Die Jehovagetuies
Die Jehovagetuies – Pieter Verster
Zanne vra:
Ek wil graag weet wat glo die Jehovagetuies; wat is die verskil tussen hulle en die Christelike geloof?
Antwoord:
Prof Pieter Verster antwoord:
Die Jehovagetuies
Wie het nie al die klop aan die deur gehoor en die twee of drie persone binnegenooi wat dan die traktaatjie oorhandig en met jou in gesprek tree oor wie hulle noem “Jehova” nie? “Jehova” is die naam wat volgens hulle in die Ou Testament vir God gegee word. Hulle besoek mense om hulle te oortuig dat “Jehova” die ware God is en aanbid moet word. Kenners van die Ou Testament wys egter daarop dat die uitspraak eerder “Jahweh” moet wees.
Die belangrikste saak wat aan die orde kom wanneer oor die Jehova-getuies gepraat word, is die belydenis aangaande die Drie-eenheid van God. Die belydenis dat God Drie-enig, Een ware God, naamlik Vader, Seun en Heilige Gees is, word ontken. Jesus is volgens hulle nie die Ewige Seun van God, wat self ook God is nie. Hy is ‘n god. Hy is die eerste en belangrikste skepsel maar nie Een ware God met die Vader nie. Hulle sou dus ook nie die geloofsbelydenis van Nicea kan erken nie. Daarin word bely dat Jesus “God uit God, Lig uit Lig, waaragtige God uit waaragtige God, verwek en nie gemaak nie” is. Hierdie belydenis leef in verskeie kerke se lidmate se harte. Jesus Christus is waarlik God wat volkome mens geword het.
Kan hierdie belydenis egter nog steeds volgehou word. In die boek: “Die Jehova-getuies en die Bybel” skryf Prof Dr JP Louw baie helder dat die belydenis dat Jesus volkome God wat ware mens geword het duidelik in die Bybel voorkom en dat die oorspronklike Grieks dit bevestig. Jesus is Eersgeborene wat sy status aantoon en nie die tyd van ontstaan nie. Hy is self ook Skepper en nie die eerste skepsel nie (Vergelyk Kolossense 1:15.) Johannes 1:1 bevestig in geen onduidelike taal dat Jesus God is nie en nie maar ʼn god nie. Talle ander gedeeltes in Johannes bevestig dit veral Johannes 20:28. Maar ook Paulus bevestig dit in Filippense 2: 6-7.
Hierteenoor beweer die Jehova getuies dat daar volgens Deuteronomium 6:4 slegs een God is, naamlik Jehova. Dit neem egter nie weg dat ons in die lig van die Nuwe Testament verstaan dat die een God die Drie-enige God is nie.
Die Heilige Gees word beskou as ʼn onpersoonlike straling van God. Handelinge 5:3-4 maak dit egter baie duidelik dat die Heilige Gees God is. Ook Matteus 28:19 stel die Seun, die Vader en die Gees gelyk.
Christus se versoeningswerk word ook totaal anders verstaan. Daarom lê hulle nie klem op die verlossing nie, maar dat Christus moes kom om God se eer te red. Die wederkoms van Christus sou ook in 1914 plaasgevind het. Die uitbreek van die eerste wêreldoorlog word as bewys aangevoer, maar Openbaring 1;7 sê duidelik dat elke oog Hom sal sien en dat die wederkoms nie geheim sal wees nie.
Hulle meen ook die tien gebooie het verval, bloedoortapping is sonde omdat jou gees in die bloed is, politiek en militêre diens is verkeerd en kerke wat nie soos hulle glo nie is van die duiwel. Daar is volgens hulle nie ‘n hel en ʼn laaste oordeel nie, maar sondaars sal weer ‘n kans kry en net 144000 gaan hemel toe, die ander sal op aarde leef.
Hulle vertoon groot ywer. Min mense sal soveel vir hulle geloof opoffer. Dit is egter duidelik dat die wesenlike van die Christelike evangelie misken word. Jesus is die Here!-soos Jahweh! Dit was en is die belydenis van die kerk. Daaraan mag geen afbreuk gedoen word nie.
Skrywer: Prof Pieter Verster