Die eerste brief van Johannes: Bly in God en sy woord Die vierde vereiste om in die lig te kan lewe– behou die geloof (vervolg). (c) Bly in God en sy woord (2:23-26)
2:23 ‘Elkeen wat die Seun ontken, het selfs nie die Vader nie; wie die Seun bely, het ook die Vader.’ Waar 2:22 beklemtoon dat ‘n valse geloof uitloop op ontkenning van die Vader en die Seun, wys 2:23 daarop dat die ontkenning of belydenis van die Seun elke mens se verhouding met die Vader raak. Die twee woorde ‘ontken-loën’ en jou ‘lojaliteit bely’ is ook so deur Jesus gebruik in Mt 10:32-33:
Elkeen wat My voor die mense bely – openlik voor die mense uitspreek
sal Ek voor my Vader in die hemele bely – openlik voor my Vader uitspreek
Maar wie My voor die mense verloën – ontken of swyg dat hy/sy My ken
sal Ek ook voor my Vader in die hemele verloën – ontken dat Ek hulle ken
Dit beteken dat die erkenning van Jesus ‘n verhouding tussen die gelowige en die Vader tot stand bring, deur die verhouding van die gelowige met Jesus. Hy is die openbaarder van die Vader, maar ook die weg na die Vader (Jn 14:6-7,9). Deur Jesus lief te hê en Hom te gehoorsaam kom die Vader ook woning maak by die gelowige (Jn 14:23!).
2:24 ‘Wat julle van die begin af gehoor het, moet in julle bly (‘n bevel in die voortgaande teenwoordige tyd).
As dit wat julle van die begin af gehoor het in julle bly (voorwaarde sin)
sal julle ook in die Seun en in die Vader bly’(voortdurende toekomstige tyd).
Die gelowige wat in die lig lewe, lewe in die ruimte van die Seun en die Vader, nie outomaties nie, maar deur ‘n voortdurende gelowige toëiening van die seëninge en die verantwoordelikhede van die evangelie van Christus.
Die boodskap wat hulle van die begin af by die apostels gehoor het, kom van Jesus self af – vgl. 1 Jn 1:1 hulle het Hom self gehoor, gesien en aan Hom gevat. By daardie woorde, wat van Jesus self gekom het, moet hulle bly, daarin woon – dit moet die geloof en gedrag van die gemeente (4x uitdruklik: ‘julle’) en van die gemeentelede bepaal.
Dit is ‘n wedersydse blyery: soos wat die woord van God in die gelowiges gesamentlik en in die enkele gelowige bly, so bly die gelowige en die gemeente in die Vader deur die Seun. Die woord wat in ons bly is die bron van alle geestelike kennis en krag.
Die tweede reël sê: die aanvaarding van die oorspronklike evangelie wat Jesus verkondig het en uitgelewe het, lei daartoe dat ons die ware identiteit van Jesus as die Christus verstaan. Die derde reël sê: as ons die goeie nuus toelaat om die rigting van ons gedagtes oor God en ons morele lewe te bepaal, is die gevolg daarvan ‘n lewe in die ruimte van die Seun en die Vader, in die huisgesin van God as ons Vader, met die Seun as ons Leier-kind in die gesin. Die woord van God lei ons na die Vader en verduidelik sy wil. Die evangelie word dan elke môre vir ons nuut, sodat ons in Hom in groei, en al meer soos Jesus word.
2:25 Die eerste kenteken van die lewe in die lig van God is dat ons bly/woon in God die Vader, deur Jesus, die Seun (2:24). In 2:25 word die tweede kenmerk van die Christen wat soos Jesus lewe, gestel (vgl. 2:6): dit is die belofte wat Jesus self beloof of gegee het, wat soos ‘n pand of deposito die waarborg is (epangelia slegs hier in die Johannese-geskrifte), naamlik dat hy/sy reeds die ewige lewe het.
Die doel van Jesus se koms was dat sy volgelinge die lewe sou hê en dit in oorvloed (Jn 10:10); dit gee Hy aan hulle en hulle sal in ewigheid nie verlore gaan nie (Jn 10:28; 17:2); wie in Jesus glo, het die ewige lewe (Jn 6:47); die ewige lewe strek tot in die ewigheid; Jn 6:40: die wat in die Seun glo, sal die ewige lewe hê, ‘en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan;’ Jn 5:24: wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.
In Jn 17:3 het Jesus die kenmerk van die ewige lewe verduidelik: dit is ‘n lewe in gemeenskap met die Seun en die Vader: ‘En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.’ Die ewige lewe waarin ons tans deel het, deurdat God in ons kom woon het, is ook die belofte/waarborg/deposito dat ons die volle verwerkliking daarvan sal ontvang (vgl. Jn 8:51).
2:26 Die voorafgaande het Johannes geskryf om die gemeente te waarsku teen die mense wat probeer om die getroues te mislei om ook soos hulle te glo en te lewe. Dit is ‘n wesenlike gevaar wat altyd teenwoordig is, soos die vorm van die werkwoord aandui. Hoewel hulle die gemeeente verlaat het, los hulle die gemeentelede nie uit nie, en probeer om die onvaste gelowiges van die ware weg van verlossing weg te lei. Dit verwys waarskynlik na twee soorte misleiding: die ‘verligte’ Hellenistiese groep wat nie die menswording van Jesus aanvaar nie maar op hulle hoë kennis vertrou, en die meer wettiese Joods-georiënteerde groep wat nie kan aanvaar dat Jesus God is nie en nog steeds self hulle verlossing deur wetswerke wil verdien.