Strome van lewende water (7:37-39)
Strome van lewende water (7:37-39) – Francois Malan
Die loofhuttefees, wat die uittog uit Egipte herdenk, het sewe dae geduur (Lev 23:33-36; Num 29:35 sit egter ‘n agtste dag daarby). Elke môre met sonop het ‘n priester ‘n goue liter-kan vol water geskep uit die Siloambad, waar die water uit die rotstonnel vanaf die Gihonfontein gestroom het. Dit was ter herdenking van die water uit die rots tydens die uittog uit Egipte (Eks.17:1-6; 1 Kor 10:4). Dit het ook vooruitgesien het die koms van die koninkryk van God wanneer water geskep sal word uit die fonteine van redding (Jes.12:3; Eseg. 47:1-12; Sag.14:8).
Die priesteroptog van Siloam na die tempel met koorsang en danse is by die tempel se waterpoort begroet met drie vreugdevolle aankondigings deur ‘n trompet (sjofar; vgl. Jes 12:3). Die priesters het om die altaar gestap terwyl die tempelkoor die Hallelujas (Pss 113-118) vir die Here voor die feesgangers gesing het. Met die lees van Ps 118:1 skreeu elke man en seun dit drie maal uit, terwyl hulle die lulab met die regterhand skud (‘n bossie wilger- en mirte-takkies met palmblare vasgebind (Ps 118:27), en ‘n lemoen met die linkerhand omhoog gehou. Na die lees van Ps 118:25 word dit weer drie maal geskud en geskreeu: ‘Red tog Here, gee tog voorspoed, Here!’ Op die sewende dag is sewe maal om die altaar gestap en die lulab geskud. Die loofhutte was ook die oesfees ná die vrugte-oes, om te bid vir goeie reën tydens die volgende seisoen (Sag.14:16-19). Wyn in een silwer beker en die water in ‘n tweede gegooi en aan die Here geoffer op die brandofferaltaar. Daarna roep die feesgangers: ‘Lig op u hand!’ en die priester lig sy hand op as teken dat die verrigtinge afgesluit is. Die hele seremonie herinner die feesgangers aan God se verlossing en sorg in die verlede (uittog), hede (oes) en toekoms (koms van die koningskap van God).
7:37 Op die laaste dag, die groot dag van die huttefees het Jesus in die tempelarea gestaan en ten aanhore van almal gesê: ‘As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!’ (vgl. Jn 4:13,14; 6:35; Jesaja 55:1; Mat 11:28; Openb 22:17). Die woord ‘dors’ het betrekking op die geestelike nood van die sondaar, wat deur die Heilige Gees se inwerking bewus geword het van sy ellende, en verlang na redding. Hulle word uitgenooi om hulle geestelike dors by Jesus te les as die enigste weg van verlossing
7:38 Daar is twee vertaalmoontlikhede vir die eerste woorde ‘wie in My glo’: (i) dat dit die nuwe vers inlei, soos in ons vertaling, en na die aanhaling uit die Ou Testament verwys. (ii) dat dit nog deel is van vers 37 wat dan so lui:
As iemand dors is, laat Hom na My toe kom; en laat hom wat in My glo drink.
Dan is dit nog deel van Jesus se uitnodiging, met Christus as die enigste bron van lewende water vir elkeen wat glo – die een wat dors is, is dan die gelowige wat oortuig is dat Jesus sy dors kan les, soos in 6:35; Vers 38 begin dan met ‘Soos die Skrif sê…’ Die betekenis van die twee moontlikhede bly egter dieselfde, naamlik God se verlossing in die verlede (Jes 55), hede (nou met Jesus), en in die toekoms (op die oordeelsdag).
Daar is nie ‘n spesifieke teks in die Ou Testament wat na ‘strome van lewende water’ verwys nie. Maar ‘water’ verwys in verskillende uitsprake na die Heilige Gees (Jes.44:3; Jes 58:11; Eseg 47:1-12; Joël 2:28; 3:18; Sag 13:1; 14:8).
Die een wat glo, word ‘n kanaal waardeur lewende water, wat Jesus gee, na ander toe vloei.
7:39 Die Evangelis verduidelik (nadat die Heilige Gees reeds uitgestort was toe hy geskryf het) dat ‘lewende water’ ‘n beeld is van die Gees van God wat die mense, wat tot geloof in Jesus gekom het, sou ontvang het. Dit is die Gees wat ‘n mens steeds oortuig, sodat hy deurgaans gelei word om in Jesus te glo. Hoewel die Gees van God deur die eeue werksaam was in die wêreld en onder mense, was dit konings en priesters en profete wat gesalf is as teken van die leiding van die Gees in hulle. Maar sy werk het nog nie ten volle tot openbaring gekom solank as wat die werk van God in Christus nog nie volbring was nie. Terwyl Jesus, self God, by die mense was, het Hy mense probeer oortuig. Maar na Jesus se ‘verheerliking’ – dit sluit in sy verhoging aan die kruis vir ons sonde, sy opstanding uit die dood vir ons oorwinning oor die sonde, en sy verhoging tot die regterhand van die Vader as ons voorspraak en om te regeer as die Here oor die wêreld en sy kerk – het Hy die Vader gevra om die Gees te stuur om ewig by en in sy volgelinge te wees (14:15-17).
Jesus kom die loofhuttefees se wyn- en wateroffer vervang met sy bloedoffer en die uitstorting van die Heilige Gees op elkeen wat deur die Woord van God en die werking van die Gees uit die slawehuis van sonde uitgelei word in die ewige lewe by God.
Skrywer: Francois Malan