Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (5)
Alle Paaie lei na Jesus: Die uittog uit Egipte (5) – Adrio König
9.2.2 Die negatiewe interpretasie van Israel se rol
Maar naas die lof aan die Here is daar ’n tweede lyn. Dit is die beklemtoning van die negatiewe rol van Israel in die woestyn. En ons sal sien hulle negatiwiteit word met verskillende oormerke uitgelig. Ons gaan na drie gedeeltes kyk:
- 1.Esegiël 20
- 2.Psalm 106
- 3.Psalm 95
Esegiël 20
Ons het hier ’n oorweldigende hoofstuk oor Israel se ontrou. Hulle rol word volkome negatief geskilder. Daar is nie ’n enkele positiewe opmerking oor hulle nie, nie oor die uittog self nie, en ook nie oor die rol van Israel tydens die ballingskap waarin hulle uit Egipte op hierdie stadium verkeer het nie. Hierdie hoofstuk gaan eintlik oor vier geslagte Israeliete:
- Die volk wat uitgelei is uit Egipte.
- Hulle kinders wat ná die omswerwings van 40 jaar die land moes intrek.
- Die volk in Kanaän.
- Die geslag wat in Esegiël se tyd in ballingskap in Babel is.
En die punt wat Esegiël maak, is dat die een so ontrou aan die Here was soos die ander. Maar dan, asof uit die bloute, kom daar skielik ’n draai. Kom ons kyk na die hoofstuk.
Moenie die hoofstuk “plat” lees nie. Kry die struktuur in die oog, en dan word dit duidelik waarop die profeet afstuur.
- Inleiding 20:1-6.
- Israel nog in Egipte 20:7-9: die ontrou begin vroeg!
- Israel in die woestyn 20:10-17: volkome ontrou aan die Here.
- Die tweede geslag wat moet intrek 20:18-26: volkome ontrou aan die Here.Die volk in Kanaän 20:27-29: volkome ontrou aan die Here.
- Die volk in ballingskap 20:30-32: volkome ontrou aan die Here.
- Die onverwagte draai 20:33-44.
Inleiding 20:1-6
Die leiers van die volk in ballingskap kom om die Here te raadpleeg. Hulle kry egter nie eens die geleentheid om te sê waaroor hulle wil praat nie. Die woorde van die Here wat Esegiël vir hulle moet sê, kom soos ’n vloed oor hulle. Die Here weier om hulle aan te hoor. Hy beveel die profeet om hulle dadelik te oordeel (3, 4). Die rede is “die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het”. Dit blyk later dat die eintlike rede vir die Here se negatiewe reaksie die feit is dat hulle met hierdie dinge voortgegaan het (20:30).
Dit is opvallend dat die doel van die Here met hierdie stortvloed van woorde nie is om Israel tot bekering te roep nie. Ons sal sien dat sowel die Psalmdigters as die profete juis na die uittog verwys om die volk tot bekering te roep. Maar hier gaan dit eers net om die oordeel, en daarna die onverwagte draai waarna ons later kyk.
Die Here begin sy oordeelswoorde met sy verbintenis om Israel uit te lei na “’n land wat oorloop van melk en heuning, ’n sieraad onder al die lande”. Hoe ernstig hierdie verbintenis vir Hom was, blyk uit die feit dat Hy drie keer herhaal dat Hy Hom met ’n eed aan hulle verbind het. Dis hier al opvallend dat daar niks positiefs oor hulle verhouding met Hom gesê word nie. Die eis van die Here tydens die uittog was dat hulle voorouers die afgode moes los wat hulle in Egipte gedien het (Jos 24:14). Hy beklemtoon dit : “Ek, die Here, is julle God.” Omdat die Here hulle God is, moet hulle die ander gode los. Dit gee ’n sterk boodskap deur dat die Here eksklusief gedien wil word, sekerlik vandag nog. Ons het in die 1953-vertaling gelees dat Hy ’n “jaloerse” God is (Eks 20:5). Baie latere vertalings het egter van hierdie woord “jaloerse” afgesien. Die 1983-vertaling maak dit ’n God wat onverdeelde trou eis, en NLV “jou enigste God”. Hierdie vertalings is eintlik omskrywings. Dit is interessant dat sowel NJB as NLT en GN by “jaloerse God” bly. Net soos daar iets soos heilige woede/toorn is, is daar ook heilige jaloesie. God aanvaar nie ’n opponerende god in ons lewe nie. Ons moet Hom ernstig neem. Die profete gebruik dikwels die man-vrou-verhouding om die eksklusiwiteit van sy verhouding met ons te beklemtoon. En dit sal dwarsdeur Esegiël 20 blyk dat hierdie afgodsdiens die hele tyd in Kanaän voortgeduur het al het ander sondes later bygekom (v 16, 24, 28b, 30).
