Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensgelykheid
Die Groot Geloofswoordeboek: Godsdiensgelykheid
Godsdiensgelykheid
Godsdiensgelykheid is nie so ‘n maklike saak nie. Dit lê heeltemal op ‘n ander vlak as *godsdiensvryheid. Om te verstaan wat godsdiensgelykheid beteken, is dit goed om te onderskei tussen die rol van die staat en dié van die godsdiens self.
Die staat en godsdiensgelykheid
Die staat moet alle godsdienste gelyk behandel. Die staat werk met belastingbetalers se geld en mag nie uit sy bronne sekere godsdienste bevoordeel nie. Verder is dit onwaardig vir die Christelike godsdiens, en trouens vir enige godsdiens, om op staatshulp te steun. Dit het die Christelike godsdiens in die verlede duur gekos om van owerhede afhanklik te wees om sy waardes te beskerm. Dink maar aan die negatiewe invloed wat wette soos die Sabbatswette op ons sendingwerk gehad het. Watter gevoel van veronregting en antagonisme het dit gewek by mense van ander godsdienste dat net die besondere dae en gebruike van die Christelike godsdiens beskerm is. En die Christelike godsdiens het nie hierdie “hulp” nodig nie, want ons vertrou op die krag van die Heilige Gees om mense te oortuig van die waarheid van die evangelie. Om op enige ander steun te reken maak Christene lam.
Die staat behoort dus alle godsdienste gelyk te behandel ter wille van die feit dat hulle met mense van alle godsdienste se geld werk en uit eerbied vir die godsdienste self.
‘n Christelike kyk op godsdiensgelykheid
Van die kant van die godsdienste bekyk, lyk die prentjie baie anders. Die Christelike godsdiens kan nooit aanvaar dat alle godsdienste gelyke waarde het nie. Christene glo dat Jesus Christus uniek is en dat hulle alle mense moet uitnooi om Hom as *Verlosser te aanvaar. Die Christelike godsdiens staan nie hierin alleen nie. Die Judaïsme en die Islam is ook oortuig dat hulle godsdiens uniek is. Die lande waar die Moslems in die meerderheid is, is selfs militant en beveg ander godsdienste met staatsgesag. Daar is wel godsdienste wat meer akkommoderend is. Hindoes sal maklik nog ‘n god aanvaar saam met al die ander wat hulle aanbid. Maar dit is veral die godsdienste wat net een God aanbid wat nie ruimte het vir goddelike mededingers nie.
Sending en hoogmoed
Daar is soms die beskuldiging dat hierdie godsdienste onverdraagsaam en hooghartig is asof hulle beter is as ander en al die waarheid in pag het. En daar is min twyfel dat sommige Christene in elk geval so ‘n houding het, en dat ons veral in die verlede soms sendingwerk gedoen het vanuit ‘n posisie van meerderwaardigheid. Die feit dat talle sendelinge nooit eers die taal aangeleer het van die mense onder wie hulle gewerk het nie, om niks te sê van hulle geskiedenis en die sosiale gebruike nie, spreek boekdele. Verder ook nog die feit dat daar in die byeenkomste van baie sendingkerke omtrent geen elemente van die Afrikakultuur, soos tromme en danse, opgeneem is nie.
Maar intussen moet ons ‘n misverstand uit die weg ruim. Die blote feit dat ons alle mense uitnooi om Jesus as Verlosser te kies (*Sending) hoef nie ‘n teken van meerderwaardigheid te wees nie. Dit kan trouens juis ‘n teken van nederigheid wees. Dat Jesus die Verlosser van die wêreld is, het ons nie uitgedink nie. Dit is ‘n boodskap wat ons ontvang het. Dit kom van die mense wat na aan Hom gestaan het; trouens, van Homself af. As ons Hom erken as ons Heer, as ons regmatige eienaar, is dit volkome gepas om wat ons van Hom ontvang het, so duidelik, onveranderd en dringend moontlik deur te gee. In beginsel is sendingwerk die werk van gehoorsame diensknegte, nie van mense wat oor ander wil heers nie.
Christene kan dus nooit aanvaar dat alle godsdienste gelyk is in die sin dat hulle ewe veel waarde het nie. Dat daar waardevolle elemente en perspektiewe in ander godsdienste is, staan buite diskussie. Maar die waarheid as sodanig is volgens ons oortuiging beliggaam in die Waarheid, Jesus van Nasaret.
Dit beteken ook dat ons nie aan openbare godsdiensoefeninge behoort deel te neem waar meer as een godsdiens betrokke is nie. As Jesus die Verlosser van die wêreld is, kan ek nie saam met ‘n Moslem sy God aanbid nie. Dit is uit respek vir hom of haar, én vir Jesus, dat ek dan liewer tuis bid of in ‘n Christelike byeenkoms. En om dieselfde rede behoort openbare byeenkomste waar mense van verskillende godsdienste betrokke is, nie met Skriflesing en gebed geopen of afgesluit te word nie. Dit is ‘n verleentheid vir die nie-Christene wat nie vir die godsdiensoefening gekom het nie, maar vir die openbare geleentheid, soos die opening van die parlement of ‘n gradeplegtigheid.
Maar natuurlik moet ons hierdie mense dringend uitnooi na ons godsdienstige byeenkomste. As hulle kom, weet hulle hulle is daar vir ‘n Christelike godsdienstige byeenkoms. Dit was dan hulle keuse.
Outeur: Prof Adrio König