Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Landbou(12) – Hennie Stander
Vyebome
Vye is as een van die seëninge van die Beloofde Land voorgehou (Deuteronomium 8:7-9). Die manne wat deur Moses uitgestuur is om Kanaän te gaan verken, het onder andere vye met hulle saam teruggebring (Numeri 13:23). Vyebome is van groot waarde geag vanweë hul vrug, maar ook vir die skadu wat hul gemaak het. Dit was derhalwe altyd lekker om onder ‘n vyeboom te kon sit (1 Konings 4:25; Sagaria 3:10). Toe Jesus vir die eerste keer vir Natanael ontmoet het, het laasgenoemde juis onder ‘n vyeboom gesit (Johannes 1:48). Maar die vyeboom het ook gedien as ‘n simbool van sekuriteit en voorspoed: “Elke man sal onder sy eie wingerd sit, ongesteurd onder sy eie vyeboom“. Ook die omgekeerde hiervan is waar aangesien die afval van vye en die vernietiging van die vyeboom altyd gesien is as ‘n aanduiding van die oordeel van God (Jesaja 34:4; Jeremia 5:17; 8:13; Hosea 2:11; Joel 1:7). Vyebome is soms ook in wingerde geplant (Lukas 13:6-9). Indien die boom toegelaat is om uit te groei, kon dit tot 10 meter hoog word, maar indien dit op rotsagtige grond geplant was of gereeld teruggesny is, is dit tot ‘n bos beperk.
Adam en Eva het die blare van ‘n vyeboom gebruik om hulself te bedek (Genesis 3:7). Die blare het aan die einde van die lente (die einde van April) begin uitkom en was dus ‘n teken dat die somer net om die draai .was (Matteus 24:32). Die vyeboom het twee tot drie keer per jaar vrug gedra en daar kon vir byna tien maande in ‘n jaar vye van die boom gepluk word. Die eerste vye (Hosea 9:10) was in Junie ryp, maar die hoofoes was eers in Augustus gereed. Daar was daarna ook ‘n kleiner oes van wintervye wat tot in die lente kon hou. Die vye is geëet terwyl dit nog vars was, of dit is gedroog (1 Samuel 25:18) of vyekoeke is daarvan gemaak (1 Kronieke 12:40). Daar is geglo dat die warm pap van vyekoeke genesende krag gehad het, en Jesaja het byvoorbeeld opdrag gegee dat dit op Hiskia se sweer geplaas moes word (2 Konings 20:7; Jesaja 38:21).
Wilde-vyeboom
Nog ‘n soort vrugteboom, wat baie nou verwant is aan die vyeboom, was die wilde-vyeboom. Die vrug daarvan lyk soos klein vytjies-dit is soet maar is tog nie so goed soos die ware vye nie. In Dawid se tyd was daar so baie wilde-vyebome dat by dit selfs nodig geag het om ‘n amptenaar aan te stel om oor hierdie borne toesig te hou (1 Kronieke 27:28). Die takke van hierdie boom is sterk en wyd en dit het baie dwarstakke. Hierdie immergroen boom was dus ‘n ideale boom om in te klim en dit was juis in so ‘n boom waarin Saggeus geklim het toe Jesus horn gevra het om of te klim sodat Hy by hom kon gaan eet (Lukas 19:1-4). Ook hierdie boom kon omtrent tien meter hoog word en hulle is gekweek vir hul hout, wat ‘n mooi ligte kleur het en baie lank hou.
Voorts was die wilde-vyebome van ekonomiese belang met die gevolg dat toe Egipte hulle wilde-vyebome deur ryp verloor het, is dit as ‘n ramp beskou (Psalms 78:47). Ons lees dat Amos nie net ‘n veewagter was nie, maar ook ‘n kweker van wilde-vyebome (Amos 7:14-15). Die Hebreeuse woord wat hier vir “kweker” gebruik word, beteken eintlik “om te prik”. Dit was die gebruik om hierdie vruggies to prik terwyl hulle nog groen was sodat hulle van hul bitterheid ontslae kon raak en lekker sappig kon wees wanneer hulle ryp geword het.
Skrywer: Prof Hennie Stander