‘n Vaste verwysingspunt (1)
Be killing sin or sin will be killing you (John Owen).
‘n Vaste verwysingspunt (1)
Admiraal Richard Byrd was bekend vir sy reise in Antartika. In 1934 besluit hy om die hele winter daar te spandeer – alleen. Temperature het tussen 40º en 60ºC onder vriespunt gewissel. Hy het later ‘n boek – Alone – oor sy ondervindings geskryf. Na ‘n paar dae van kwaai winde en sneeu was daar geen teken meer van sy hut nie. Hy maak ‘n pad direk noord en direk suid vir ongeveer 120 m – eintlik het hy net elke drie tree ‘n 2 meter bamboes in die grond gesteek. So kon hy in slegte weer elke keer sy pad terug na sy hut kry.
Maar eendag dwaal hy af. Hy sien nie een van sy bamboespale nie. Hy besef elke tree in die verkeerde rigting mag hom verder van sy hut af wegneem. Hy kan so verdwaal dat hy nooit weer die pad terug kry nie. Die sneeu was ook so gevries dat daar geen spore was nie. Sy eerste impuls was om te hardloop. Hy onderdruk dit. Hy besef dat hy verlore is. Hoe nou gemaak? Hy bou ‘n klein baken van sneeu. Dit sou as sy verwysingspunt dien. Met behulp van die sterre kry hy sy rigting. Hy loop 100 tree in die een rigting en soek vir ‘n bamboes. Hy kry niks nie. Hy stap terug na sy verwysingspunt. Met behulp van due sterre pas hy sy rigting met 30º na links aan. Na ‘n paar pogings kom hy uiteindelik by ‘n bamboes uit. Nou was dit maklik om sy hut te kry.
Die sneeubaken was sy vaste verwysingspunt – dit was iets waarop hy kon staatmaak, want dit was konstant. Hy keer elke keer na sy verwysingspunt terug om leiding en rigting te kry. God besef dat ek en jy ook ‘n baken nodig het. Sonder so ‘n verwysingspunt sal ons verdwaal en nie weet hoe om weer ons huis te kry nie. Daarom gee God aan ons ‘n onveranderlike, konstante verwysingspunt – sy Woord. Sy Woord is krities belangrik as ons rigting en stabiliteit in ons lewens wil hê.
Ons kyk volgende keer na God se woord as ons verwysingspunt.