Saggeus en geld
A quiet disposition and a heart giving thanks at any given moment is the real test of the extent to which we love God at that moment –Francis Schaeffer
Saggeus en geld
Meeste van ons weet maar min van Saggeus, behalwe dat hy ‘n kort mannetjie was wat geweet het hoe om bome te klim. Maar sy verhaal is een van ‘n man wat maar vrekkerig was wat verander in ‘n baie vrygewige man. Hy leer vir ons drie kritiese waarhede oor geld.
- Geldprobleme is meestal die gevolg van geldaanbidding
Afgodery beskryf die gesindheid van ons hart – waarna dit smag, waarop dit vertrou en iets anders as God begeer. Saggeus het geld aanbid.
Hy was bereid om te steel en sy eie mense seer te maak, want hy het geld meer as enigiets anders liefgehad. Vir Saggeus om die hooftollenaar te word, wys dat geld ‘n greep op sy hart gehad het. Die liefde vir geld lei tot allerhande wangebruike – ek verneuk met my belasting, ek leen maar betaal nie terug nie, ek is onmiddellik jaloers as ek iemand sien wat iets het wat ek nie kan bekostig nie. Ek is allermins vrygewig.
- Net ‘n ondervinding met die evangelie verander die gesindheid van ons harte
Saggeus word nie vrygewig omdat Jesus hom beveel het om vrygewig te wees nie. Jesus se bevel aan Saggeus in die wildevyeboom was: Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan (Lukas 19:5). Saggeus sit nie deur ‘n preek oor vrygewigheid nie – hy aanvaar die genade van Jesus Christus. Saggeus het verdien om verwerp te word, maar Jesus gaan eet by sy huis. Ons moet ons verhaal in dié van Saggeus sien. Ons verdien om deur God verwerp te word, maar God nooi ons uit om na Hom te kom. As Saggeus in ‘n vrygewige man verander het hoeveel te meer moet ons nie, want ons weet wat Jesus vir ons gedoen het – ons ken die hele omvang van sy genade vir ons. Die enigste manier waarop ons vrekkerige harte sal verander is deur na die kruis te kyk. As dit gebeur sal ons vrygewig word – sonder ‘n opdrag.
- Die mense wat vra hoeveel moet ek gee? verstaan dit nie
Hoeveel moet Christene gee? Party mense soek wysheid; ander wil weet hoeveel genoeg is sodat hulle God van hulle rug kan afkry. Gee volgens die evangelie het niks met die wet te doen nie – dit gaan oor liefde. Dit gaan nie oor persentasies nie, maar oor ‘n persoon. Saggeus noem sekere syfers, maar nie omdat hy dit by Jesus gekry het nie, maar uit vreugde en as liefdesoffer vir God. God het nie ons geld nodig nie. Mense glo dat God soos die regering is – gedurig ‘n tekort en voortdurend op soek na meer fondse. Daarom sê Paulus dat God die blymoedige gewer lief het (2 Korintiërs 9:7).
As ons voel ons raak suinig is die antwoord nie om harder te probeer nie. Die antwoord is om terug te kyk na die kruis waar God oorvloedig vrygewig met ons was.