Apologetiek: Apologetiek en postmodernisme
The saints are chastened and the sinners are enriched: this is no small trial of faith. —C.H. Spurgeon
Apologetiek: Apologetiek en postmodernisme
[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]
Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld
Die betekenisvolste aspek van die postmodernisme is die verwerping dat daar net een regte manier van dink en gedrag is.
Hoekom? Hulle sien dit as Stalinisme/Naziïsme. Hulle glo ‘n oproep tot uniformiteit lei tot onderdrukking – mense word gedwing om in ‘n spesifieke vorm in te pas. In sy plek plaas hulle ‘n kultuursiening wat diversiteit as belangrik sien. Alles wat as rigied gesien word, word as onderdrukkend beskou. Die reaksie is teen modernisme se poging om alles tot ‘n uniforme stel idees te reduseer.
Kevin Vanhoozer het die belangrikste temas van postmoderniteit as vier areas van kritiek teen ouer maniere van dink opgesom.
- Rede. Die modernisme het in ‘n enkele, universele rede geglo; postmoderniteit sê daar is verskillende soorte rasionaliteite – rede hang af van die konteks en is ‘n relatiewe saak.
- Waarheid. Postmoderniteit is agterdogtig oor die idee van ‘n absolute waarheid, wantis in die verlede vir onderdrukking gebruik – om gevestigde belange te beskerm.
- Geskiedenis. Moderne skrywers het na universele patrone in die geskiedenis gesoek. Postmoderniste glo dit nie. Uit ‘n Christelike standpunt: enige poging om die universele betekenis van die verhaal van Jesus van Nasaret te beklemtoon, word met suspisie bejeën.
- Self. Postmodernisme verwerp die idee dat daar een ware manier is om jou eie geskiedenis te vertel. Alle maniere om die individu te verstaan, is slegs gedeeltelik. Daar is geen universele antwoord op die vraag van die identiteit van die mens nie.
Postmodernisme vind aansprake op rasionele argumente problematies. Hulle word deur stories en beelde aangetrek. Hulle glo in ‘n waarheid wat uitgeleef kan word en nie een wat op rasionele argumente berus nie.
Ons kan die nuwe uitdagings hanteer, nie deur nuwe benaderings te ontwikkel nie, maar deur ouer benaderings weer te ontdek. Die basiese beginsels het nie verander nie:
- Verstaan die evangelie
- Verstaan die konteks waarin jy apologetiek beoefen
- Ontwikkel benaderings wat getrou is aan die evangelie en bou op die punte van ooreenkoms met die kultuurkonteks.
Volgende keer gaan ons na ons benadering tot apologetiek kyk.