Die Raad/Konsilie van Efese
Anyone can hold the helm when the sea is calm. —Publilius Syrus
Die Raad/Konsilie van Efese
Daar was sewe ekumeniese rade. Hulle het almal die Christelike teologie probeer verstaan en probeer om ‘n gesamentlike teologie daar te stel. Vandag kyk ons na die Raad van Efese. Hierdie Raad is in 431 deur Teodosius II, die keiser van die oostelike gedeelte van die Romeinse Ryk, bymekaar geroep. Hy doen dit op versoek van Nestorius wie se onderrig oor die aard van Christus spanning in die kerk veroorsaak het. Nestorius wou so probeer om sy teenstanders te oortuig en stil te maak. Teodosius self woon nie die vergadering by nie. Die raad kom in Efese in die huidige Turkye bymekaar. Tussen 200 en 250 biskoppe woon die vergadering by.
Op daardie stadium was daar konflik oor gesag in die kerk. Die eerste vergadering van Konstantinopel het bepaal dat die biskop van Konstantinopel net na die biskop van Rome – bekend as die pous – in die gesagslyn gestaan het. Die biskoppe van Antiogië en Aleksandrië was ook belangrike biskoppe.
Nestorius was nie self teenwoordig nie. Hy kom oorspronklik van Antiogië. Hy was ‘n begaafde spreker en Teodosius II het hom as biskop van Konstantinopel aangestel. Die tweede belangrike persoon was Cyrillus, die biskop van Aleksandrië. Hulle verteenwoordig die twee kante van die konflik.
Die konflik gaan oor Maria. Een groep noem haar Maria Theotokos (draer van God). Die ander groep verwerp die titel, want ‘n ewige wese kan nie gebore word nie. Nestorius, in ‘n poging om die konflik op te los, stel voor dat hulle haar eerder Christotokos (draer van Christus) moes noem. Hy wou hiermee bevestig dat die volle menslike aard van Christus erken moet word.
Die gevolg was ‘n briewewisseling tussen Cyrillus en Nestorius. Hierdie konflik was deels teologies en deels polities – die tweede hoogste pos hoort eintlik in Antiogië en nie in Konstantinopel nie. Sinodes in Rome en Aleksandrië verwerp Nestorius se lering.
Cyrillus was president van die vergadering. Nestorius weier om die vergadering by te woon omdat Cyrillus die president was. Die vergadering begin sonder ‘n hele aantal biskoppe uit die Ooste wat eers later opgedaag het. Die Raad bevestig die belydenis van Nicea en die titel Teotokos. Hulle verwerp Nestorianisme en almal wat die siening onderskryf word uit die kerk geban.
Die kerke wat Nestorius ondersteun het breek weg en staan as die Persiese of die Kerk van die Ooste bekend. Hulle hedendaagse verteenwoordigers is die Assiriese Kerk van die Ooste, die Siriese Kerk, die Antieke Kerk van die Ooste en die Galdeër Katolieke Kerk.