Die teleologiese argument vir die bestaan van God (3)
Die teleologiese argument vir die bestaan van God (3) – Gerhard van Rooyen
As agtergrond het ons na die werk van Thomas van Acquinas, William Paley, David Hume, Immanuel Kant en Charles Darwin gekyk. Vandag is Richard Dawkins aan die beurt.
Richard Dawkins se kritiek op die teleologiese argument
Richard Dawkins was die Charles Simonyi professor vir die publieke verstaan van Wetenskap by Oxford Universiteit. In sy boek The Blind Watchmaker (1988) het hy reeds kritiek uitgespreek teen die teleologiese argument vir die bestaan van God. Hy erken dat die titel van sy boek ontleen is aan William Paley se boek Natural Theology – or Evidences of the Existence and Attributes of the Deity Collected from the Appearances of Nature wat in 1802 gepubliseer is en wat volgens hom die mees
bekende uiteensetting is van die teleologiese argument wat ook die mees invloedryke is van die argumente vir die bestaan van God (Dawkins 1988: 4).
Nadat hy Paley se argument aangehaal het, dui hy aan dat Paley wel die verskil tussen natuurlike fisiese voorwerpe soos klippe en vervaardigde voorwerpe soos horlosies verstaan. Hy gaan verder en erken dat as ‘n mens ‘n horlosie sou vind die ontwerp daarvan wel die afleiding regverdig dat dit ‘n vervaardiger moes gehad het wat dit vir die doel ontwerp het waarvoor ons dit gebruik (Dawkins 1988: 4). Alhoewel niemand redelikerwys van hierdie afleiding kan verskil nie, beweer Paley dat dit juis is wat die ateïs doen wanneer hy die natuur bestudeer, soos hy dit stel:
“[E]very indication of contrivance, every manifestation of design, which existed in the watch, exists in the works of nature, with the difference, on the side of nature, of being greater or more, and that in a degree which exceeds all computation” (Dawkins 1988:5).
Paley vergelyk die oog met ‘n ontwerpte instrument soos ‘n teleskoop en maak dan die afleiding dat daar presies dieselfde bewys is dat die oog gemaak is om te sien as wat daar is dat die teleskoop gemaak is om die oog te help om te sien. Die oog moes ‘n ontwerper gehad het net soos die teleskoop een het (Dawkins 1988: 5). Dis juis op hierdie punt waar Dawkins aandui dat die analogie tussen die oog en die teleskoop en die horlosie en ‘n lewende organisme, vals is. Hy sê dat die blinde kragte van fisika die enigste horlosiemaker in die natuur is, alhoewel dit op ‘n baie spesiale manier ontplooi word. Volgens hom ontwerp ‘n werklike horlosiemaker sy ratte en vere en hoe hulle
inmekaarpas met ‘n duidelike doelwit voor oë. Natuurlike seleksie, die blinde, onbewuste, outomatiese proses wat Darwin ontdek het, het geen doelwit in gedagte nie. Dit het geen verstand en geen toekomsplanne nie. As dit wel gesê kan word dat dit die rol van ‘n horlosiemaker in die natuur speel, dan is dit ‘n blinde horlosiemaker. (Dawkins 1988: 5)
Dawkins gaan dan voort om te verwys na die Skotse filosoof, David Hume, wat reeds ‘n eeu voor Darwin die teleologiese argument weerlê het. Volgens hom het Hume slegs die logika gekritiseer om gebruik te maak van klaarblyklike ontwerp in die natuur as positiewe getuienis vir die bestaan van God. Hy het nie ‘n alternatiewe verduideliking gegee vir die klaarblyklike ontwerp in die natuur nie, maar die vraag oopgelaat (Dawkins 1988: 6). Volgens Dawkins sou ‘n ateïs voor Darwin, in navolging van Hume, die volgende gesê het:
“I have no explanation for complex biological design. All I know is that God isn’t a good explanation, so we must wait and hope that somebody comes up with a better one.” (Dawkins 1988: 6)
Dawkins erken dat so ‘n stelling logies aanvaarbaar is, maar hy sê dan dat dit ‘n mens ontevrede laat voel, omdat, alhoewel ateïsme logies bestaanbaar was voor Darwin, het Darwin dit moontlik gemaak om ‘n intellektueel vervulde ateïs te wees. Hy sê wel hy dink dat Hume hiermee sou saamstem, maar dat sommige van sy geskrifte aandui dat hy die kompleksiteit en skoonheid van biologiese ontwerp onderskat het (Dawkins 1988: 6).
Hy gaan voort om te verduidelik wat ‘n komplekse saak is. Die eerste punt wat hy maak is dat ‘n komplekse saak ‘n heterogene struktuur het (Dawkins 1988: 6). Volgens hom is ‘n komplekse saak iets waaarvan ons die bestaan nie as vanselfsprekend aanvaar nie, omdat dit te onwaarskynlik is. Dit kan nie tot stand kom deur ‘n enkele toevallige gebeurtenis nie. Hy dui dan aan dat dit verduidelik kan word as die gevolg van ‘n geleidelike, kumulatiewe stap vir stap ontwikkeling van eenvoudiger dinge, van oorspronklike dinge wat eenvoudig genoeg is om per toeval tot stand te kom (Dawkins
1988: 14). Dit is Darwin se antwoord oor hoe lewende wesens tot stand kom: Elke opeenvolgende verandering in die evolusionêre proses was eenvoudig genoeg, relatief tot die voorafgaande verandering om per toeval te ontstaan. As ‘n mens egter kyk na die volgorde van die kumulatiewe stappe, is dit egter nie ‘n toevallige proses nie, veral as jy die kompleksiteit van die eindproduk vergelyk met die oorspronklike beginpunt. Die kumulatiewe proses word gestuur deur nie-toevallige oorlewing (Dawkins 1988: 43). Hy dui aan dat kumulatiewe seleksie wel kompleksiteit kan veroorsaak, terwyl ‘n enkele stap seleksie dit nie kan doen nie. Kumulatiewe seleksie kan egter nie werk as daar nie een of ander minimum reproduksie masjinerie of krag bestaan nie – en die enigste reproduksie masjinerie wat ons ken, blyk so gekompliseerd te wees dat dit slegs kan bestaan as daar baie geslagte van kumulatiewe seleksie was! (Dawkins 1988: 141) Volgens Dawkins word dit juis gesien as die swakpunt in die blinde horlosiemaker argument en sê sommige mense dat dit juis die uiteindelike bewys is dat daar ‘n goddelike ontwerper moes wees. Hy beheer wel nie die dag tot dag gevolge van die evolusionêre proses nie, maar het die oorspronklike reproduksie masjinerie of
krag, die oorspronklike masjinerie van DNS daargestel wat evolusie moontlik maak (Dawkins 1988: 141).
Sy probleem hiermee is egter dat enige Goddelike wese wat in staat is om iets so kompleks as die DNS / proteïn reproduksie masjien te ontwerp, moet net so kompleks en georganiseer wees as die masjien self. Volgens hom verduidelik dit niks nie, want dit verduidelik nie die oorsprong van die ontwerper nie. Jy sal dan moet sê God was altyd daar en DNS was altyd daar of lewe was altyd daar. (Dawkins 1988: 141) Dawkins se benadering in die geval is dié van ‘n geslote sisteem wat geen transendente inmenging in die natuurlike prosesse toelaat nie (Du Toit 2003: 12).
Outeur: Gerhard van Rooyen