Wie presies is die Kumraangemeenskap?
Wie presies is die Kumraangemeenskap? – Jan van der Watt
Ons lees wel nie van die Kumraangemeenskap in die Bybel nie, maar die ontdekking in 1947 van hulle biblioteek naby die ou ruïnes van hulle dorpie langs die Dooie see, het hulle meer as bekend gemaak. (Die dorpie lê 400 meter onder seespieël). Hulle was ‘n gemeenskap van godsdienstige Jode wat in die tyd van Jesus wes van die Dooie See gebly het om so ver as moontlik weg te kom van die slegte invloede van die stad Jerusalem af. Hulle het hulle sowat 100 jaar voor Jesus se geboorte daar begin vestig. Hulle word dikwels met die Esseners (ook ʼn konserwatiewe Joodse godsdienstige groep) verbind. Omdat Johannes die Doper in daardie area opgetree het en ook net sekere kos (sprinkane en heuning) geëet het, verbind geleerdes hom dikwels met hierdie groep, maar dit is nie seker nie.
Die belangrike van die Kumraangemeenskap is dat uit die baie dokumente wat in hulle biblioteek bewaar is, ons sommer baie oor die Jode wat in Jesus se tyd geleef het, kan leer. Dit het ‘n hele wêreld oor die Jode vir ons oopgemaak. (Die biblioteek het 2000 jaar onontdek in die grotte in die berge rondom die Kumrangemeenskap se dorpie gelê. Die grotte was so hoog en onbereikbaar dat niemand die moeite gedoen het om dit te probeer bereik nie. Dit was egter toe ‘n herdertjie ‘n klip in een van die grotte gegooi en potte hoor breek het, dat hulle ondersoek gaan instel het. Dit het tot die ontdekking van hierdie wonderlike ou biblioteek gelei.).
Die dorpie self is sedert die vyftigerjare goed opgegrawe. Daar was verskeie rituele baddens, kamers waar die gemeenskap saamgekom het, waar hulle dokumente gedupliseer het, plekke waar hulle potte gemaak het om hulle dokumente in te stoor, en so meer. Omdat hulle in die woestyn gewoon het, was daar ook diep wateropgaartenks in die rots uitgekap. Daar is heelwat kanale wat hulle in staat gestel het om met die bietjie reën wat geval het, sommer baie water op te gaar. Hulle het natuurlik baie water nodig gehad om elke dag ritueel te bad. ‘n Interessantheid is dat daar geen slaapkamers in die ruïnes gevind is nie. Dit beteken dat die mense nie in die geboue self geslaap het nie. Daar is egter tekens gevind dat hulle in die grotte in die omgewing geslaap het. ʼn Ander alternatief is dat hulle ook in tente rondom hierdie geboue by Kumraan gebly het. Daar is ‘n begrafplaas met sowat 1000 grafte gekry. Behalwe vir enkele vroue en een kind is die grafte almal van mans. Die vroue was moontlik met die lede getroud voor hulle by die gemeenskap aangesluit het en kon dus ook daar gewoon het.
In 68 nC is die dorpie deur die Romeine vernietig en dit is nooit weer opgebou nie.
Skrywer: Prof Jan van der Watt