Jesus en gebed
Pride gets no pleasure of having something, only having more of it than the next man – C. S. Lewis
Jesus en gebed
Jesus het dikwels gebid. Volgens Leonard Sweet en Frank Viola (Jesus – A Theography) staan Jesus se gebede in skrille kontras met die praktyke van destyds.
- Daar is op spesifieke tye van die dag gebid: 09:00, 12:00, en 15:00. Jesus het veral soggens vroeg en saans gebid.
- Die vrome Jode het gestaan as hulle gebid het – gewoonlik het hulle nie gekniel of gebuig nie.
- Die gebede was selde spontaan. Die vroom Jode het versamelings van gebede opgesê.
- Gebede is so gereël – tyd en plek – dat die bidder duidelik gesien en gehoor kan word. Hulle bid lang gebede in openbare plekke.
Jesus verbreek hierdie rigiede patroon. Hy moedig mense aan om na hulle kamer te gaan, die deur toe te maak en daar te bid. Hy waarsku: Moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed van woorde gebruik nie – Hy beveel kort, eenvoudige gebede aan. Jy kan die Ons Vader-gebed in een of twee minute bid. ‘n Baie goeie voorbeeld is Elia se gebed op Karmelberg (1 Konings 18). Die Baälprofete roep van die môre tot die middag, maar Baäl reageer nie – niks gebeur nie. Toe kom Elia na vore en bid twee sinne en die Here verhoor sy gebed.
Daar is egter een aspek van Jesus se gebedslewe wat ons nie moet miskyk nie: Hy was in voortdurende gemeenskap met sy Vader – elke minuut van die dag. Natuurlik moet ons gereelde tye en plekke hê om te bid, maar ons moenie vergeet dat ons enige tyd op enige plek met ons Vader in die hemel mag praat.