Aan die duiwel oorgegee
Aan die duiwel oorgegee – Francois Malan
Jan vra:
‘n Vriend bel my eendag en vra wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee? In 1 Kor 5: 1 tot 5 praat Paulus oor die sedeloosheid van die Korinthiërs. Daar is hoerery en in die opsig is daar selfs iemand wat sy vader se vrou het. Paulus sê dan in vers 5: om so iemand aan die Satan oor te lewer tot verderf van die vlees, sodat die gees gered kan word in die dag van die Here Jesus. Wat is hier aan die gang, asseblief?
Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Sedeloosheid het die Grieks-Romeinse kultuur gekenmerk, en die stryd van die evangelie was om gelowiges te verlos van die oorheersende siening oor seksuele losbandigheid. Vrye seksuele omgang is vanuit die evangelie beskou as ‘n kenmerk van die wêreld wat onder die heerskappy van die Satan staan (Galasiërs 5:19, Johannes 12:31). Daarteenoor is selfbeheersing vrug van die werking van die Heilige Gees (Galasiërs 5:22-23), en is seksuele omgang eksklusief bedoel vir man en vrou in die huwelik (1 Korintiërs 7:3-5; Genesis 2:24; Matteus 19:4-6).
Maar hier was ‘n geval van bloedskande, wat selfs deur die heersende Grieks-Romeinse kultuur ten strengste afgekeur is. En die reaksie van die gemeente in Korinte was nie berou daaroor nie, maar arrogante spog daarmee. So asof die vryheid van die Gees tot sulke uiterstes kan gaan (vgl. hulle roemwoord: alles is my geoorloof, 1 Korintiërs 6:12; 10:23).
Paulus se reaksie op die berig wat hom bereik het, is een van verontwaardiging, dat die gemeente oor so iets kan spog. As gesant van Jesus Christus, wat as die Here oor sy kerk regeer, spreek Paulus ‘n woord in die Naam van die Here. Die woord moet deel word van die gemeente se besluitneming, deurdat die Heilige Gees die gemeente lei om aan die woord wat van die Here deur Paulus kom, uitvoering te gee. Die gemeente moet oortuig word dat dit die pad is wat die Here vir hulle aanwys.
Om die lidmaat tot inkeer te bring, moet die hele gemeente eers tot inkeer kom en hulle siening van die seksuele lewe verander. Dit word in hoofstuk ses en sewe van 1 Korintiërs weer aangespreek. Dat hulle hulle liggame sal begin sien as ‘n tempel van God waarin die Heilige Gees woon , en dat die mens se liggaam nie vir seksuele losbandigheid bedoel is nie, maar vir diens aan die Here. Vir die verlossing van die seksuele lewe uit die kloue van die duiwel het Jesus sy lewe aan die kruis afgelê (1 Korintiërs 6:13,19-20).
Met so ‘n veranderde siening van die seksuele, behoort die gemeente bedroef te word oor die broer in Christus wat met sy pa se vrou saamleef; hom uit die sfeer van die gemeente wat deur die Here beheer word oorgee aan die wêreld, waar die duiwel regeer, om sodoende te leer dat sy huidige lewe in bloedskande nie vir die Here aanvaarbaar is nie, vgl. Levitikus 18:7-8 (die feit dat die vrou nie aangespreek word nie, wys moontlik daarop dat sy nie ‘n gelowige is nie). Deur so op te tree verwyder die gemeente die ‘ou suurdeeg’ van onsedelikheid sodat hulle as nuwe ongesuurde suurdeeg met reinheid en waarheid kan feesvier oor Christus, ons paaslam, wat vir ons geslag is (1 Korintiërs 5:7-8).
In vers 5 stel Paulus die man se ‘vlees’ (NAV sondige aard) wat vernietig moet word, teenoor sy ‘gees’ wat gered moet word. Met vlees en gees beskryf Paulus gewoonlik die hele mens van twee kante af bekyk: ‘geestelik’ beteken dit dat die hele persoon deur God se Gees beheer word; ‘vleeslik’ beteken dat die persoon deur sy sondige begeertes beheer word (vgl. Romeine 6:19). Dit is hierdie sondige aard wat vernietig moet word, sodat die hele mens na God toe draai en deur die Gees van God beheer moet word. Hoe dit moet gebeur, spel Paulus nie uit nie, maar deurdat hy oorgegee is in wêreld, die gebied van die duiwel, moet die man tot inkeer gebring word om sy lewe in bloedskande te los, sodat hy weer opgeneem kan word in die gemeente se gemeenskap met die Here en met mekaar.
In Matteus 18:15-20 word ‘n prosedure voorgestel in ‘n ander verband, wat ‘n aanduiding kan gee hoe opgetree moet word.
In Job 2:8 gee die Here Job oor in die mag van die Satan, met ‘n enkele beperking. Maar dit is ook weer ‘n ander situasie, want Job het nie in sonde verval nie.
Die pad wat Galasiërs 5:24-5 en Romeine 7:5-6 vir die gelowige aanwys, is om jou sondige natuur te kruisig deur ons aan die beheer van die Gees oor te gee. Dit sou die aangewese weg wees vir die man wat in bloedskande leef, om weer in die gemeente opgeneem te word. Maar as hy sou volhard op die pad van die sondige natuur, is hy op die pad na die ewige dood (vgl. 1 Korintiërs 6:9-11).
‘Wanneer kan ‘n mens iemand aan die duiwel oorgee?’ – ek sal versigtig wees om dit te doen. Gewoonlik gee mense hulle self aan die duiwel oor deur Jesus te verlaat. Paulus sê dat die toorn van God kom oor mense wat Hom nie eer en dank nie, en sy toorn is dat Hy hulle oorgee aan hulle eie begeertes om hulle eie lewe daardeur te verwoes (vgl. Romeine 1:18,24-32 se lys sondes). 1 Johannes 5:16-17 onderskei tussen sonde wat nie tot die dood lei nie en dat ons vir so iemand moet bid, en sonde wat tot die dood lei, waarvoor hy nie sê dat ons vir so ‘n persoon moet bid nie – al verbied hy nie sulke voorbidding nie – die sonde tot die dood gaan oor mense wat die geloof in Jesus as Seun van God wat mens geword het, verwerp, en God se gebod van onderlinge liefde versaak (2 Johannes 7-9).
Skrywer: Prof Francois Malan