Apologetiek: Plaas dinge in konteks (3)
There are no disappointments to those whose wills are buried in the will of God. —Frederick Faber
Apologetiek: Plaas dinge in konteks (3)
[Apologetiek = Grieks Apologia = verdediging van die Christendom]
Alister McGrath het ‘n belangrike boek – Mere Apologetics – geskryf waarin hy op ‘n praktiese manier sê hoe gelowiges die Christelike geloof kan verdedig. Ek gaan ‘n hele paar blogs hieraan spandeer, want ek voel dit is ‘n belangrike taak vir gelowiges in ons sekulêre wêreld
Apologetiek het ‘n sterk teologiese dimensie. Kom ons ondersoek dit verder:
- Die verwysings na geloof in die Johannes-evangelie herinner ons daaraan dat bekering nie die gevolg van menslike wysheid of beredenering is nie – God doen dit. Paulus se prediking in Korinte berus nie op menslike wysheid nie: Dus is julle geloof nie op die wysheid van mense gegrond nie, maar op die krag van God (1 Korintiërs 2:5). Geloof beteken nie veranderde denke nie, maar persoonlike transformasie as gevolg van ‘n ontmoeting met die lewende God.
- Die Nuwe Testament beskryf die menslike natuur as gewond en beskadig deur sonde. Hulle is die ongelowiges wie se verstand deur die god van hierdie wêreld verblind is. Sodat hulle die lig van die evangelie nie kan sien nie. Dit is die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is (2 Korintiërs 4:4). Argumente genees nie blindheid nie; die opstapeling van bewyse, kragtige retoriek of ‘n oortuigende persoonlike getuienis genees nie blindheid nie. Blindheid moet genees word en dit kan net God doen. Net God kan die oë van blindes open en hulle in staat stel om die werklikhede van die lewe te sien.
- Ons besef dat ons ‘n belangrike, maar beperkte, rol speel om mense tot geloof te bring. God bekeer mense, maar ons het die groot voorreg om mense tot op ‘n punt te bring waar God oorneem. Ons wys mense na die bron van genesing; God genees. Ons getuig van die krag van vergifnis; God vergewe. Ons verduidelik hoe God ons lewens verander het; God kom ons lewe binne en verander dit. Ons het ‘n bevoorregte rol om te speel, maar ons word nie aan ons eie oorgelaat nie. Ons werk altyd in die krag en teenwoordigheid van Christus.
Ons moet dus verduidelik dat die menslike natuur gewond, stukkend, gebroke, gevalle is en dat dit deur God se genade genees kan word. Ons genees nie. Ons mag wel uitstekende argumente op die tafel plaas dat genesing wel moontlik is; ons kan persoonlike getuienisse voorlê van mense wie se lewens verander is nadat hulle die genesing ontdek het. Maar uiteindelik word mense genees deur die genesing by Christus te kry, te ontvang en te gebruik. Sonder ons mag hulle dalk nie die genesing kry nie – hulle mag selfs nie eers besef dat hulle siek is nie. Maar die werklike proses van genesing is nie deur ons woorde nie.
Hoe lyk ons teologiese visie van die werklikheid? Daarna gaan ons volgende keer kyk.