Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (3)
Terug na die Ou Testament: Vorms van terugkeer na die Ou Testament: Galasiërs en Hebreërs (3) – Adrio König
4.2.3 Alles wat verby is
Die tempel: Dis bloot ‘n namaaksel van die ware tempel in die hemel (9:11, 23-24).
Die offers: Die offers kon onmoontlik die sondes wegneem (10:3, 11), dit het die gelowiges maar net uiterlik rein gemaak terwyl die bloed van Christus ons gewete van sonde bevry (9:13-14).
Die priesters: Die priesters is glad nie met ‘n eed aangetel nie, maar Christus is met ‘n eed deur God self aangestel as Hoëpriester (7:20-21). Priesters was sterflike mense wat mekaar moes opvolg, maar Christus is vir ewig priester (7:23-25). Die priesters moes elke keer weer offers bring, terwyl Christus net eenmaal sy offer gebring het (10:11-13). Die priesters moes diere se bloed bring maar Christus het sy eie bloed gebring, Hy het Homself geoffer (7:27; 9:12). Die priesters moes eers vir hulleself offer en dan vir die volk, maar Christus het nie vir Homself geoffer nie omdat Hy sonder sonde was (9:27).
Die wet van Moses: Dit was slegs ‘n skadubeeld, nie eens ‘n werklike beeld nie, van dit wat Christus kom dien het (10:1).
Josua: Hy het Israel nie in die ware rus ingelei nie. Ons moet nou in God se sabbatsrus ingaan (4:8-11).
Die ou verbond: Dit was uitgedien en moes deur ‘n nuwe vervang word (8:7, 11). Die ou verbond is die verbond by Sinaï wat God deur Moses met Israel gesluit het (Jer 31:31ev).
Dit is amper oorweldigend. Daar is geen moontlikheid dat die ou sisteem ná Christus nog kan voortgaan nie. En nie net die tempel-priester-offerdiens nie, maar die ou verbond (8:7, 11) en die wet van Moses! (10:1). “Die vroeëre bepalings is afgeskaf vanweë die kragteloosheid en nutteloosheid daarvan. Die wet het nie volmaaktheid bewerk nie. Aan die ander kant het ‘n beter hoop ingetree, waardeur ons tot God kan nader (7:18-19).
Dit is radikale uitsprake. En dit is omvattend. Dit gaan oor die totale diens rondom die tempel. En daar is geen manier om die feeste of die Sabbat hiervan uit te sluit nie. Dit was deel van die wet, en Paulus se uitsprake daarteen is net so sterk. Hy is selfs bang dat die Galasiërs wat hiermee wil aanhou, nooit regtig tot geloof gekom het nie (Gal 4:11).
Dit lyk my ons leer hier tenminste twee dinge:
- Die Hebreërbrief sluit die totale godsdiensprogram van die Ou Testament in wanneer hy die Joodse Christene waarsku om nie na die Ou Testament terug te gaan nie.
- En die rede is dat Christus só groot is dat Hy alles wat in die Ou Testament was, totaal oorskadu.
Dit lyk my dus verkeerd om nou enkele dinge uit te sonder en daarmee voort te gaan.
- In Galasiërs leer ons as jy een of twee uitsonder en dink dit sal jou geloof verryk, moet jy besef dit kan nie, jy verloor vir Christus self.
- En in Hebreërs leer ons waarom. Christus is eenvoudig oneindig groter was enige iets in die Ou Testament, en selfs as alles saam.
Wat ook al in die Ou Testament na Hom vooruitgewys het, was net skaduwees. En niemand klou vas aan ‘n skaduwee as die Een wie se skadu dit is, verskyn het nie! (Kol 2:16-17). Dit was net beelde, en dan nie eens werklike beelde nie, maar net skadubeelde (Heb 10:1).
Christus oorskadu die Ou Testament totaal, en daarom is enige terugkeer so gevaarlik.
Maar beteken dit alles nie dat hierdie skrywer volkome negatief is teenoor die Ou Testament nie? Is daar dan geen waarde meer in die Ou Testament vir ons nie? Vee hy die hele Ou Testament eenvoudig van die tafel af?
Wie dit dink, moet tog weer netjies na hierdie Brief kyk. Word die Ou Testament regtig in sy totaliteit hier afgeskryf? Of gaan dit net om ‘n netjies omskrewe faset van die godsdiens van die Ou Testament? Watter deel? Die deel wat sommige die kultus nie, die gestruktureerde manier waarop God gedien moes word, waarvan dit in hierdie Brief hoofsaaklik oor die tempelkultus gaan. Want onthou net ook die ander fasette soos die Sabbat en die feeste is hierby ingesluit want dit was ook deel van die wet en die ou verbond wat volgens Hebreërs afgeskaf is.
Om hieroor sekerheid te kry, is dit goed om net ‘n oomblik te kyk na die positiewe manier waarop hierdie skrywer juis die Ou Testament gebruik. Ons kyk eers net na ‘n paar kleiner opmerkings.
- Die heel eerste paar verse in die Brief is ’n vergelyking tussen die Ou Testament en Christus. Sy tema is dadelik duidelik: Christus is groter as die Ou Testament. Maar intussen beklemtoon hy dat dit inderdaad God is wat óók in die Ou Testament gepraat het.
- Sy verwysings na die engele is almal positief, al is sy punt dat Christus veel groter is as hulle (hoofstuk 1).
- Sy gebruik van Melgisedek (ook uit die Ou Testament) is volkome positief. Christus is juis hoëpriester op Melgisedek se manier, en nie in die lyn van die Levitiese priesters in Jerusalem nie (hoofstuk 7).
Net hierdie paar opmerkings sê al klaar hierdie skrywer is nie uit beginsel negatief oor die Ou Testament nie. Maar daar is meer.
Skrywer: Prof Adrio König