Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(7) – Hennie Stander
Groente en ander produkte
Vlas is gekweek omdat dit gebruik is vir die vervaardiging van linne. Dit is ‘n maand voor die gars geoes en is met ‘n skoffel teen die grond afgesny. Die stoppels is dan in die son oopgesprei om droog te word. Die manne wat in Josua se tyd Jerigo gaan verken het, het weggekruip onder die vlasstoppels wat Ragab op die dak van haar huis oopgesprei het (Josua 2:6). Verder het hulle ook komkommers, waatlemoene, prei, uie en knoffel verbou, asook plantsoorte waarvan hulle die groen blaartjies kon eet (soos kiesieblaar, suring en artisjok). Ook boontjies en lensies is gekweek en dit is onder andere in sop gebruik (vgl Genesis 25:34).
Peule van die Johannesbroodboom. Die peule van hierdie bome is deur diere en deur die armes geeet.
Wingerde
Volgens Genesis 9:20 was Noag ‘n boer en ook die eerste persoon wat ‘n wingerd aangeplant het. Elke Jood het begeer om sy eie wingerd te hê. Langs sy huis het by ‘n prieel gemaak en in die warm somers het dit skadu verskaf (1 Konings 4:25). Om ‘n wingerd te besit was teken van ‘n meer gevestigde lewenswyse en juis daarom het die Regabiete hul daarvan weerhou om wingerde aan te plant om sodoende bewys te lewer van hul nomadiese lewenswyse (Jeremia 35).
Terrasvormige wingerde naby Hebron, Israel
Gewoonlik het boere hul eie druiwe geoes, maar die wingerde van kleinboere is dikwels opgekoop deur meer vermoënde grondeienaars wat elders gewoon het. In sulke gevalle het die kleinboere huurders op die plaas geword en ‘n sekere persentasie van die opbrengs ontvang (Matteus 20:1; Lukas 20:9-10). Die wingerdstok aard baie goed in die Palestynse klimaat. Toe Moses die twaalf manne uitgestuur het om die land Kanaän te gaan verken, was die verbouing van druiwe ook reeds goed gevestig in die land (Numeri 13:23).
In Jesaja 5:1-2 word al die stappe beskryf wat gevolg word wanneer ‘n wingerd aangeplant word: “Hy wat ek liefhet, besit ‘n wingerd op ‘n vrugbare heuwel. Hy het die grond omgespit en die klippe verwyder, dit beplant met veredelde wingerdstokke. Hy het ‘n wagtoring daarin gebou en ‘n parskuip uitgekap.” (Sien ook Matteus 21:33). Die wingerde is gewoonlik teen heuwels geplant waar daar beter dreinering van water was en waar dit aan direkte sonlig blootgestel kon wees. Die graan kon dan op die gelyk gedeeltes verbou word. Natuurlik was nie alle wingerde altyd op heuwels nie. In Esegiël 19:10-11 lees ons ook van ‘n wingerdstok wat in ‘n boom opgerank het. Die heel eerste stap was om terrasse aan te lê Hiervoor kon die klippe gebruik word wat oral oor die land verspreid gelê het; die terrasse kon terselfdertyd gronderosie teenwerk wanneer dit swaar gereën het. Rondom die wingerd is ‘n klipmuur gebou (Spreuke 24:30-31) om dit onder andere teen wilde diere te beskerm wat die wingerd kon verniel (Hooglied 2:15). In Psalm 80:12-13 lees ons dat ook mense die wingerde geplunder het as dit nie deur ‘n muur beskerm was nie. Die Wet het egter wel toegelaat dat ‘n mens van jou naaste se druiwe kon pluk en eet, maar jy mag dit net nie in ‘n houer weggedra het nie (Levitikus 19:10; Deuteronomium 23:24).
Daarna is daar ook ‘n wagtoring gebou wat as ‘n soort somerhuis kon dien-‘n plek waar die familie gedurende die somertyd kon bly terwyl die druiwe afgepluk word. Dit was nie goedkoop om so ‘n wagtoring te bou nie. Jesus het eenkeer ‘n verhaal vertel van wat gebeur wanneer iemand se geld opraak nog voordat hy die toring klaar gebou het omdat hy nie voor die tyd die koste daarvan behoorlik bereken het nie (Lukas 14:28-30). Die boonste deel van die toring is as ‘n uitkykpos gebruik. In gevalle waar die eienaar nie so ‘n toring kon bekostig het nie, het die mense wat die wingerd moes oppas, maar net ‘n tent opgeslaan.
‘n Wagtoring, wat besig is om te verbrokkel, in die veld naby Samaria
Die steggies is selfs tot 3 meter en verder uit mekaar geplant ten einde aan die ranke genoegsame spasie te gee. As die wingerd op gelyk grond was, was daar genoeg spasie om ‘n ploeg tussen die steggies deur te kry. Sommige soorte wingerdstokke is net so gelaat en die plante het dan grondlangs gerank. Ander is weer teen rowwe stellasiewerke opgelei of met gevurkte stokke ondersteun. As die wingerd eers gevestig was, is dit gedurende die wintermaande met snoeimesse teruggesnoei (sien Joel 3:10) om sodoende van swak, gebreekte of besmette takke ontslae te raak. Sodoende kon verseker word dat die wingerd die beste vrugte moontlik kon dra. In Johannes 15 gebruik die outeur ‘n woord wat met beide “skoonmaak” en “snoei” vertaal kan word. Met hierdie woordspel gebruik Johannes die snoeiproses as beeld om te illustreer hoe Jesus ons “skoonmaak” of “snoei” deur die lering wat Hy aan ons gegee het (Johannes 15:3). Lote wat nie vrug dra nie, word deur Horn afgesny maar die lote wat wel vrug dra, snoei by sodat dit nog meer vrug kan dra (Johannes 15:2).
Skrywer: Prof Hennie Stander