Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (9)
“The great God of the universe who heaped up the mountains, scooped out the oceans, and flung out the stars wants to have a relationship with you.” – Adrian Rogers
Die Geestelike Dissiplines: Hoe verander God lewens (9)
Dallas Willard, Professor aan die University of SouthernbCalifonia se School of Philosophy en leraar in die Southern Baptist Church, het ‘n belangrike boek geskryf: The Spirit of the Disciplines. [Hy is onlangs oorlede.] Ek gaan baie op hierdie boek staatmaak in hierdie reeks oor geestelike dissiplines.
Hoekom die negatiewe gesindheid teenoor die geestelike dissiplines by Christene vandag? Die probleem is dat ons dinge sien soos hulle moet wees en nie soos hulle is nie. Moderne Westerlinge glo dat almal die reg het om te doen wat hulle wil wanneer hulle wil; hulle kan geluk op alle moontlike maniere najaag; sukses beteken selftevredenheid en materiële welstand. Dit staan dan bekend as die “goeie lewe.”
Maar Jesus sê as Hy praat van die eise van dissipelskap dat ons afstand moet doen van ons gesinne – ja, selfs sy eie lewe (Lukas 14:26). Dit verstaan ons nie. Jesus se stelling dat hy wat sy lewe wil red dit moet verloor, maak geen sin nie. David Hume, bekende Skotse skrywer sê: Celibacy, fasting, penance, mortification, self-denial, humility, silence, solitude and the whole train of monkish virtues … serve to no manner of purpose. Hierdie vooroordele is selfs sterker vandag. Hoekom? Omdat Protestante enige siening dat Christelike verlossing dissiplines in hulle geestelike lewe nodig het, verwerp het. Die Westerse wêreld as geheel is bevooroordeeld teenoor enige dissiplines as deel van ons godsdienslewe.
Hoekom? Ons glo dat die fundamentele beginsel van Protestante is dat verlossing die gevolg is van versoening deur geloof en nie deur werke nie. Die feit dat selfonthouding – die dissiplinering van ons natuurlike begeertes – ‘n sentrale leerstuk in die Nuwe Testament is, word gerieflikheidshalwe geïgnoreer. Die gevolg is ‘n feitlik universele onvermoë om te verstaan wat die dissiplines vir ons geestelike lewens is. Die gedeeltes wat oor selfonthouding gaan, word geïgnoreer of vergeestelik. Die gevolg is dat meeste mense verbaas is as hulle hoor dat hierdie dissiplines vir hulle lewe relevant mag wees.
As ons na Jesus kyk is daar ‘n belangrike punt wat ons nie moet ignoreer nie; die aktiwiteite wat met die dissiplines verband hou, het geen waarde in hulleself nie. Die doel van die geestelike lewe is nie vas, gebed, sing van liedere, ens nie. Inteendeel, dit is die volle vreugde om God en ons medemense se liefde aktief te ondervind in ons daaglikse lewe – ons normale bestaan daar waar ons geplaas is. Mense wat dink dat hulle geestelik meerderwaardig is, want hulle beoefen dikwels ‘n dissipline soos vas of afsondering verstaan nie. Die noodsaaklikheid om dikwels ‘n dissipline te beoefen is nie ‘n teken van krag nie, maar van swakheid. As ‘n sekere dissipline vir ons maklik is om te beoefen, het ons dit waarskynlik nie so baie nodig nie. Die dissiplines waarin ons nie “goed” is en nie geniet nie, is waarskynlik die dissiplines wat ons moet beoefen.