Die waarheid maak vry (8:30-40)
Die waarheid maak vry (8:30-40) – Francois Malan
8:30 Baie van die mense, wat geluister het hoe Jesus die Jode op verskillende maniere probeer oortuig het van sy verhouding met die Vader, het begin om in Hom te glo. Hy is self die inhoud van sy prediking. Dit gaan om vertroue in Hom, dat Hy deur God gestuur is, dat wat Hy sê die waarheid en die regte lewenspad is, en dat jy jou lewe aan Hom oorgee as jou Here en Leidsman, as jou God vir wie jy lewe. Hy is die ware openbaring van God wat met genade en waarheid na die wêreld gekom het (Jn 1:14,17).
8:31 Hulle het begin glo, maar nou kom die vermaning: hulle moet bly in sy woord, voortlewe in sy woord. Dit is die hoofsaak vir die gelowige, en ‘n kenteken van ‘n ware gelowige: ‘n vasberadenheid om te lewe volgens die woord van Jesus deur getrou daarna te luister (en te lees), dit te oordink en daarvolgens op te tree. Dit word in 15:7 beskryf: As julle in my bly, en my woorde in julle – ‘n lewe te lei wat in Christus bly, wat moontlik is met Christus in ons. Dit vra ‘n voortgaande innige persoonlike gemeenskap met Jesus, soos die dissipels wat saam met Hom gewandel het.
8:32 Die lewensproses, om daagliks in geloof en vertroue saam met Jesus te wandel, beteken om die waarheid te leer ken en te begryp, naamlik die openbaring van God aan ons deur Christus se lewe en woorde (vgl. 8:28 dan sal julle weet ‘Ek is’) en die verlossing wat Hy bring. Dit beteken om te lewe en te werk onder die verlossende heerskappy van God, ‘n Eksodus-uittog uit die slawerny van sonde vir die nuwe volk van God uit alle nasies, in ‘n nuwe lewe met die inwoning van die Heilige Gees, sodat strome lewende water uit ons binneste sal vloei na ander (7:38). Dit is waarvoor die waarheid ons sal vrymaak (‘n nuwe en onverwagte woord vir die Jode). In die gestalte van Jesus omvat God se waarheid die openbaring van sy liefde vir die wêreld, vir die mensdom met sy wetenskap, filosofie en eindbestemming (1:14,17). In sy persoon is Jesus dié waarheid (14:6).
8:33 Die Jode se antwoord toon weer ‘n dubbele misverstand – oor wat waarheid is (bespreek in 18:34-36), en wat dit beteken om ‘n kind van Abraham te wees (bespreek in 18:37-40). Was kinders van Abraham nog nooit iemand se slawe nie? – 400 jaar in Egipte? 70 jaar in Babel, en nou onder die Romeinse regering? Die Jode spog: ons is die saad (nageslag) van Abraham! Die rabbi’s het verkondig dat besnedenes, as kinders van God se verbond met Abraham, nie afgaan in Gehenna nie, want die verdienstes van Abraham bedek al hulle oortredings van die wet. Hulle reken dat hulle God se wet en al sy beloftes het, en daarom nog nooit innerlik onder vreemde jukke gebuig nie. Daarom beskou hulle hulself as vry. In die vorige hoofstukke is telkens na Moses verwys. In hoofstuk 8 word teruggegryp tot by Abraham.
8:34 Met: voorwaar! voorwaar! verduidelik Jesus wat Hy met bevryding bedoel (18:32). Sonde is ‘n innerlike slawerny wat Abraham se nageslag nie vryspring nie, en waarvan Abraham se verdienstes nie bevry nie. Iemand wat sonde doen is ‘n slaaf van ‘n mag wat sterker is as enige mag waaroor ‘n mens beskik. Die feit dat jy sonde doen wys dat jy reeds ‘n slaaf is wat nie daarvoor kon nee sê nie. Die wortels van sonde-slawerny is ‘n verkeerde verhouding met God, en so ‘n slaaf het ‘n Verlosser nodig (18:31-32).
8:35 ‘n Slaaf kan enige tyd deur sy heer verkoop word. ‘n Seun van die eienaar bly altyd sy kind met erfregte. Iemand wat sonde doen is soos ‘n slaaf in die huis sonder enige regte. Die Griekse uitdrukking wat hier vertaal is met ‘altyd’ kan ook vertaal word as ‘vir ewig’ wat in 18:36 verder uitgewerk word.
8:36 Jesus, die ewige Seun van God, bied aan die slawe van sonde ‘n nuwe verhouding tot God aan, en ‘n ewige aandeel in die erfenis in die Vader se huis. Slawe wat bevry is om as ‘n kind van God te lewe, weet wat ware vryheid is, vry van die mag van sonde.
8:37 Biologies gesien is hulle die saad/nageslag van Abraham: ‘Ek weet’, maar iets is drasties verkeerd. Dit is nie die gees van Abraham wat hulle besiel nie; uiterlik is hulle besnede Jode, maar in hulle wese het hulle niks van Abraham in hulle nie (18:40; vgl. Johannes die Doper se woord in Mat.3:9). Die openbaring van God, wat die mensgeworde Woord van God vir hulle bring, kan geen plek onder of in hulle vind nie. Daarom het hulle sy doodsvyande geword. Abraham het die woord van God geglo en weggetrek sonder om te weet waarheen die Here hom lei. As hulle vir Jesus, ‘die Woord van God’ wil doodmaak, verloën hulle hulle kindskap van die gelowige Abraham.
8:38 Hulle optrede verskil lynreg van Abraham se optrede. Dit blyk dat ‘n ander vader by hulle ‘n rol speel. Jesus luister gehoorsaam, en sê en doen net wat sy Vader vir Hom sê (8:26,28,29). Hy openbaar aan die wêreld hoe God waarlik is en wat van God se kinders verwag word (5:17). Die Jode volg hulle vader – Jesus spel nie uit wie die vader van die Jode is nie – en hulle doen wat hulle vader sê.
8:39 Die Jode herhaal hulle aanspraak: Abraham is ons vader! Jesus ontken dit deur onderskeid te maak tussen die ‘saad/nageslag’ van Abraham wat biologies afstam van Abraham (8:33,37) en ‘kinders’ van Abraham wat soos Abraham lewe in geloof en vertroue op God en sy woord (vgl. Rom 2:28-29; 9:6-8; Jer.9:25,26; en Mat.3:9) . Uit die Jode se dade blyk dit dat hulle nie ‘kinders’ van Abraham is nie, in ‘n dieper en omvattender sin as slegs natuurlike afstamming.
8:40 Hulle strewe om ‘n mens dood te maak wat vir hulle die waarheid vertel wat Hy self by God gehoor het, staan lynreg teenoor Abraham se lewe wat gekenmerk was deur geloof en gehoorsaamheid bloot aan God se woord (Gen 12:1-4; 22:15-18). Jesus is God se woord (1:1); God het eintlik deur Jesus met Abraham gepraat, en Abraham het Hom geglo. En hier soek die saad/nageslag van Abraham om Hom dood te maak.
Skrywer: Prof Francois Malan