‘n Vaste Burg is onse God
The grace we receive in forgiveness gives the grace to be forgiving. —Philip Ryken
‘n Vaste Burg is onse God
Martin Luther, die groot hervormer, het ongeveer 36 liedere geskryf. Die bekendste hiervan is sy verwerking van Psalm 46: ‘n Vaste Burg is onse God. Hierdie lied is ‘n viering van die soewereine mag van God oor alle aardse en geestelike magte en dat ons op Hom kan vertrou. Hierdie lied was baie gewild in Europa na die hervorming.
Dit is al die Marseillaise van die Hervorming genoem. Dit was by Augsburg tydens die Ryksdag gesing en in al die kerke in Neder-Sakse – dikwels ten spyte van die priester se besware. Dit is selfs op die strate gesing en vertroos die harte van Melanchton en ander nadat hulle in 1547 uit Wittenberg geban is. Dit is deur arm Protestante op pad na ballingskap en deur martelare voor hulle teregstelling, gesing. Dit word die nasionale lofsang van Protestante Duitsland.
Die lied word nou met Luther self verbind, want in die woorde en melodie kry ons so baie van die karakter van Luther – moedig, sterk, vol vertroue en onbeweeglik as teenstand dreig. Ons kry hierdie verband op ‘n standbeeld van Luther in Wittenberg waar die eerste reël van die lied uitgebeitel is.
Daar is baie geskryf oor wanneer en onder watter omstandighede die lied geskryf is. Die waarskynlikste is dat dit in 1527 geskryf is toe die pessiekte nader aan Duitsland gekom het. Daar is ook heelwat teorieë oor die oorsprong van die melodie. Waarskynlik het Luther dit self geskryf. Die storie dat die melodie se oorsprong ‘n gewilde lied gesing in tavernes was, berus op ‘n misverstand.
Kom ons kyk na hierdie lied:
1. ‘n Vaste burg is onse God, ons skuil in Hom, die sterke.
Hy is ‘n vesting in die nood – vir ewig staan sy werke.
Al kom die bose aan in sy oorwinnaarswaan,
ons weet by al sy lis, sy lot is reeds beslis –
God self stel aan hom perke.
2. Gord ons met eie krag ons aan dan is die stryd verlore;
net een kan satansmag weerstaan, deur God daartoe verkore.
vra u sy Naam, so weet dat hy die Christus heet;
gaan Hy voor in gevaar, Heer van sy eng’leskaar,
nooit is die stryd verlore !
3. Al storm hul ook van elke kant, die hel se leërmagte,
die Een wat sterker is, hou stand, Hy sterk ons swakke kragte.
Veg met geweld en lis die vors van duisternis –
ons vrees geen dood of hel; sy vonnis is gevel,
ons is sy val te wagte.
4. Gods woord hou stand in ewigheid, geen mag kan dit laat wyk nie !
Beef, Satan, God voer hier ons stryd; sy trou sal nooit beswyk nie !
Al eis jy dan ons goed, ons dierbares, ons bloed:
dit bring jou geen gewin – ons gaan die hemel in,
jy roof ons nooit Gods ryk nie.