Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Opvoeding(4) – Hennie Stander

image_pdfimage_print

Assiriese en Babiloniese invloede

Die wegvoer van die Jode na Assirië en Babilonië het tot die verdere ontwikkeling van die Joodse opvoedingsisteem gelei. Nadat Israel na hulle land teruggekeer het, het dit deel van die Griekse Ryk geword en hierdie toedrag van sake het onder andere ook die verdere ontwikkeling van die onderrigsisteem bevorder. Die Assiriese konings het duisende kleitablette in ‘n biblioteek in Nineve versamel. Hierdie tablette het allerhande soorte terreine gedek – die reg, plantkunde, meetkunde, chemie, sterrekunde, medisyne, wiskunde en godsdiens – dit gee ‘n aanduiding van hoe ver die Assiriese opvoedingsisteem ontwikkel het. In Daniel 1 kry ons so ietwat van ‘n insae in die onderrig wat ‘n paar van die vername jongmanne uit die Joodse yolk in die Babiloniese paleis ondergaan het. Hulle moes onderrig word in die Chaldeërs se skrif en taal en moes vir drie jaar lank opgelei word. Na die drie jaar periode verstryk het, is hulle voor die koning gebring en by het hulle ondervra. Daniel en sy drie vriende het al die ander uitgestof in hierdie “toetsing”. Terwyl hulle in ballingskap verkeer het, was die Jode verplig om hul eie wet deeglik te bestudeer ten einde hul eie identiteit te bly behou. Verskillende priesterlike en profetiese leermeesters het hierdie taak op hulself geneem, en hulle het daarmee voortgegaan sells nadat die Jode na hul eie land teruggekeer het.

Die skrifgeleerdes

Tydens en na die ballingskap van Israel het skrifgeleerdes op die toneel verskyn. Die skrifgeleerdes was geskool in die wet en in godsdienstige wysheid en hulle het die implikasies van beide die geskrewe wet en die oorgelewerde godsdiens­tige tradisies verstaan. As gevolg van hulle geleerdheid het hulle veral in die openbare byeenkomste aansien geniet. Hulle is beskou as die gesaghebbende uitleggers van die Skrif en hul primêre taak was om aan die volk die wette van God te leer. Later het hulle ‘n vername rol begin speel in die lewe van die Joodse volk. Ons lees in Esra 7:12 ev dat Esra, wat beide priester en skrifgeleerde was, die volmag ontvang het van die Persiese koning om owerhede en regters aan te stel en om die wette van God te leer aan hulle wat dit nie geken het nie. Ons maak weer in die Nuwe Testament kennis met die skrifgeleerdes wat gevind kon word in twee prominente godsdienstige partye, naamlik die Sadduseërs en die Fariseërs. In Matteus 23 het Jesus ‘n skerp aanval gemaak op die skrifgeleerdes. In 1 Korintiërs 1:20-25 het Paulus hom skerp uitgelaat oor die Fariseërs se oënskynlike wysheid.

Ook die sinagoge het in die tyd van ballingskap tot stand gekom. Vir diegene in ballingskap was dit nie meer moontlik om in Jerusalem te aanbid nie. Die sinagoge het toe ontstaan as ‘n plek waar daar onderrig in die Skrif gegee is en waar daar aanbid is. Dit het later die belangrikste instelling in die onderrig van volwassenes geword, veral vir die bestudering van die Torah (die’ Wet). Nadat die Jode na hul land teruggekeer het, het hulle daarmee voortgegaan om na die sinagoges op te gaan om te luister na die voorlees van die Skrifte en na die uitleg daarvan (sien Lukas 4:16 ev). Die ontstaan van ‘n formele skoolsisteem het ten nouste saamgehang met die ontwikkeling van die sinagoge, veral onder die invloed van die Griekse kultuur.

gorasinsinagoga

Ingang tot die gedeeltelik gerekonstrueerde sinagoge to Gorasin. Dit dateer moontlik uit die vierde eeu n.C.

 

Skrywer:  Prof Hennie Stander

 

image_pdfimage_print

You may also like...