Die Here se wil
Die Here se wil – Francois Malan
Jan vra:
‘n Persoon lewer ‘n getuienis en sê dat hulle kind van 15 maande raak weg uit die geselskap en toe hulle begin soek staan die hekkie na die swembad oop en die kind dryf gesig na onder in die water. Toe hulle hom uithaal is hy reeds potblou en alles wat hulle doen help niks. Dokter toe, hulle pogings rig ook niks uit nie behalwe dat hulle vir die kind bid. Intussen bel die ouers al hulle kennisse om vir gebede vir die kind te vra. Duidelik kom boodskappe deur dat die kind sal lewe. Na ‘n tyd begin die die hartjie te klop maar die kind is in ‘n koma. Wakker word tyd sal 9 uur wees maar die dominee sê kom ons vra die Here vir 6 uur. So is dit toe en die kind word wakker.
Die pa kry die versekering van die Here dat die kind niks sal oorhou nie en dit blyk toe ook die waarheid te wees. Hierdie gebeurtenis bring die ouers en al die ander nader aan die Here en kry die Here al die eer. Wat moet mens van so scenario dink. Die ouers is agtelosig en die kind kon dood gewees het. Kan mens vra hoekom die Here ‘n kind sal laat swaar kry om die ouers tot ander insigte te bring. Ek wonder?
Antwoord
Prof. Francois Malan antwoord:
Hoekom wonder jy waarom die Here die kind laat swaarkry? Is dit dan nie, soos jy sê, die ouers se nalatigheid wat die kind laat swaarkry nie? En die Here se genade dat die kind aan hulle teruggegee word nie? Hoekom blameer ons die Here as ons verkeerd optree? Hoekom loof en prys ons nie die Here oor sy wonderlike goedheid dat Hy hier ‘n besondere uitsondering gemaak het en die kind laat lewe het nie?
Elia het gebid en die Here het die weduwee van Sarfat se seuntjie wat van siekte gesterf het se lewe laat terugkom (1 Konings 17:17-24). Van hierdie weduwee aan wie die Here daagliks kos voorsien het in die tyd van hongersnood, sê Jesus in Lukas 4:25-26 dat daar in daardie tyd van die drie jare hongersnood baie weduwees in Israel was, maar dat die Here vir Elia na dié weduwee in die heidense gebied van Sidon gestuur het om haar en haar seun saam met Elia aan die lewe te hou (1 Kon 17:15-16). Dit het die mense van Jesus se grootwordstad Nasaret woedend gemaak en hulle het probeer om Hom dood te maak oor hierdie besondere uitsondering wat God gemaak het, en dit vir ‘n heiden.
Die vier Evangelies meld slegs van drie persone wat Jesus uit die dood opgewek het: die 12-jarige dogtertjie van Jaïrus (Mk 5:22,42 en Lk 8:41,55), die jongman, die enigste seun van die weduwee van Naïn (Lk 7:11-15), en Jesus se vriend Lasarus (Joh 11). Terwyl die Evangelies van baie genesings vertel, is daar slegs die drie besondere uitsonderings.
Die Here is vrymagtig om te doen wat Hy wil. Hy weet wat vir ons die beste is, voorspoed of teenspoed (Prediker 7:14); dat ons sal leer om te bid dat sy wil geskied (vgl. Jakobus 4:15), en ons daarby te berus en ons daarin te verheug. ‘Ons weet dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, diegene wat volgens sy voorneme geroep is..’ (Rom 8:28), ‘…oortuig dat geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige gebeure, of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping ons kan skei van God se liefde wat daar in Christus Jesus ons Here is nie’ – selfs nie die dood nie (Rom 8:38-39).
Skrywer: Prof Francois Malan