Die dwase najaag van rykdom

image_pdfimage_print

 

“No man ever went to heaven alone; he must either find friends or make them” (John Wesley)

 

Die dwase najaag van rykdom

Meeste van ons is maar soos Johannes en Jakobus toe hulle vir Jesus gevra het: Here, ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra (Markus 10:35). Baie van ons leef in ‘n materialistiese, verbruikersgeoriënteerde wêreld waarin sukses beskryf word as “ek het meer dinge wat my in staat stel om ‘n beter lewe te leef.” Kyk maar net na die advertensies waarmee ons gebombardeer word. Dit lei net tot ontevredenheid – ‘n oorvloed dinge lei tot ‘n oorvloed bekommernisse.

 

Die najaag van rykdom lei tot ‘n groter gevaar. Wanneer Ek vir Israel gebring het in die land wat Ek aan sy voorvaders met ‘n eed beloof het, die land wat oorloop van melk en heuning, sal Israel genoeg eet en lekker lewe en dan sal hy ander gode aanhang en hulle dien. Hulle sal My minag en my verbond verbreek (Deuteronomium 31:20). Hoekom gebeur dit? Jy kan dalk dink: My krag en my sterk hande het vir my hierdie rykdom verwerf (Deuteronomium 8:17).

 

Die ryk man in Jesus se gelykenis van die ryk dwaas (Lukas 12:13 ev) was iemand wat swaargekry het as gevolg van sy oorvloed. Luister net na Mark Twain: What is the chief end of man? To get rich. In what way? Dishonesty if he can; honesty if he must. In hierdie gelykenis veroordeel Jesus hierdie verbruikerskultuur. As dit nie was dat die opskrif die gelykenis van die ryk dwaas was nie, sou ons waarskynlik jaloers op hierdie man gewees het. Hy is tog nie ‘n dwaas volgens menslike wysheid nie – hy probeer net sy wêreldse rykdom beskerm.

 

Maar hierdie man mislei homself as hy dink dat hy die meester van sy lot is. Hy plaas sy vertroue in dit wat hy besit en nie op God nie. Hy het baie om van te lewe, maar niks om voor te lewe nie. Hierdie gelykenis kyk na die waarde wat geld in ons lewenshet vanuit ‘n ewigheidsperspektief. Vanuit so ‘n perspektief lyk inhaligheid beslis dwaas. Diegene wat net in hulleself, hulle sekerheid, hulle gemak en hulle plesier belê het, het ‘n swak belegging gemaak, want hulle is geestelik en moreel bankrot.

 

Die man in die gelykenis is ‘n dwaas want hy het nie sy besittings wyslik gebruik nie – hy was totaal onbewus van die sekerheid van die dood.

 

image_pdfimage_print