Aborsies in Suid Afrika
Aborsies in Suid Afrika – Coen Slabber
Die International Conference on Population Development van die Verenigde Nasies (Kaïro, 1994) het onveilige aborsies as ʼn belangrike gesondheidsrisiko erken. [ʼn Onveilige aborsie is ʼn aborsie gedoen deur ʼn persoon wat nie opgelei is nie of ʼn aborsie gedoen onder onhigiëniese toestande – gewoonlik buite ʼn hospitaal. Daarom staan dit ook as “agterstraat aborsies” bekend.] Die Wêreld Gesondheidsorganisasie bereken dat ongeveer 75 000 vrouens jaarliks sterf as gevolg van onveilige aborsies. In Afrika alleen word daar 4,2 miljoen onveilige aborsies elke jaar gedoen. Ongeveer 30 000 vroue in Afrika sterf elke jaar as gevolg van onveilige aborsies. Hulle gaan verder deur te sê dat onveilige aborsies gedoen word, want veilige mediese aborsies word deur wetgewing verbied. Baie lande, insluitend Suid-Afrika het sedertdien hulle wetgewing verander om aborsies te wettig.
In Februarie 1997 tree ʼn nuwe wet (Keuse oor die Beëindiging van Swangerskap) oor die terminasie van swangerskap in werking. Wet 92 van 1996 het Suid-Afrikaners se benadering tot aborsie radikaal verander. In die Voorwoord word onder andere gesê dat die grondwet die reg van persone om self besluite oor voortplanting te neem, beskerm. In die wet word die voorwaardes waaronder ʼn swangerskap beëindig mag word, genoem:
(1) Op versoek van die vrou binne die eerste twaalf weke van swangerskap.
(2) Van die dertiende tot die twintigste week as ʼn geneesheer na konsultasie met die vrou dit aanbeveel. Aspekte wat hier hanteer word, is gevalle waar die moeder se lewe (fisies en geestelik) in gevaar is, as daar ʼn betekenisvolle risiko is dat die fetus abnormaal sal wees, as die swangerskap die gevolg van verkragting of bloedskande is of as die swangerskap die sosiale of ekonomiese omstandighede van die vrou betekenisvol sal beïnvloed.
(3) Na twintig weke mag die swangerskap beëindig word as die vrou se lewe in gevaar is of as die fetus erg misvorm sal wees of as die voortgesette swangerskap ʼn bedreiging vir die fetus inhou.
Behalwe in vroeë swangerskappe mag slegs ʼn geneesheer ʼn aborsie uitvoer. In vroeë swangerskappe (voor twaalf weke) mag ʼn verpleegkundige wat die nodige opleiding gehad het, dit ook doen. Die wet maak ook voorsiening vir berading. In alle gevalle moet die vrou ingeligte toestemming gee. In gevalle van minderjariges word aanbeveel dat hulle hulle ouers, voog, gesinslede en/of vriende vooraf raadpleeg. As sy dit nie wil doen nie, kan die aborsie steeds voortgaan.
Wat is die situasie vandag? Sedert die wet aanvaar is, is 529 410 aborsies in Suid-Afrika gedoen. In 2005 alleen is 85 621 aborsies gedoen. Ongeveer 9,2% van alle swangerskappe in Suid-Afrika eindig in ʼn aborsie. Dit sluit spontane aborsies uit. ʼn Kommerwekkende statistiek is dat 24% van alle aborsies na 12 weke gedoen word. Die risiko vir die doen van ʼn aborsie verhoog na 12 weke. Na die inwerkingstelling van die wet het die aantal aborsie-verwante sterftes met 90% afgeneem.
Wat kan ons uit hierdie statistiek aflei?
- Die geboortebeperkingsprogram slaag nie in sy doel nie. Daar is te veel ongewensde swangerskappe wat deur ʼn aborsie beëindig word. Aborsie mag nooit as ʼn vorm van geboortebeperking gebruik word nie.
- Ek dink nie dit sal moontlik wees om die wetgewing te skrap nie. Die Amerikaanse kerke probeer al veertig jaar om hulle wetgewing te skrap – sonder enige sukses.
Wat moet die kerk in Suid-Afrika doen as hy nie die wet kan omkeer nie? Die kerk sal sterk leiding moet gee oor verantwoordelike seksuele gedrag veral vir ons jongmense. Mense moet besef dat regte altyd met verantwoordelikhede gepaard gaan.
Volgende keer kyk ons na die etiese argumente wat in die aborsie-debat gebruik word.
Outeur: Dr Coen Slabber