maar hulle het deur die uittog ’n nuwe bestaan gekry: volk van die Here. Ons kry dieselfde gedagte in die Nuwe Testament. Mense wat deur die geloof aan Jesus verbind word, word ’n “nuwe skepping” genoem. Die “nuwe mens” van 2 Korintiërs 5:17 is in die Grieks ’n “nuwe skepping” (NLV). Dieselfde gedagte lê ook agter die woord “weergeboorte”. Die Here begin eintlik oor met ’n mens, gee jou ’n nuwe lewe, jou eintlike lewe, dié lewe wat tel.
Die insette van 136:2 en 3 kom beter tot hulle reg as ons die NLV volg:
- Prys die God van die gode.
- Prys die Heer van die here.
Hierdie vertaling laat duideliker uitkom dat ons hier die voorstelling het dat daar baie gode is (politeïsme) waarvan Jahwe die Oppergod is, die magtigste God (monargiese politeïsme). Ons sou Hom in hierdie terme selfs die voorsitter van die godevergadering kon noem (Ps 82:1: “God takes his stand in the divine assembly, surrounded by the gods he gives judgement”). Om die Here se lof te besing, beskryf die digter sy “magtige dade” (v 4). Hy begin by die skepping. Hy sonder drie dinge uit: die hemel, die aarde en die “hemelligte”.
Daarna kom die uittog aan die beurt. Hy sonder weer drie dinge uit: Die Egiptenaars wat met die dood getref is, die Rietsee wat in twee gekloof is, en die farao wat met sy leërmag in die Rietsee verdrink het. Dan die deurtog. Dis ’n eenvoudige verwysing, maar ons besef nie regtig hoeveel dit werklik sê nie: “Hy het sy volk deur die woestyn laat trek” (v 16). In Jeremia 2:6 kry ons meer inligting om ons te help om die werklike betekenis van “woestyn” te verstaan.
Hy het ons deur die woestyn gelei,
deur ’n droë wêreld vol slote,
deur ’n dor land vol doodsgevaar,
deur ’n land waardeur niemand trek
en waarin geen mens woon nie.
Die feit dat die Here hulle deur die woestyn laat trek het, is dus ’n loflied op sy magtige voorsiening en leiding.
Ons het vroeër ’n opmerking gemaak oor die groot getalle in verband met die uittog. Dit is nie onmoontlik nie dat dit net nog ’n poging was om die wonderdade van die Here te beklemtoon wat so ’n groot hoeveelheid mense deur sulke haglike omstandighede gelei en onderhou het.
Daarna (17-24) kom die intog aan die beurt en roep die digter die oorwinnings oor die inwoners van Kanaän in herinnering. Dit is aangrypende wonders, want dit is behaal deur ’n volk wat al wie weet hoe lank op ’n tog deur die woestyn was. Dit beklemtoon die groot mag van die Here. Die feit dat Israel nie regtig in hulle eie krag en waarde bygedra het tot hierdie oorwinnings nie, word beklemtoon deur die feit dat die digter die land ’n “geskenk” noem (21, 22). Die vernedering waaruit die Here hulle bevry het (23), was natuurlik die feit dat hulle as ’n volk nie ’n eie land gehad het nie, maar as slawe in Egipte onderdruk is.
Die Psalm sluit af soos dit begin het, met die lof aan die Here. Dit is nog ’n besondere voorbeeld van hoe die uittog geïnterpreteer is as die wonderdade van God sonder enige verwysing na die rol van Israel. Dit is ’n lyn wat ons oor en oor in die Ou Testament kry.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer:Prof Adrio König