Onderstreep elke keer die “maar” aan die begin van ’n vers in hierdie hoofstuk. Ek kry sewe keer “maar” van vers 8 tot vers 22. Ongelukkig het daar ’n “en” in vers 28 ingeglip wat natuurlik ook ’n “maar” moes gewees het. Hierdie herhalende “maar” werk soos ’n skaakspel. Op elke stoot volg ’n téénstoot. God neem bepaalde inisiatiewe, maar Israel reageer negatief. Dan oorweeg God weer sekere dinge, maar Hy doen tog anders. En dan herhaal die sirkel hom weer.
Die deurlopende tema in elk van die hoofdele is dat die Here Israel sekere dinge beveel, maar dat hulle ongehoorsaam is, Hy oorweeg dan om hulle te vernietig, maar doen dit nie, terwille van die eer van sy Naam. Dis belangrik dat die woord “verset” elke keer gebruik word (8, 13, 21) – ’n baie sterk woord om vir ongehoorsame optrede te gebruik. Die Here sien ongehoorsaamheid in ’n baie ernstige lig. Hierdie struktuur word net so herhaal in al vier hoofdele na die Inleiding.
Dit is opwindend om te lees hoe lewend en betrokke die Here by die geskiedenis is. Elke keer oorweeg Hy iets, maar sien dan daarvan af en doen iets anders. Dis nie die prentjie van ’n starre God wat in die ewigheid alles klaar besluit het en nou net die besluite uitvoer nie. Dis die prentjie van ’n God wat betrokke is, wat verskillende moontlikhede oorweeg en dan doen wat in hierdie situasie die beste sal wees, en dikwels met ’n besluit kom wat ons grondig verbaas of verras. Kom ons kyk nou een vir een na die onderdele wat op die Inleiding volg.
Israel nog in Egipte 20:7-9: die ontrou begin vroeg!
Kyk weer na vers 8 se einde: “in Egipte.” Nog voor die volk uit Egipte vertrek het, was daar al genoeg rede vir die Here om hulle te verwerp (Eks 6:11). Waarom het Hy dan in die geheel met hulle begin? En waarom so lank in die woestyn, en daarna in Kanaän met hulle aangehou en uitgehou? Het Hy nie vir Homself “’n kat in die sak gekoop” toe Hy besluit het om hulle sy volk te maak nie? Hy het. Maar hulle was nie die motief en die beweegrede agter sy besluit nie. Sy liefde was. En liefde is blind. Goddank! (Deut 7:7-8)
Israel in die woestyn 20:10-17: volkome ontrou aan die Here
Let weer op die struktuur.
- God handel (10-12)
- maar die volk is volkome ontrou (13a).
- God oorweeg verdelging (13b)
- maar Hy besluit daarteen (14).
Te midde van hierdie vaste struktuur in elke onderdeel, is daar ook keerpunte. Op hierdie stadium het die Here besluit dat daardie geslag nie in Kanaän sou ingaan nie (15).
Die geslag wat ingetrek het 20:18-26: volkome ontrou aan die Here
Bepaal self die struktuur wat hier dieselfde is as in die vorige onderdele. Ook hier kom ’n keerpunt: Die Here besluit alreeds in die woestyn dat Hy hulle uiteindelik in ballingskap sal laat gaan (Lev 26:33). Dit is ’n ontstellende en tog ook ’n heerlike saak! Dit beteken dat die Here van die begin af geweet het Hy kies ’n ontroue volk, en tog met hulle aangehou het! Dalk sien Hy tog vir ons ook nog kans.
