Ondervraging van die ouers (9:18-23)

image_pdfimage_print

Ondervraging van die ouers (9:18-23) – Francois Malan

9:18,19 Die Fariseërs, wat die leiding geneem het in die ondersoek, word nou ‘die Jode’ genoem. Dit is Johannes se term vir die groep onder die volk wat vyandiggesind was teen Jesus, teenoor die term ‘Israel’ wat die gelowige groep aandui (bv. 12:13). Die Jode probeer uit hulle verleentheid kom deur te ondersoek of die man werklik blind gebore was. Indien nie, het daar nie ‘n wonderwerk gebeur nie. Die man se identiteit, waaroor  daar selfs by die bure twyfel bestaan het (v9), moet vasgestel word, want hulle betwyfel dit ook, en wil nie aanvaar dat ‘n wonder plaasgevind het nie. Die ouers word opgeroep en twee vrae aan hulle gestel: (i) is dit julle seun van wie julle sê dat hy blindgebore is; (ii) hoe sien hy dan nou? Met die eerste vraag bevraagteken hulle die ouers se woord, en met die tweede die wonder.

9:20-21 Die ouers bevestig die eerste vraag: ons weet dat hy ons seun is en dat hy blind gebore is! Maar hoe dit gebeur het weet hulle nie, en wie dit gedoen het weet hulle ook nie. Hulle verwys die vraag terug na die man self, want hy is al volwasse en verantwoordelik voor die wet. Daarby sal hy oor homself (of ‘vir homself’) praat. Blykbaar was hy ‘n man wat sy woord goed kon doen. Versigtigheid en gevatheid is dikwels kompensasie by gestremdes, en was skynbaar ‘n eienskap van dié blinde.

 

9:22-23 Die Joodse Raad het blykbaar reeds besluit dat iemand wat openlik verklaar dat Jesus die Christus (die verwagte Messias) is, word uitgesluit uit die sinagoge (die woord aposunagogos ‘uitgesluit uit die sinagoge’ word nog net in Joh 12:42, 16:2 gebruik en nêrens elders in die Griekse literatuur nie). Dit sou behels dat sy lidmaatskap van die sinagoge gekanselleer word en hy nie meer toegelaat word in die sinagoge nie. Ook vir sy verhouding met sy volksgenote sal dit ‘n belemmering beteken. Dit is dan die rede agter die ouers se vrees om hulle mening te gee oor Jesus en hoe hulle blindgebore seun nou kan sien. Hulle plaas die volle verantwoordelikheid op hom.

 

Verdere ondervraging van die blindgeborene (9:24-29)

9:24 Die Jode se ondersoek van die ouers het slegs bevestig dat die man blind gebore is en nou kan sien. Die leiers roep die man weer op. Hulle begin nie met ‘n vraag nie, maar gee ‘n opdrag op grond van hulle oortuiging. Hulle, wat die wet ken, weet dat ‘hierdie man’ (neerhalend) hom nie by die wet hou nie, en daarom ‘n sondaar is. Sy kleimakery op die Sabbat bewys dat Hy ‘n oortreder van die wet is. Daarom weier hulle om te erken dat Jesus die genesing bewerk het, ‘n sondige daad  volgens hulle kennis van God en sy wet. Hulle opdrag: Gee die eer vir die genesing aan God! Alleen God kan ‘n blindgeborene laat sien (vgl. Ps 146:8), maar hulle weier om te glo dat Jesus God is (Joh 1:1)..

 

9:25 Beskeie maar vreesloos antwoord die man dat hy nie weet of Jesus ‘n sondaar is nie, maar van een ding is hy seker, dat hy blind was en nou kan sien. Sy persoonlike ondervinding van die genadewerk wat Jesus aan hom gedoen het, is iets wat God alleen kan doen, soos die leiers sê. So gee hy wel aan God die eer, maar nie soos die Jode dit wou hê nie.

    

9:26-27 Die man word weer ondervra, moontlik om te kyk of hy nie homself weerspreek nie. Maar die keer konsentreer hulle die vraag of die Sabbat met ‘werk’ oortree is: wat het Hy met jou gedoenhoe het Hy jou oë oopgemaak?  Die man vererg hom egter vir hulle herhaling van dieselfde vraag, en dat hulle nie geluister het na sy getuienis nie. Ironies spottend ondervra hy hulle oor hulle motiewe: julle wil tog nie ook sy (Jesus se) volgelinge word nie, wil julle? Die vraag suggereer ‘n negatiewe antwoord. Die vraag impliseer egter dat die blindgeborene hom as ‘n volgeling van Jesus begin sien; dat hy ‘n keuse vir Jesus gemaak het. 

 

9:28-29  Op die uitlokkende vraag van die blinde gooi ‘die Jode’  die skyn van ‘n regverdige onpartydige verhoor oor boord. Woedend skel hulle hom uit – die woord loidoreoo beteken dat hulle hom met die skerpste belediging uitgejou het: jy is ‘n dissipel/volgeling van ‘daardie een’! (die man wat hulle nie eers by sy naam wil noem nie – Jesus, die Griekse vertaling van Josua, beteken ‘die Here red/verlos’, vgl. Mat 1:21); ons is egter dissipels/volgelinge van Moses! ons weet dat God met Moses gepraat het (vgl. Eks 33:11)  – die vorm van die werkwoord ‘gepraat het’ impliseer dat die woorde van God tot Moses nou nog van krag is, o.a. die vierde gebod dat jy geen werk op die Sabbatdag mag doen  nie (Eks 20:10) – maar ‘daardie een’ (minagtende verwysing na Jesus), ons weet nie waar hy vandaan is nie – daarmee impliseer hulle dat hulle weet Hy kom nie van God af nie, maar erken tog hulle onsekerheid, hulle weet nie.

            Dit is die kern van die Jode se teenstand teen die Christendom: Moses en die wet word gestel teenoor Jesus en sy woord; die gesag van Moses, wat onaanvegbaar is; die gesag van Jesus is vals. Die lesers van Johannes ken egter die fout in die argument. Moses is nie Jesus se teenstander nie, maar  in sy wet is Moses getuie vir Jesus, en teen die Jode wat vir Jesus verwerp (Joh 5:45-47). Hulle teenstand teen Jesus kom uit hulle onkunde oor waar Hy vandaan kom – daarmee ontsê hulle Hom enige legitimiteit. Hy kom van God af om God aan die mense te openbaar. Daarom kom Hy met die gesag van God (7:14-17; 8:23-29; 3:31-34).  Maar die Jode is so vasgevang in hulle wettiese denke, dat hulle oë blind is vir die wonder van God wat plaasgevind het, wat juis bewys dat Jesus van God af kom , God se Gesant in hulle midde.

 

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...