Van vreemdeling na Koning Jesus – Rut (1)
A man’s destiny on Judgment Day will depend not on whether he has known God’s will but on whether he has done it. —A.M. Hunter
Van vreemdeling na Koning Jesus – Rut (1)
Die verhaal van Rut leer vir ons hoe God op ‘n ongewone manier werk in die lewens van ‘n boer van Betlehem, ‘n vreemdeling uit Moab en ‘n vrou wat drie van haar gesin aan die dood verloor het. God het in die geskiedenis van die mens opgetree om Hom te openbaar en mense te verlos.
Kom ons kyk na drie sketse uit hierdie pragtige boek:
- Drie vroue op pad na iewers
- Die man se naam is Boas
- ‘n Seun word gebore
Skets 1: Drie vroue op pad na iewers
Sy en haar skoondogters het saam vertrek uit die plek waar hulle gebly het, op pad na Juda toe (1:7).
Hier het ons ‘n hartseer verhaal. Dit was ‘n baie moeilike tyd in Israel. Hulle het geen duidelike leier gehad nie en daarom het elkeen gedoen net wat hy wou. Die gevolg is hongersnood in die land. Elimelek, ‘n boer van Betlehem, sy vrou en twee seuns trek na Moab. Elimelek sterf en sy twee seuns trou met Moabitiese vrouens – Orpa en Rut. Later sterf die twee seuns ook. Naomi en haar twee skoondogters bly alleen agter. Naomi besluit dat sy na haar land terug wil keer en sê dat haar twee skoondogters in Moab by hulle familie moet agterbly. Sy oorreed vir Orpa om te bly, maar Naomi gaan saam met haar skoonmoeder.
Hier het ons ‘n verhaal van swak keuses, hartseer ondervindings en diep teleurstellings ingevleg in die lewens van drie vroue. Israel kom in opstand teen God en Hy straf hulle met hongersnood. God beloof vergifnis en genade as hulle berou het en na Hom toe sou terugkeer. Elimelek beteken “die Here is koning.” Onder die moeilike omstandighede van die hongersnood sou ‘n mens verwag dat hy sy vertroue in die Here as koning sou plaas. Hy verlaat Betlehem (Betlehem beteken huis van brood). En gaan na Moab. In plaas daarvan om God ten volle te vertrou, vertrou hy op sy eie insig. Hier is iets wat ons vandag steeds kry – pragmatisme in plaas van gehoorsame geloof. Geen wonder Naomi sê: Nee, my lot is swaarder as julle s’n: die Here het teen my gedraai (1:13). As gevolg van die besluite wat hulle geneem het, bevind hulle hulle in die plek en toestand waarin hulle is.
Die Here gee uitkoms aan die mense in Betlehem – hulle kry ‘n goeie oes. Daarom besluit sy om terug huis toe te gaan. Sy en haar twee skoondogters staan tussen Moab en Betlehem. Sy probeer hulle oorreed om in Moab agter te bly. Orpa besluit om agter te bly, maar Naomi weier om agter te bly. Sy sê vir Naomi: Waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God (1:16). Sy moes kies tussen God plus niks in Betlehem en of alles minus God in Moab.
Hoe verstaan ons dit. Dieselfde omstandighede geld vir Orpa en Rut; hulle kry beide dieselfde oproep van Naomi; een gaan terug en die ander een weier. Rut kan nie teruggaan nie, want sy is nie meer wat sy was nie; sy vertrou nie meer op die gode van Moab nie: u God is my God. God roep mense op om op sy genade en liefde te reageer. Soos Rut moet ons God vertrou en in Hom glo. As ons glo, keer ons ons rug op al die plaasvervangende gode van die Moabiete. Rut gaan deur die nou poort.
God reik uit na Rut oor die grense van ras. Dit herinner aan die lied van die vier lewende wesens en 24 ouderlinge in Openbaring 5:9: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
Volgende keer kyk ons na die tweede skets.