Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Jesus se gelykenisse (2)
Every saint has a past and every sinner a future. -Oscar Wilde, skrywer (1854-1900)
Die koninkryk van God in die Nuwe Testament: Jesus se gelykenisse (2)
Die koninkryk van God is ‘n baie algemene tema in die Bybel. Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om te probeer vasstel wat dit is en hoekom dit belangrik is. Ek gaan onder ander gebruik maak van The Kingdom of God: Christopher W. Morgan en Robert A. Peterson (reds) 2012.
Ons gaan voort om na Jesus se gelykenisse wat met die koninkryk te doen het, te kyk
- Die gelykenis van die amptenaar wat nie vergewe het nie (18:23 – 35)
Petrus probeer ‘n perk plaas om hoeveel keer jy diegene wat teenoor jou oortree het, moet vergewe. Hier plaas Jesus ‘n koninkryksbeginsel op die tafel. ‘n Amptenaar wat baie geskuld het, word deur die koning vergewe. Onmiddellik daarna gryp hy een van sy medeamptenare wat hom ‘n paar rand geskuld het, wurg hom en eis dat hy moet betaal.
Die eindresultaat is dat hierdie amptenaar wat nie sy medeamptenaar jammer gekry het nie, gemartel word tot hy al sy skuld betaal het. Jesus se toepassing moes vir Petrus geskud het: So sal my Vader wat in die hemel is, ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie. Die beginsel van die koninkryk is duidelik: ons moet ander vergewe soos God diegene wat toegang tot sy koninkryk het, vergewe het.
- Die gelykenis van die arbeiders in die wingerd (20:1 – 16)
Die eienaar van ‘n wingerd gaan op verskillende tye uit om arbeiders vir sy wingerd te huur. Hy betaal almal ‘n volle dagloon – selfs diegene wat heelwat later gehuur is. Jesus sê dit is soos dit met die koninkryk van die hemel gaan. Mag ek dan nie met my geld maak wat ek wil nie? Of is jy afgunstig omdat ek goed is (20:15). Die les: Goed doen met diegene wat aan Hom behoort wat Hy wil. God bepaal die vergoeding – nie verwagtings of gebruike van die mens nie. So sal die laastes eerste wees, en die eerstes laaste (20:16).
- Die gelykenis van die twee seuns (21:28 – 32)
Die priesterhoofde en familiehoofde bevraagteken Jesus se gesag. Jesus vra hulle ‘n vraag oor die doop van Johannes die Doper wat hulle nie antwoord nie. Intussen het die wêreld se “sondaars” hulle bekeer. Jesus se antwoord aan sy ondervraers was snydend: Toe sê Jesus vir hulle: “Dit verseker Ek julle: Tollenaars en prostitute gaan eerder as julle in die koninkryk van God in. Johannes het gekom om julle die regte pad te wys, en julle het hom nie geglo nie, maar tollenaars en prostitute het hom geglo. Maar selfs toe julle dit sien, het julle nie agterna berou gekry en hom geglo nie (21:31 – 32).
Om die koninkryk in te gaan, vra ‘n gewilligheid om weer te dink; om bevraagteken te word, bekering – om selfs weergebore te word. Dit vra geloof.
Die gelykenis van die boere en wingerd (21:33 – 45)
Hierdie gelykenis vestig die aandag op die Joodse hiërargie wat Jesus teengestaan het: Toe die priesterhoofde en Fariseërs Jesus se gelykenisse hoor, het hulle besef dat Hy op hulle sinspeel. Die eienaar plant ‘n wingerd; hy gaan op reis en verhuur die wingerd aan boere. As hy mense stuur om die huurgeld in te vorder, mishandel die boere hulle – hulle maak selfs die eienaar se seun dood. Jesus vra vir hulle: As die eienaar van die wingerd terugkom, wat sal hy met daardie boere doen? Hulle antwoord Hom dat die eienaar die boere ‘n vreeslike dood sal laat sterwe en die wingerd aan ander boere sal gee. Hiermee veroordeel sy luisteraars hulleself. Jesus reageer: Daarom sê Ek vir julle dat die koninkryk van God van julle weggeneem sal word en aan ‘n volk gegee sal word wat die vrugte daarvan sal lewer.
In terme van die koninkryk kan ons uit hierdie gelykenis ‘n paar dinge aflei: Die Seun staan sentraal as ons die koninkryk wil ingaan; God se koninkrykseën berus op die vrugte wat gedra word; God verskuif die koninkryk van diegene wat dit lank geniet het na ander mense wat berei is om vrugte te dra.