Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42)
Die tweede gesprek: die nuwe godsdiens (4:1-42) – Francois Malan
Die kontraste in hoofstukke 2 en 3 word uitgebrei in hierdie gesprek:
Met die water-in-wyn-teken by Kana stel die wyn die gawe voor van Jesus se koninkryk teenoor die Joodse reinigingswater van die klipkanne (2:1-11), so simboliseer die lewende water wat Jesus aan die vrou aanbied die lewe en verlossing van die koninkryk, teenoor die water van Jakob se put uit die ou verbond (4:5-15). Die reiniging van die tempel lei tot die afbreek van Jesus se liggaam en sy opbou van die ‘nuwe tempel’ met sy offer aan die kruis as toegang tot God (2:13-21) – so word die ou aanbidding in Jerusalem en Gerisim vervang met die aanbidding deur die Gees en Jesus as die Waarheid (4:19-26).
Jesus se optrede word verplaas van die Jode in Judea (hfs 3) na die Samaritane, ‘n volk buite die Jodedom
Hoofstuk 4 neem ons van ‘n gesprek in die nag met ‘n toegewyde godsdienstige man, Nikodemus (3:1-15) na ‘n gesprek in die middel van die dag met ‘n sondige vrou (4:7-26); altwee die gesprekke gaan oor ‘water’ en ‘Gees’; aan Nikodemus word die geboorte tot ‘n nuwe lewe verkondig, aan die vrou word die nuwe lewe en nuwe godsdiens verduidelik. Die hoofstuk bring ‘n nuwe dimensie, van die uitbreiding van die koninkryk van God na ander volke.
4:1 Die Fariseërs, wat die wet nougeset wil uitlewe en waak teen godsdienstige afwykings, wil Jesus ook kom ondersoek, soos vir Johannes die Doper (1:19-25). Hulle hoor dat Jesus meer dissipels maak en doop as Johannes – nog meer mense wat afdwaal van die tradisionele leermeesters, die Fariseërs.
4:2 Die Evangelie maak ‘n korreksie op 3:22,26. Jesus aanvaar die doop as seël op die besluit om sy dissipel te word, maar laat sy dissipels die doop met water bedien soos Johannes, om Jesus aan Israel bekend te stel (1:31). Jesus doop met die Heilige Gees (1:33).
4:3,4 Toe Jesus hoor van die Fariseërs se vyandskap teen Hom, verlaat Hy Judea – sy tyd het nog nie gekom nie (13:1; vgl. ook 11:8,16). Hy gaan sy bediening in Galilea voortsit – waar minder vername Jode gebly het. Maar Hy gaan met die kortpad deur Samaria omdat Hy moet – gewoonlik ‘n aanduiding dat God dit so bepaal. In Samaria moet Jesus ‘n opdrag van God gaan vervul; die koninkryk van God is vir alle mense van alle volke bedoel. Jode wat haastig was, het deur Samaria na Galilea gestap op ‘n drie dae tog. Maar indien hulle nie haastig was nie, het hulle Samaria vermy en oorkant die Jordaan deur Perea na Galilea gegaan, soos gewoonlik met die feestye. Herodes Antipas het oor beide Galilea en Perea regeer. Die vyandskap tussen die Jode en Samaritane gaan vér terug na die jaar 536 v.C. toe die Jode uit die ballingskap in Babel teruggekom het en die tempel begin herbou het. Toe het hulle geweier dat die Samaritane saam met hulle aan die tempel bou (Esra 4:2) en die Samaritane het die Jode by die koning aangekla om die bou te verhinder (Esra 4:10,11). Die Samaritane het die diens van die Here met dié van ander gode vermeng sedert 720 v.C. (2 Kon 17:33,34).
4:5,6 Sigar lê naby die stuk grond wat Jakob aan Josef gegee het (Gen 48:22). Die ‘fontein van Jakob’ is ‘n diep put, wat deur onderaardse water gevoed word. Jakob het die put blykbaar gegrawe nadat hy die stuk grond van die Sigemiete gekoop het (Gen 33:18,19). Die gebied is geleë in die dal tussen die berge Ebal en Gerisim.
Jesus is moeg na die dag se reis en gaan sit by die fontein. Dit was ongeveer die sesde uur, waarskynlik na aan 12 uur die middag.
4:7-9 Die antipatie tussen die Jode en Samaritane is reeds eeue oud. Die Jode het die Sanaritane as ‘n gemengde volk met ‘n gemengde godsdiens afgemaak, sedert die koning van Assirië in die 6e eeu v.C. mense uit verskillende volke in Samaria tussen die agtergeblewene Israeliete gevestig het, en vir hulle ‘n priester uit die ballinge gestuur het om hulle die regte verering van die God van die land te leer, nadat die leeus onder die bevolking gemaai het (2 Konings 17:24-41).
Toe die Jode ná die ballingskap die tempel begin bou, wou die Samaritane saam met hulle bou (Esra 4:1,2). Toe die Jode weier, het hulle die bouery gesaboteer (Esra 4:3-6, 23). Vgl ook hulle teenstand teen die bou van die muur in Nehemia se tyd (Neh.6).
Die vrou sê vir Jesus: ‘die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie’ (letterlik die Jode gebruik nie saam met die Samaritane ‘eetgerei/bekers’ nie, want hulle beskou dit as onrein), en hier vra ‘n Jood vir haar water om te drink (uit haar skepding). Jesus doen dit om ‘n gesprek met hierdie vrou aan te knoop, en ignoreer die Joodse gebruike. Hy deurbreek ‘n eeu-oue vyandskap deur Hom van die vrou afhanklik te stel. Omdat Jesus die rasse-geskeidenheid deurbreek, word Hy deur die Jode vir ‘n Samaritaan uitgeskel (8:45). Johannes plaas die gebeurtenis ook aan die begin van sy Evangelie om die Woord van God se menswording ()1:1-3,14) en sy boodskap bekend te stel en te verduidelik.
Skrywer: Prof Francois Malan