Die derde teken: genesing van ‘n sieke (5:1-18)
Die derde teken: genesing van ‘n sieke (5:1-18) – Francois Malan
5:1 Hoe lank Jesus in Galilea gewerk het, word nie aangedui nie. Jesus gaan op na Jerusalem, waar daar baie mense by die fees teenwoordig sou wees – en van nou af begin Jesus tussen skares rondbeweeg.
5:2 Die Skaappoort is in Nehemia se tyd na die ballingskap herbou (Neh.3:1,32; 12:39). Betesda (huis van barmhartigheid) het Noord van die Skaappoort gelê, en was in Jesus se tyd moontlik nog nie ommuur nie. Tans lê dit naby die Stefanuspoort. Daar was twee waterpoele waarin mense gebad het. Die opgrawings wys daar was twee pilaargange aan die kante van die twee poele en ‘n vyfde pilaargang wat dwarsoor die middel van die twee poele gestrek het.
5:3 Hier het ‘n groot getal gestremdes gelê. Volgens vers 7 het hulle gewag dat die waters in beweging kom.
[In die vyfde eeu n.C. word 5:3b,4 ingevoeg: ‘wat op die roering van die water gewag het. Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat eerste ingegaan het ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het.’ Dit kom nie in die oudste en beste tekste voor nie en weerspieël ‘n volksgeloof:]
5:5,6 Jesus kom na die lamme wat reeds 38 jaar lank siek is, en waarskynlik alle hoop op herstel verloor het. Daarom vra Jesus of hy gesond wil word.
5:7 Die man se hopeloosheid spreek uit sy klagte: Ek het niemand om my te help nie. Hy praat van die enkelinge wat met die roering van die water voor hom inspring (die poel kry blykbaar van tyd tot tyd water wat uit die Kedronspruit inloop wat die roering veroorsaak – soos tydens die opgrawings opgemerk is).
5:8,9a Met drie kort bevele genees Jesus die man: staan op, neem jou bed op, en loop. En dadelik was die mens genees. Hy gehoorsaam die bevel van die man wat hy van geen kant af ken nie: neem sy matras op en loop – nie soos hy verlang het deur iemand wat hom in die water inhelp nie, maar deur die woord van Jesus, die Woord van God wat mens geword het, die Skepper wat dié man se liggaam met sy woord herskep het.
Gesprek oor Jesus se sabbatswerk (5:9b-18)
5:9b,10 Die genesing vind op die sabbatdag plaas en die Jode sê vir die geneesde: ‘dit is sabbat, en dit is nie vir jou toegelaat om jou matras te dra nie.’ Die benaming ‘Jode’ word in Johannes gebruik vir Jesus se teenstanders, veral onder die leiers van die volk, en hier waarskynlik die Fariseërs wat hulle toewy aan die studie van die Wet-Profete-Geskrifte (die Joodse Tenach). In Num.15:32-36 is ‘n man wat op die sabbat hout bymekaargemaak het bv. in opdrag van die Here met klippe doodgegooi; in Neh.13:15-19 het Nehemia die poorte van die stad op die sabbat gesluit vir alle handel; in Jer.17:21-23 waarsku die Here dat mense met sabbatswerk hulle lewens op die spel plaas. En hier dra ‘n man sy bed op die sabbat.
5:11 Die man lê die skuld op die man wat hom genees het – die Man wat gekom het om ons skuld op Hom te neem.
5:12,13 Die geneesde weet nie eers wie dit was wat hom genees het nie, en kan hom nie tussen die skare sien nie, omdat Jesus Hom onttrek het weens die skare op die plek.
5:14 Die geneesde man gaan vier sy genesing op die sabbat in die tempel. Daar kry Jesus hom apart onder vier oë, en waarsku hom om nie voort te leef in sonde op pad na die ewige verdoemenis nie – dit beteken nie sy siekte was die gevolg van sonde nie (vgl. 9:2,3), maar dit is Jesus se persoonlike sielsorg aan die man, wat pas ‘n nuwe liggaamlike lewe gekry het, om sy lewe in die regte verhouding tot God te bring.
5:15 Die man weet nou wie hom genees het en getuig van Hom voor die Jode. Daarmee verdwyn die man uit die verhaal. Hy het die rol vervul om Jesus met die Jode te konfronteer, en nou begin die aanval op Jesus.
5:16 Die Jode vervolg Jesus, omdat Hy die dinge op ‘n sabbat doen. Die twee werkwoorde ‘vervolg’ en ‘doen’ in die onvoltooide tyd, dui op die Jode se voortgaande vervolging van Jesus, en van Jesus se voortgaande werkwyse op die sabbat.
5:17 Wat die woorde was waarmee die Jode vir Jesus aangeval het, word nie gesê nie, maar wel Jesus se antwoord daarop: ‘My Vader werk tot nou toe en Ek werk ook.’ Die Jode het geglo dat God op die sewende dag sy skeppingswerk voltooi het en op die sewende dag gerus het van al sy werk wat Hy gemaak het (Gen 2:2; sjabat beteken om op te hou werk, te rus). Daarna sou God voortgaan as Regter om regverdiges te seën en sondaars te oordeel. Jesus sê egter dat die sewende dag geen dag van ledigheid by God is nie, maar dat Hy voortgegaan het met die onderhouding van sy skepping. Die sabbat het die onderhoudingswerk van God nie onderbreek nie. Geen oomblik laat Hy sy skepping sonder sy sorg nie. Anders as die skeppingsdae wat ‘n begin en ‘n einde gehad het, het God se rusdag slegs ‘n begin gehad, en sal die einde van sy rusdag eers aanbreek wanneer die volheid van alles bereik is. God het alles deur die Seun geskep…en deur Hom bly alles in stand (1:3-4; Hebr.1:3). Daarom: werk die Seun ook in eenheid en gehoorsaamheid aan sy Vader en doen Hy goed op die sabbat deur lydendes te genees en te bevry. Jesus praat van ‘my Vader’ om die intieme band tussen Hom en die Vader aan te dui en dat Hy die Seun van God is.
5:18 Die Jode soek al meer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die sabbat ontheilig nie (letterlik: losgemaak, verbreek, beëindig nie), maar God ook sy eie Vader genoem en daardeur Homself gelyk aan God gestel. Die Jode interpreteer Jesus verkeerd. Hulle meen dat gelykheid aan God beteken dat Hy onafhanklik van God is, terwyl Jesus juis daarmee sy totale afhanklikheid van sy Vader uitdruk.
Skrywer: Prof Francois Malan