Die armes in die Bybel
Die armes in die Bybel – Jan van der Watt
Ons het die volgende vraag ontvang:
Wie was die armes in die Bybelse tyd? Was die armes in die OT en NT, dieselfde mense wat vandag as arm beskou word? Tel boemelaars ook onder dié wat as arm beskou word?
Antwoord:
Prof. Jan van der Watt antwoord:
As ʼn mens oor armes in die Bybel praat, moet ʼn mens altyd na die konteks kyk waarin die verwysing na die armes voorkom. Die rede is omdat daar dikwels na letterlik arm mense verwys word, met ander woorde, mense wat nie geld het nie. Aan die ander kant word die woord ‘arm’ ook op ʼn figuurlike manier gebruik, byvoorbeeld ‘armes van gees’.
Die Bybel sê op baie plekke dat gelowiges vir armes moet sorg. Lees maar net die volgende gedeeltes: Jakobus 2:15-17: ‘Sê nou daar is ‘n broer of ‘n suster wat nie klere het nie en dag vir dag honger ly, 16en sê nou een van julle sou vir hulle sê: “Mag dit met julle goed gaan; gaan trek julle warm aan en eet genoeg,” maar julle gee nie vir hulle wat hulle nodig het om van te lewe nie, wat help dit dan? 17So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood.’ of 1 Johannes 3:16-17: ‘16Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers af te lê. 17Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie-hoe kan die liefde van God in hom wees?’ Die Bybel sê ook dat gelowiges sommer alle mense wat hulp nodig het, of die “underdogs” van die samelewing, moet help: Jakobus 1:27: ‘Egte en suiwer godsdiens voor God die Vader is om weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede by te staan en om jou skoon te hou van die besmetting van die wêreld.’
Daar is dus min twyfel dat gelowiges die plig het om vir armes te sorg, ook vir boemelaars. Daarvoor het die kerk verskillende meganismes op die been gebring, byvoorbeeld komitees soos die Diens van Barmhartigheid, of MES-aksies (middestadaksies), ens. Daar word dus op georganiseerde manier aan die probleem aandag gegee. So word seker gemaak dat die geld goed spandeer word.
Daar moet egter nog een opmerking gemaak word: is die armes dieselfde as vandag? In die antieke tyd was armoede baie verspreid. Daar word bereken dat 8 uit elke 10 mense nie genoeg geld verdien het om aan die lewe te bly nie. 90% van die rykdom het aan 2% van die bevolking behoort. Tog het die mense oorleef – hulle het families en groepe gevorm wat hulle geld saam gesit het en so vir mekaar gesorg het. Hierdie “families” het dus soos ons versekeringsmaatskappye gewerk.
Daar is tog verskille met vandag. Vandag is die situasie in baie samelewings anders – die regerings neem verantwoordelikheid om werk te verskaf en daar is versekeringsmaatskappye of pensioenmaatskappye wat help as iemand skielik sterf en sy familie nie geld het nie. Ons is ook vandag baie meer individueel, met ander woorde, elkeen vir homself. Dit laat ons besef dat as ons nie werk nie, gaan niemand vir ons sorg nie. Die verantwoordelikheidsgevoel om te werk is dus ook hoër as in die ou tyd. Daar word dikwels gevoel dat mense wat nie kos het nie of bedel – ten regte of ten onregte – wel die geleentheid het om te werk.
Omdat die situasies op verskillende plekke verskil, beteken dit nie dat die Christen nie meer die verantwoordelikheid het om vir die arme te sorg nie. Die vraag is egter hoe? Omdat daar so baie misbruik van goedheid is, bly dit maar altyd die beter uitweg om op georganiseerde manier (deur die kerk of ander organisasie) te probeer help of jou geld te kanaliseer. ʼn Ander goeie beginsel is om tuis te begin – as jy werkers het wat sukkel, help hulle, want daar kan jy ʼn verskil maak en kan jou getuienis tel.
Outeur: Prof Jan van der Watt