Profetiese aksies – Hermie van Zyl

image_pdfimage_print

‘n Leser vra:

Wat is profetiese aksies?

Antwoord

Prof Hermie van Zyl antwoord.

Profetiese aksies of handelinge hang in die algemeen saam met die optrede en uitsprake van profete. Dit kan dus help om eers ‘n paar algemene opmerkings te maak oor profesie as sodanig.

Ons dink dikwels aan profesie as uitsprake of voorspellings oor die toekoms. Profete se hooftaak was egter nie om die toekoms te voorspel nie, maar om die wil van God vir hulle eie tyd bekend te maak. Hier kan ons dink aan die optrede van die profeet Amos in die Ou Testament. Hy het opgetree teen die Noordelike Ryk in die agste eeu vC. Sy hele bediening het daarin bestaan om die sosiale wanpraktyke van die Israelitiese samelewing aan die kaak te stel, waar rykes al ryker geword het en armes al armer. Hy noem hierdie wantoestande by die naam (Am 5) en roep die volk op om geregtigheid soos watergolwe te laat aanrol (Am 5:24). Eers wanneer geregtigheid gedy, begin leef die volk in ooreenstemming met God se wil.

Verder moet ons ook onderskei tussen ware en vals profesie. Jeremia praat byvoorbeeld van profete wat in die Naam van God optree sonder dat hulle enige boodskap of opdrag van God ontvang het (kyk Jer 23:9-40). Hulle boodskap is dus nie te vertrou nie. Sommige geleerdes bring hierdie “profete” in verband met die kultiese profete wat in die tempel diens gedoen het, in wie se belang dit vanselfsprekend was om uitsprake te maak wat die koning en die volk graag wou hoor. ‘n Goeie voorbeeld is wat ons in die tyd voor die Suidryk se Babiloniese ballingskap kry. Die vals profete het graag aan die koning en die volk gesê dat hulle nie bekommerd hoef te wees oor die Babiloniese gevaar nie, want God woon in die tempel in Jerusalem en sal nooit toelaat dat die tempel en Jerusalem vernietig word nie. Hierdie vals profete het daarom uitgeroep: “Dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel, dit is die Here se tempel” (Jer 7:4), bedoelende: ons is veilig, want God woon onder ons. Dit was egter Jeremia, die ware profeet, se taak om hierdie blinde geloof in die tempel en God se beskermende teenwoordigheid as vals vertroue uit te wys, om aan die volk te sê dat hulle nie hulle vertroue in leuens moet stel nie, en om die volk op te roep tot bekering en om te doen wat reg is (Jer 7:3-11).

Uit die aard van profete se roeping as boodskappers van God het hulle ook uitsprake oor die toekoms gemaak. Hulle het veral die oordele van God oor die nasies en oor Israel aangekondig, veral as dié hulle nie tot God bekeer nie, maar hulle het ook God se toekomstige dade van redding, heil en herstel bekend gemaak. Dit is veral in verband met onheilsaankondigings dat die profete dikwels met handelinge vorendag gekom het wat op simboliese manier uitdrukking gee aan wat in die toekoms sal gebeur. Voorbeelde hiervan is die volgende: Jeremia moes deur middel van ‘n kleipot wat in die vervaardigingsproses misluk het en toe oorgemaak moes word, aan die volk voorhou dat God soewerein is en dat hy met sy volk kan maak wat Hy dink in hulle beste belang is (Jer 18:1-10); hy moes by geleentheid ‘n juk op sy nek dra om te illustreer dat die volk onderwerp sal word aan die juk van koning Nebukadnesar van Babel (Jer 27:1-11); hy moes ‘n linnegordel gaan wegsteek by die Eufraatrivier en toe weer na ‘n ruk gaan haal. So moes hy en die volk leer dat net soos ‘n linnegordel kan vergaan, nadat dit mooi heel en skoon was, net so sal die prag van God se volk ook vergaan (Jer 13:1-11); Esegiël moes weer ‘n baksteen neem, Jerusalem daarop teken en toe allerlei beleëringsimbole daarteen bou om die beleëring van Jerusalem aan die volk voor te stel (Eseg 4:1-3); hy moes verder vir 390 dae op sy linkersy en 40 dae op sy regtersy lê, as simbool van die sondes van respektiewelik Israel en Juda wat hy so moes dra (Eseg 4:4-6); hy moes ook sy hare en baard afskeer, in drie verdeel en bepaalde handelinge daarmee uitvoer om te wys wat God alles met Jerusalem gaan doen (Eseg 5:1-17). Ook in die Nuwe Testament lees ons van profetiese handelinge. Agabus het sy hande met Paulus se gordel vasgebind om daarmee Paulus se lot in Jerusalem uit te beeld – dat hy deur die Jode gevange geneem sou word (Hand 21:1-11); Jesus het na sy intog in Jerusalem die geldwisselaars en duiweverkopers van die tempelterrein verjaag om te wys dat die tempel ‘n huis van gebed is en nie ‘n markplein nie (Matt 21:12-13); Jesus beveel ook die dissipels om die stof van hulle voete af te skud by ‘n dorp wat hulle nie wil ontvang nie, om daarmee God se oordeel oor die dorp uit te beeld (Matt 10:14-15).

Profetiese handelinge het dus ten doel om op ‘n aanskoulike en treffende manier te illustreer wat God in die toekoms beplan. Dit is egter nie magiese dade wat in sigself gebeure in werking stel nie, maar moet steeds verstaan word as illustrasies binne die algemene boodskap en optrede van die profete

Skrywer:   Prof Hermie van Zyl

image_pdfimage_print