Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg)
Jesus se gebed vir die eenheid van sy kerk (vervolg) – Francois Malan
17:22-23 Hierdie verse herhaal wat in 20-21 gesê is, om die belangrikheid van die eenheid tussen die gelowiges te onderstreep, effens van ‘n ander kant af beskryf: In 21 word die gelowiges een deurdat hulle deel kry aan die gemeenskap tussen die Vader en die Seun. In 23 word die gelowiges een deurdat Christus in hulle kom woon en die Vader in Hom is, met Jesus as Middelaar.
So word gelowiges ‘volkome-gemaaktes’ (teteleioomenoi) tot een liefdesgemeenskap. Jesus sê in Mat,5:44-48 dat ons volmaak moet wees, soos ons hemelse Vader volmaak is, deur ons vyande lief te hê. Die Heilige Gees kom maak ons volmaak in die liefde, wat ook insluit vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22-23).
In v21 word die vrug van die eenheid beskryf as ‘sodat die wêreld mag glo dat U My gestuur het.’ In v23 word ‘glo’ vervang met ‘weet’ (ginooskoo kan ook aandui: ‘leer’, ‘erken’ ‘begryp’). Geloof lei tot kennis, en kennis vermeerder die geloof. Hier word bygevoeg: ‘en hulle liefhet, soos U My liefhet’ – uit hulle onderlinge liefde sal die wêreld God se liefde vir sy kinders aflei, die liefde wat die Vader vir die Seun het, aan wie die Heilige Gees ons kom verbind (Rom.8:17 sê ons is erfgename saam met Christus, wat deel het aan sy lyding en sy heerlikheid).
Vers 22 praat van die heerlikheid wat die Vader aan Jesus gegee het, en wat Christus aan ons geskenk het sodat ons, soos Hy en die Vader, een mag wees. Hierdie Evangelie sien Jesus se verhoging aan die kruis as deel van sy heerlikheid (12:28,33), soos ook sy opstanding en hemelvaart. Die heerlikheid wat die gelowiges ontvang is die voorreg om lief te hê soos Jesus, wat Homself opgeoffer het vir sy vriende (15:13; vgl. Luk.9:23-24), en om deel te word van die ewige lewe saam met God, ‘n nuwe manier van lewe wat nou reeds begin, die lewe in liefde vir mekaar.
17:24 Die laaste verse is ‘n eggo van 17:1-5 oor die ewige heerlikheid van die Seun. Hier gaan dit daaroor dat die gelowiges sy heerlikheid mag sien (die woord theooreoo sluit ook in ‘om in te sien’ en ‘om te beleef’). God word weer as Vader aangespreek, die Vader in wie se huis Jesus ‘n plek vir sy volgelinge gaan gereedmaak (14:2). Hier bid Hy dat sy volgelinge ook by Hom sal wees in sy verheerlikte staat, wat 17:5 in die vooruitsig stel. Die woord ‘Ek wil graag hê’ (theloo, druk nie slegs sy begeerte uit nie, maar ook sy doel met sy volgelinge se lewe, en ook sy vreugde daaroor). ‘Hulle wat U My gegee het’, wys weer na dié mense wat God uit genade gekies het om altyd by Jesus te wees, ook in hulle lyding en swaarkry. Maar saam met die huidige insig in Jesus se heerlikheid aan die kruis, gaan die gebed tot in die ewigheid, waar Hy verhoog is en waar sy volgelinge ook by Hom gaan wees. Die liefde van die Vader vir die Seun is ewig, en dié mense wat aan die Seun verbind is, word deel van God se ewige liefde vir sy Seun. So kan hulle ook mekaar begin liefhê.
17:25-26 is die grond vir die bede in v24, en ‘n opsomming van die evangelie. Slegs hier word God ‘Regverdige Vader’ genoem, om sy regverdige oordeel oor die wêreld uit te druk. Die wêreld ken nie die Vader nie, want hulle het Jesus se openbaring van God nie aanvaar nie. Daarom sal hulle nie die heerlikheid van Jesus sien nie en bly die straf van God op hulle (3:36). Sy dissipels, ‘hulle hier,’ het egter in Hom geglo, en weet dat Hy deur die Vader gestuur is. Daarom val hulle nie onder die oordeel van die wêreld nie (3:36: hulle hét die ewige lewe). Jesus sal voortgaan om die Naam van die Vader (sy woord en sy wese) aan hulle bekend te maak deur die Heilige Gees, wat in hulle kom woon om Jesus se lewe, woorde en werke aan hulle te verduidelik (14:26; 16:12-15).
Dat die liefde, waarmee die Vader vir Jesus liefhet, in die dissipels sal wees, en Hy in hulle, wys op die volgende: (i) dit impliseer dat ons insig in die liefde van die Vader vir die Seun steeds sal toeneem (selfs die kruis getuig van die liefde van God vir die Seun, hoe teenstrydig dit ook al klink); (ii) dat ons begrip van die wonder dat daardie liefde ook deel word van die gelowiges, steeds sal toeneem; (iii) dat ons wederliefde vir die Vader sal toeneem as ‘n krag wat ons hele lewe bepaal, en wat ons gemeenskap met ons Vader en met ons medegelowiges sal laat ontwikkel. Dit spruit alles uit ons verhouding met die Seun, wat al hegter word met die liefde van die Vader vir die Seun in ons, en die Seun in ons, met sy liefde. Met die Heilige Gees wat in ons woon dring die liefde van God deur in ons hele wese (vgl. 2 Kor.3:18; 5:14-15).
So word Jesus se liefdesgebod van 13:34 al beter uitgeleef, en dit bereik sy vervulling wanneer ons na Hom toe gaan in die huis van sy Vader. So word die gebed in 17:24 ook ten diepste verklaar: die heerlikheid van Christus is die heerlikheid van God se liefde, wat deur sy eie mense aanskou sal word, en sal deurwerk om hulle te verander in draers van Christus se liefde. Dit is die einddoel van Jesus se koms na die wêreld. Hy is die Openbaarder van God, wat liefde is (1 Joh.4:8,16); Hy is die goddelike Verlosser van die wêreld, deur wie die liefde van God vir die Seun in ons lewe kom oorneem.
Skrywer: Prof Francois Malan