Jesus is die brood van die lewe (6:34-40)
Jesus is die brood van die lewe (6:34-40) – Francois Malan
6:34 Soos deur Nikodemus en die Samaritaanse vrou, word Jesus misverstaan deur die ongeloof van die Jode. Hulle dink net aan letterlike brood, wat hulle beleefd (meneer) vir altyd vra. Soos die Samaritaanse vrou wil hulle vir altyd versorg wees (4:15).
Die hele Johannes-Evangelie is vol metafore – beeldspraak om geestelike waarhede plasties aanskoulik uit te druk, veral oor God as ons Vader, Jesus as die Seun van God/Seun van die mens, en die Heilige Gees as skeppingswind/lewensasem (3:8).
6:35 Jesus verduidelik die brood-metafoor: ‘Ek, Ek is die brood van die lewe.’ Die ‘Ek is’ van Eks 3:14 word vir die eerste van sewe maal aan ‘n metafoor verbind: Ek is die brood van die lewe (6:34,41,48,51; die lig vir die wêreld (8:12); die deur (10:7,9); die goeie herder (10:11,14); die opstanding en die lewe (11:25); die weg, die waarheid en die lewe (14:6); die ware wingerdstok (15:1,5). Elkeen van die gevalle openbaar ‘n belangrike aspek van Jesus se persoon en dienswerk, met die ondertoon van die bekendstelling van Hom as God: Ek is wat Ek is.
Soos daaglikse brood lewe onderhou, gee hierdie Brood lewe en onderhou die ewige lewe wat nou reeds begin vir dié persoon wat na Jesus toe kom – na Hom jou toevlug neem; wat in Jesus glo – ‘n sinoniem vir ‘na Hom toe kom.’ Brood verbeeld die nouste verbintenis aan Jesus self as jou Here aan wie jy in vertroue die seggenskap oor jou lewe gee.
So iemand sal nooit weer (baie sterk gestel) ‘honger’ of ‘dors’ word nie – twee metafore vir
geestelike nood . Hy sal ten volle versadig wees, want hy het in homself die ewige lewe (vgl. Jn 17:13;21-26) deur die Heilige Gees in ons kom woon (Joh 7:38-39).
6:36 Hulle het ‘gesien’ en tog nie ‘geglo’ nie – by die vermeerdering van die brood het hulle die brood gesien, daarvan geëet, en steeds nóg brood gesoek, maar hulleself nie aan Jesus oorgegee as hulle Here nie, Hom nie as God herken of geglo nie. Jesus wys die Jode in Galilea op hulle sonde deur te weier om in Hom te glo, soos Hy die Jode in Judea op hulle sonde gewys het deur nie na Hom toe te kom om die lewe te kry nie (5:40).
6:37 Terwyl die ongelowige self die skuld dra vir sy ongeloof, gee die Vader geloof aan dié mense wat wel na Jesus toe kom. In 16:8-10 verduidelik Jesus dat die Heilige Gees mense sal oortuig van (i) sonde (ongeloof in Jesus), (ii) geregtigheid (dat Jesus die verhouding met God regmaak) en (iii) oordeel (oor ewige lewe of ewige dood). Die woord vir ‘oortuig’ het ook die betekenis van aankla of veroordeel. Vir die gelowiges oortuig Hy; die ongelowiges kla Hy aan. Die mens wat tot geloof in Jesus kom kan die Vader net loof en dank vir sy genade, dat Hy sy/haar oë oopgemaak het om homself/haarself in geloof aan Jesus oor te gee.
Jesus se blye versekering is dat Hy nooit iemand wat na Hom toe kom sal verwerp (letterlik: uitwerp buitentoe) nie – al is sy geloof so swak en sy ‘kom na Jesus’ ‘n struikelgang (vgl. die pa se pleitroep om hulp met sy ongeloof in Mark 9:24).
6:38-39 Die rede waarom Jesus niemand wat na Hom toe kom, sal verwerp nie, is dat Hy die wil van sy Vader kom doen. Tussen Hom en die Vader is daar volkome ooreenstemming. In hierdie hoofstuk word sewe maal verwys na die koms van die Seun van die hemel na die aarde (vv 33,38,41,42,50,51,58). Daarmee word sy bereidheid om die hemelse heerlikheid te verlaat om op aarde redding vir die mense te bewerk besonderlik beklemtoon.
Die doel van Jesus se menswording (1:14) is dat Hy nie een sal verloor wat die Vader Hom gegee het nie, en dat hulle almal op die laaste dag opgewek word uit die dood. Die behoud van die gelowige is nie van sy swak geloof afhanklik nie, maar is gegrond op die wil van die Vader en die bewaring deur die Seun. Sy bewaring loop uit op die lewe by God.
6:40 Die aandeel van die Vader in die redding van die mens word vir die derde maal aangedui: elkeen wat die Vader vir My gee (v37), dit is die wil van Hom wat My gestuur het…almal wat Hy My gegee het (v39). Hier in v40 is dit: want dit die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun ‘sien’ en in Hom glo, die ewige lewe sal hê.,Agter elke gelowige staan die wil en besluit van die Vader. Dit is die sekerheid wat elke gelowige kan hê.
Die ‘sien’ sluit hier meer in as blote kyk na Hom. Dit is die Vader wat die mens se geestelike oë oopmaak, sodat hulle Jesus waarlik as die Seun van God kan sien. Van die gelowige sê Jesus met klem op ‘Ek’: ‘Ék sal hom op die laaste dag opwek.’ Daarmee verklaar Hy ondubbelsinnig dat Hy en die Vader een is, want dit is slegs God wat kan dood maak en lewe gee (Deutr. 32:39; 1 Sam.2:6).
Skrywer: Prof Francois Malan