Vers 25, 26 is vreemde verse. Miskien moet ons dit verstaan in die lig van ’n ander saak tydens die uittog, hoe die Here uiteindelik die farao se hart verhard het nadat dit duidelik geword het dat hy in elk geval nie na die Here wou luister nie. Die Here wou op dié manier sy eie mag toon, deur téén die farao se wil die volk met geweld te laat trek. Hier was dit ook reeds duidelik dat die volk aanhoudend aan die Here ongehoorsaam was. Skynbaar het die Here dus besluit om hulle in hulle ontrou te laat volhard totdat Hy hulle uiteindelik sou straf.
Die volk in Kanaän 20:27-29: volkome ontrou aan die Here
Die volle struktuur ontbreek hier, maar die basis bly. Immers die “en” in vers 28 moes ’n “maar” gewees het. Dus nogeens: God gee, maar die volk is ontrou.
Die volk in ballingskap 20:30-32: volkome ontrou aan die Here
Hier word die basiese struktuur nie meer gebruik nie. Hier is dit kort en saaklik: Oordeel oor hulle ontrou. Veral die afgodsdiens is hier op die voorgrond. Twee sake kom hier na vore:
- Die Here sal hulle nie te woord staan nie (31b).
- Die Here sal ook nie toelaat dat hulle met hulle afgodsdiens voortgaan nie (32).
Die onverwagte draai 20:33-44
Wat kan ’n mens na dit alles logieserwys verwag? Seker dat die Here uiteindelik sal voel die volk bring soveel skande oor Hom, sy Naam word so erg onder die volke ontheilig, dat Hy eenvoudig die band met Israel moet verbreek. Later in Esegiël speel hierdie oneer aan sy Naam ’n al hoe groter rol (oa 36:20, 21, 22, 23). Wat dan volg, is egter ingewikkelder as dit. Eintlik is dit verontrustend én verblydend tegelyk.
Dit gaan hier oor die terugtog, die geleentheid wanneer die Here die volk weer uit Babel sou terugbring na Jerusalem om die tempel te herbou. Maar die terugtog het heeltemal ’n ander karakter as wat dit in die ander profete het. In Deutero-Jesaja is dit ’n triomftog, hier in Esegiël is dit ’n oordeel- en siftingsgeleentheid.
Byna in elke hoofstuk van Jesaja 40-54 is daar ’n juigkreet oor die volk wat deur die Here uit Babel teruggelei sal word na Jerusalem (40:3-5; 41:27; 43:1-7, 18-21; 44:26-28; 48:20-21). Die toppunt van hierdie jubel is waarskynlik 43:16-21. Daar word eers verwys na die glorieryke uittog uit Egipte waar die Here die vyandelike leër in die Rietsee laat verdrink het. Maar dan volg die merkwaardige woorde: ”Maar moenie aan die vorige dinge dink en by die verlede stilstaan nie. Kyk, Ek gaan iets nuuts doen” en dan volg die lied oor die terugtog. Terloops, die “net” van die 1983-vertaling in vers 18 misken natuurlik die hele betekenis van die vers. As daar iets verduidelikends bygevoeg moes word, dan eerder “glad nie”. Selfs aan hierdie heerlike verlede, die triomfantelike uittog, moes die volk glad nie meer dink nie, so heerlik sou die terugtog wees. Dit sou die uittog heeltemal oor tref.
Skerp teenoor hierdie eensydige jubelroep oor die terugtog, staan Esegiël 20:33 en verder. Die Here gaan die volk uit Babel uitlei die woestyn in, en daar gaan Hy hulle oordeel, daar gaan sy toorn oor hulle losbreek (33-35). Hy sal hulle daar een-een ondersoek en dié wat opstandig en in verset teen Hom is, sal nie in die land van Israel terugkom nie (37-38). Natuurlik is die implikasie dat hulle daar in die woestyn sal sterf. Die Here sal hulle finaal oorgee aan die gode wat hulle gedien het (39). En eers dan kom die jubel (40-44). “Op my heilige berg … daar … sal die hele Israel My dien” (40). Wat gebeur hier? Eers moet daar ’n skeiding voltrek word, en dan kan die terugtog ’n triomftog word.
