Jesaja 53 en Jesus
Jesaja 53 en Jesus – Francois Malan
Johan vra:
Jesaja 53 in die middel van die profeet se profesie dat God sy volk gaan red uit bannelingskap en dat die volk Hom moet vertrou, Hy sal sy belofte gestand doen, verwys hy na die Here se dienaar wat sal ly. Alles in die hoofstuk soos dit voorkom, verwys na Jesus – ook ander plekke soos Jes 42:1-4, Jes 7:14. Vraag is hoe moet mens dit verstaan? Jesaja die eerste een of die tweede een praat van die val van Babilon en alles wat daarmee gepaard gaan, maar hy profeteer ook toekomstige dinge, Jesus se swaar kry ens., wat ons nou weet het gebeur. Daar is nie ‘n kronologiese tydverloop nie, maar wat is die verband tussen die belofte van verlossing uit bannelingskap en die toekomstige belofte van verlossing. Sien hy dit soos ‘n klippie wat op die water gegooi word, hy tref hier en daar tref hy verder, weer en weer
Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
God openbaar Homself aan die mensdom in die Skrif. Dit geskied deur verskillende soorte geskrifte in die Bybel, ook in die profetiese geskrifte soos Jesaja, deurdat God sy woord en sy optrede deur mense vir sy volk en ander volke aan die profete openbaar. Die profeet ontvang, verkondig en skryf die woord van God vir sy eie tyd se mense. Maar nadat dit op skrif gestel is, dien dit ook as die woord van die Here vir opvolgende geslagte. God bedoel dit vir alle tye, en in die volheid van die tyd word sy verlossingsplan ten volle geopenbaar in Jesus Christus; vgl. Galasiërs 4:4 ‘…toe die tyd wat God daarvoor bepaal het aangebreek het (letterlik: in die volheid van die tyd) het Hy sy Seun gestuur…’
Die eerste wegvoering van Juda na Babel was in 597 v.C. en die tweede in 587 v.C. In 539 word Babel deur die Pers Kores ingeneem wat ‘n ander filosofie gehad het. Hy het die Jode laat teruggaan na hulle eie land om hulle god daar te aanbid en vir hom as hulle koning voorbidding te doen by hulle god. Jesaja 44:8 noem hom die gesalfde van die Here. Die eerste Joodse ballinge keer in 538 v.C. terug na Palestina onder leiding van Serubbabel, met die opdrag om hulle tempel te herbou (2 Kron. 36:22-23; Esra 1:1-4; Jesaja 44:28). Daar is met die bouwerk begin (Esra 3), maar die goewerneur van die provinsie en die buurvolke het beswaar gemaak, en meer as een keer die bouwerk probeer stop (Esra 5:3-4). Navraag oor die koning se toestemming tot die bou van die tempel is gedoen by die Persiese hof, by Kores se opvolger in 530 v.C, Darius die Meder. Voordat die offisiële goedkeuring ontvang is, verdwyn die naam van Serubbabel. Jesaja 53 suggereer dat hy geslaan en doodgemaak is deur die owerhede wat nie kon droom dat die koning toestemming sou gee om die bouwerk te hervat nie. In 518 v.C. gee die nuwe koning Darius opdrag dat die tempelbou moet voortgaan (Esra 6:1-13) en kom self in Jerusalem aan op pad na Egipte en verhoor die klag oor die dood van Serubbabel. Die Here se leiding aan Darius oor Serubbabel se lyding word in 53:11 aangekondig en Darius se onskuldigverklaring oor Serubbabel in 53:12. Die tempel word herbou van 520-515 v.C.
Deur die eeue wat op 518 v.C. gevolg het, is die Joodse volk telkens as die lydende kneg van die Here van Jesaja 53 gesien. Maar toe Jesus gekom het, is God se bedoeling met die woord ten volle gerealiseer. Die vroeë kerk het dit ook so gesien en meeste van die geskrifte van die Nuwe Testament getuig daarvan: vgl. die aanhalings van Jes.53:1 in Joh. 12:38 en Rom 10:16; Jes 53:4 in Mat 8:17 en 1 Petr 2:24; Jes 53:5 in 1 Petr. 2:24; Jes 53:6 in 1 Petr 2:25; Jes 53:7-8 in Hand.8:32-33; Jes 53:9 in 1 Petr 2:22; Jes 53:12 in 1 Petr 2:24; daarby is daar talryke sinspelings in die Nuwe Testament op Jes.53.
Die skrywer van Jesaja 53 het nie die toekomstige verlossing gesien soos ‘n klippie op die water nie, maar God het ‘n skrefie oopgemaak van sy verlossingsplan vir die wêreld. Wat vir die ballinge na 70 jaar se straf op hulle afgodsdiens onmoontlik gelyk het, het God deurgevoer deur ‘n koning met ‘n ander beleid as die Babiloniërs. God het Kores se siening gevorm om sy volk terug te stuur na die beloofde land soos deur sy profete voorspel is. En 500 jaar later is sy Seun in die beloofde land geslaan en doodgemaak as die offer van die sonde van al die gelowiges in die tyd van die Ou Testament en van almal wat in Jesus glo sedert sy menswording. Hy is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem (Joh 1:29) en van elkeen wat in Jesus glo, kinders van God maak (Joh 1:12). Daarmee word die woorde van Abraham aan Isak, wat die hout vir die offervuur gedra het, soos Jesus sy kruis, op ‘n besondere manier vervul: ‘My seun, God sal sy eie offerlam voorsien’ (Gen.21:6,8).
Dat die Seun van God vir die sonde van die wêreld gesterf het, is die toppunt van God se liefdesdiens aan die wêreld (Joh 3:16). Jesus se nuwe gebod aan sy getroue volgelinge is ook dat ons mekaar moet liefhê soos Hy ons liefhet (Joh 13:34), dat ons bereid sal wees om ons lewe vir mekaar af te lê (Joh 15:12-13), dat ons Hom ook sal volg in sy lyding (Mat 16:24-25). Paulus sê: ‘Aangesien ons deel het aan sy lyding, sal ons ook deel hê aan sy heerlikheid’ (Rom 8:17). So word ons ook deel van die lyding van die Kneg van die Here van Jesaja 53.
Skrywer: Prof Francois Malan