Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Finansiers en Handelaars (4) – Hennie Stander
Die muntstelsel
Aanvanklik is koop-en-verkoop op ‘n ruilhandelgrondslag gedoen. Dit is egter al gou besef dat dit meer gerieflik was om ‘n standaarditem te verruil wat weer op sy beurt vir iets anders verruil kon word. Dit is gedoen deur sekere metale af te weeg. Abraham het dus vierhonderd sikkels silwer afgeweeg ter betaling van ‘n plek waar sy familie begraaf kon word (Genesis 23:16). Die metale waarmee handel gedryf is, was hoofsaaklik goud, silwer en koper. Op een stadium is hierdie metale tot standaardvorme gevorm, soos byvoorbeeld skywe, stawe en ringe, maar ‘n ware muntstelsel het nie voor die sewende eeu v.C. ontstaan nie. ‘n Merk van die koning is op ‘n stuk metaal geplaas om die gewig en die suiwerheid daarvan te waarborg en derhalwe ook die waarde daarvan. Munte word eers redelik laat in die Bybel vermeld. Eers in Nehemia se tyd lees ons van “dragmes van goud” (Nehemia 7:71) wat deur Darius van Persië gemunt is. Muntstukke was meer algemeen in die Nuwe Testamentiese tye, maar daar was so baie soorte dat dit soms baie verwarrend was. Daar was drie geldstelsels in werking. Die Romeinse muntstelsel was internasionaal en die munte is van koper, brons, silwer en goud gemaak. Toe Jesus sy dissipels beveel het om nie goud, silwer of koper in hul beurse met hul saam te neem nie (Matteus 10:9), het hy waarskynlik na hierdie muntstelsel verwys.
‘n Muntstuk uit die tyd van die prokurator Pontius Pilatus (30 n.C.).
Die Romeinse muntstelsel
4 quadrans = 1 as (kopermunte) 4 as =1 sestertius (brons) 4 sestertii = 1 denarius (silwer) 25 denarii = 1 aureus (goud)
Die Romeinse munte word dikwels genoem in die Nuwe Testament. Jesus het gesê dat as iemand ‘n regsaak teen jou gemaak het en jy daarom in die tronk beland, jy nie daaruit sou kom alvorens jy die laaste quadrans daarvan betaal het nie (Matteus 5:26). Matteus 10:29 vertel vir ons dat twee mossies vir ‘n sestertius verkoop is. Die mense wat in die wingerd gewerk het (Matteus 20:1-16), het elk ‘n denarius ontvang, wat die standaardloon vir ‘n werker was. Die barmhartige Samaritaan het twee denarii aan die eienaar van die herberg betaal (Lukas 10:35). Jesus het gevra dat ‘n denarius aan hom gegee moes word toe hy uitgevra is of ‘n mans aan die keiser belasting moes betaal of nie (Markus 12:15).
‘n Denarius uit die tyd van Keiser Tiberius.
Die Joodse muntstelsel
Die Romeine het toegelaat dat daar ook ander muntstelsels, benewens hul eie, in omloop kon wees. Daar was derhalwe ook ‘n baie beperkte Joodse muntstelsel in omloop. Munte is moontlik deur Nehemia gemunt, waarskynlik sodat die tempelbelasting daarmee betaal kon word. Na Nehemia is daar nooit weer van munte gehoor nie totdat een van die afstammelinge van die Makkabeërs hierdie voorreg van die Siriese heersers verkry het (1 Makkabeërs 15:6). In die Nuwe Testamentiese tye was daar wel Joodse munte wat in die tempel gebruik is. Ons lees byvoorbeeld van ‘n Joodse muntstuk, die lepton, wat “dun” beteken. Die weduwee het dit in die tempel se skatkis gegooi (Markus 12:42). Dit was omtrent gelyk aan die helfte van ‘n quadrans. Die eerste “werklike” Joodse munte is ten tye van opstande geslaan, naamlik tussen 66 en 70 n.C. en tussen 132 en 135 n.C.
Die Griekse muntstelsel
Die derde muntstelsel wat gebruik is, was die Griekse munte. Dit is oorspronklik deur Aleksander die Grote in Akko ingestel en vir verskeie eeue daarna gemunt. Hierdie muntstelsel het soos volg gelyk:
2 dragmes = 1 didragme
2 didragmes = 1 tetradragme (of stater)
2 tetradragmes = 1 minan
groot kiomp minas = 1 talent
Die dragme was die ekwivalent van ‘n denarius. Die stater was dus gelyk aan vier denarii. Ook hierdie munte word in die Nuwe Testament genoem. Die vrou in Lukas 15:8 het ‘n dragme verloor. Die didragme was die ekwivalent van die halfsikkel wat die Jode aan tempelbelasting moes betaal. Die muntstuk was egter nie baie algemeen nie en dus is ‘n tetradragme vir twee persone gebruik. Dit is die muntstuk wat Petrus in die vis se bek gevind het en wat hy toe gebruik het om sy en Jesus se belasting te betaal (Matteus 17:27). In Lukas 19:13 ev het die man tien minas aan elk van sy diensknegte gegee sodat hulle daarmee kon handel dryf. Die talent was ‘n groot bedrag geld en nie ‘n muntstuk nie. Dit is ook gebruik om ‘n baie groot skuld aan te dui (10 000 talente-Matteus 18:24). In Matteus 25:14-30 lees ons van die een dienskneg wat vyf talente gekry het terwyl die ander een slags twee ontvang het.
Twee dilepton muntstukke wat uit die periode van die Joodse Opstand (66-70 n.C.) dateer.
Skrywer: Prof Hennie Stander