Kom ons maak ’n paar opmerkings hieroor
Is dit nie getrouer aan die werklikheid as Deutero-Jesaja nie? Dit is mos nie waar dat almal in Babel skielik so getrou aan die Here was dat hulle almal sonder uitsondering net so kan teruggaan nie. En hierdie skeiding is mos ’n sentrale tema in die Bybel. Dit begin al by Kain en Abel, dit gaan voort in die sondvloed, tussen Abraham en Lot, in die woestyn as die eerste geslag eers moet uitsterf, tussen Saul en Dawid, en dwarsdeur tot in die eindoordeel (Matt 25:31-46).
En waar daar ’n eensydige liefdesprediking oorheers, word die evangelie skeefgetrek en hierdie faset van die Bybelse boodskap verwaarloos – tot ons almal se groot verlies. Verder is hier ’n baie belangrike woord. Ná die skeiding “sal die hele Israel My dien”, sê die Here (40). Maar hoe kan dit? ’n Deel van Israel is dan pas tevore in die woestyn veroordeel en agtergelaat om daar te sterf. Dan kom daar mos net ’n deel van Israel in Jerusalem aan.
Nee, dit werk nie so nie. Die deel van die volk wat enduit volhou met hulle verset en opstand teen die Here, word afgesny van die ware Israel. Hulle is nie meer deel van die Godsvolk nie. Onthou, Israel was nie ’n volk-in-eie-reg wat verder ook nog die volk van God was nie. Daar was glad nie so ’n volk nie. Die Here het hulle uit Abraham en Sara met ’n wonderwerk laat voortkom. Hulle was sy volk, en verder niks. Dit beteken dat die ontroues nie regtig deel van Israel was nie. In hierdie geval is hulle in die woestyn agtergelaat, en die hele Israel is verder Jerusalem toe, want net dié wat op die roepstemme van die Here gereageer het, is waarlik Israel. Dis tog presies wat ons later by Paulus lees: “Nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie” (Rom 9:6-7). Elders lees ons: “Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie … Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is” (Rom 2:28-29).
Daarom is dit verkeerd om Israel as ’n blote nasionale eenheid te beskou, en die besnydenis as bloot net ’n teken dat iemand ’n Jood is. Die besnydenis was voluit ’n geloofsakrament. “Dit is ’n seël wat bewys dat God hom (Abraham) vrygespreek het omdat hy geglo het … ” (Rom 4:11). En Abraham is “die vader van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo … ” (Rom 4:12). Duideliker kan dit skaars geskryf word. Daar het van die begin af ’n skeiding deur Israel geloop. Dit het nie gehelp om jou daarop te beroem dat Abraham jou vader is nie. Jesus verklaar: “Ek weet julle is die nageslag van Abraham … ” maar “as julle kinders van Abraham was, sou julle doen wat Abraham gedoen het” (Joh 8:37, 39). Onthou altyd dat Israel in die verbond geleef het wat God met Abraham gemaak het, en Hy het die verbond gesluit met Abraham- wat-in-Hom-geglo-het (Gen 15:6, NLV).
Konklusie
Ons het in Esegiël 20 dus ’n volkome negatiewe prentjie oor Israel se rol in die uittog, en trouens regdeur tot in die ballingskap. Die skeiding tussen getroues en ontroues bring eers die “ontknoping”
wanneer die Israeliete geskei word en die ware volk van God teruggaan Jerusalem toe. Die uittog word dus gebruik om die oordeel van God oor Israel te regverdig.
Mense wonder dikwels oor verskeie aspekte van die Christelike geloof. Alle Paaie lei na Jesus (2010) deur prof Adrio König is ʼn baie nuttige naslaanwerk wat ʼn betrokke en uitdagende verduideliking bied van die die middelpunt van ons geloof: Jesus Christus.
Bybelkennis gaan gereeld gedeeltes uit hierdie bron publiseer. Ons dank aan prof König en CUM vir hierdie vergunning.
Vir meer inligting oor CUM, besoek gerus hulle webblad by www.cumuitgewers.co.za
Skrywer:Prof Adrio König