Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (5)
There is nothing new in theology but that which is false; only the old is true, for truth must be old, as old as God himself. —C.H. Spurgeon
Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (5)
Dallas Willard, Professor aan die University of Southern Califonia’s School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.
Kan ons nuwe lewe in die ou dissiplines blaas? Vas, nadenke, gebed, ‘n eenvoudige leefwyse en onderwerping aan ‘n geestelike oorsiener word toenemend gewilder. Hierdie onderwerpe word wyd bestudeer. Daar word toenemend na hulle gekyk as ‘n betroubare bron van groei na volwassenheid in Christus.
Die grootste belemmernis vir geestelike groei is nie onwilligheid nie, maar ‘n gebrek aan onderrig en verstaan en praktiese rigtinggewing. Iewers het ons iets verloor wat ons weer moet kry. Meeste kerke het ‘n ingeboude antagonisme teen die sogenaamde “asketiese” praktyke – vas, afsondering en stilte. Hoekom? Hulle sien dit as ‘n manier om vergifnis te verwerf of om ‘n gunstige reaksie van God te ontlok.
Hoekom die nuwe belangstelling? Mense sien dat geestelike groei en lewenskragtigheid die gevolg is van wat ons met ons lewens doen – die gewoontes wat ons vorm en van die karakter wat daarop volg. Ons tasbare behoefte en honger vir die geestelike dissiplines maak egter nie duidelik waarom ons hulle nodig het en hoe hulle by God se verlossingsoptrede inpas nie. Dit verduidelik ook nie hoe hulle inpas by die groot waarheid – ons word deur genade deur geloof gered – nie. Verwarring op hierdie punt lei tot misbruike in die gebruik van die dissiplines – soos in die verlede gebeur het. Daarom vermy baie Protestante die dissiplines.
In die verlede is dissiplines soos vas, diens en gee verwar met goeie werke – die belang van eie verdienste. Dit lei tot die begrip van “goedkoop genade.” Wat ons nodig het, is ‘n teologie van die dissiplines vir die geestelike lewe – ‘n fondament en prakties werkbare teologie. Ons moet verstaan hoekom die dissiplines ‘n integrale deel uitmaak van ‘n betekenisvolle lewe in Christus. Ons moet die noodsaaklike deel wat hulle in die doeltreffende verkondiging van die evangelie en die waarheid van die lewe in die koninkryk van God speel, verstaan.
Ons is bang vir “teologie” – dikwels met reg, maar dit is deel van ons lewens. Teologie moet in diens van die gewone lewens van gewone mense staan. Dan sal dit ‘n baie positiewe impak hê. Elke Christen moet dinge oor God glo wat die werklikhede en ondervindings van sy lewe getrou weerspieël. Elkeen moet weet hoe om doeltreffend voor Hom in hierdie wêreld te leef.
Uitgangspunt: Volle deelname aan die lewe in God se koninkryk en gemeenskap met Christus kom na ons gewoonlik net deur die toepaslike beoefening van die geestelike dissiplines.
Is alles waarvan ons praat geestelik of speel ons liggame ook ‘n rol? Hierna kyk ons volgende keer.