Die Openbaring aan Johannes – Die ontelbare menigte (7:9-17) – Francois Malan

image_pdfimage_print

7:9 In 7:4 hoor Johannes die simboliese vol getal van God se verseëldes; in 7:9 sien hy ‘n groot ontelbare menigte uit elke nasie, stam, volk en taal. God se verseëldes sluit almal in wat die Lam volg (vgl. die Here se belofte aan Abraham in Gen 17:4-5). Hulle lewe op die aarde as dienaars van God word deur die verseëling gewaarborg, maar hulle is ook vir die hmel bestem, om saam met God en die Lam as oorwinnaars fees te vier. Teenoor almal oor die hele aarde wat in die grotte en skeure wegkruip en die dood soek om die Lam se oordeel te ontvlug (6:15-17), staan die menigte sonder vrees in die teenwoordigheid van die troon en die Lam. Hulle wit stolas en palmtakke in die hand is tekens van oorwinning (stolas is lang togas wat tot op die voete strek as simbool van hoë status, van bv. ‘n oorwinnende Romeinse generaal op sy triomftog deur die stad) – hulle staan voor God se troon, die ereposisie wat die Lam vir hulle verdien het, en waaraan hulle volhardend vasgehou het. Soos die palmtakke by Jesus se intog in Jerusalem (Jn 12:13), getuig die palmtakke van feesvreugde, soos die Joodse Sukkot, hulle Loofhuttefees met verblyf in hutte van palmtakke gevleg, as dankfees na die insameling van die olywe en druiwe-oes, en ter herinnering aan die uittog uit die Egiptiese slawerny (Lev 23:39-43) .

7:10 Met ‘n luide stem roep hulle uit: Die verlossing behoort aan ons God wat op die troon sit en aan die Lam. Die menigte vier hulle bevryding tydens en na die vervolging. Elkeen wat volhard het met sy geloof in Jesus, selfs tot die dood toe, word met die wit kleed beklee (3:4-5), soos die 144,000 verseëldes alle gelowiges insluit. In 6:10 het hulle geroep om God se regverdigheid. Hier jubel hulle dat sy verlossing gekom het met die sterwe en opstanding van die Lam.

7:11-12 Die groot menigte se jubelroep oor hulle verlossing is aansteeklik en al die engele – God se hemelse boodskappers – die vier lewende wesens wat die skepping verteenwoordig, en die ouderlinge wat die kerk verteenwoordig, val aanbiddend voor God se troon neer, met hulle gesigte op die grond as teken van ootmoedige eerbetoon. Twee ‘Amens’ omsluit die sewevoudige lof aan God, wat telkens met ‘en’ aan mekaar verbind word (in Grieks) om elkeen van die sewe onderdele te beklemtoon, en die ‘Amens’ bevestig dit: lof vir God se verlossing van die menigte; die heerlikheid van die God van liefde en sy liefde vir die wêreld (vgl. Jn 17:4-5); wysheid met sy plan van verlossing (1 Petr 1:19-20); danksegging vir die grootheid van sy genade (Ps 69:31: letterlik: ek sal Hom grootmaak met ‘n loflied); mag, sy almag (4:11; 5:12; 12:10; 19:1); sterkte, sy onstuitbare vermoë om verlossing tot uitvoer te bring. Hy is ons God wat ons lewe in sy hand hou, en ons leef vir Hom; al die lofbetuigings kom Hom vir ewig toe.

7:13-14 Die dubbele vraag vra die leser se aandag vir die identiteit van die groot menigte en hulle plek van oorsprong, soos van Bo af gesien. Die ouderlinge verduidelik aan Johannes dat die groot menigte steeds vanuit die groot verdrukking (Mt 24:21) kom wat met Jesus se lyding, dood en opstanding begin het tot sy wederkoms (1:9; 2:10); die Griekse woord ‘die komendes’ wys dat dit steeds aangaan; ‘vanuit’ wys dat hulle deur die verdrukking gaan en nie daaruit ontsnap nie. Die lewe van gelowiges op aarde word gesien as voortdurend in die vuurproef van versoekings en teenstand, soos Jesus dit ook beleef het. Die uiterlike kleed is ‘n simbool van die innerlike lewe en geestelik stand van die persoon. Die gelowiges het hulle klere gewas in die bloed van die Lam wat ons uit liefde verlos het van ons sonde (1:5); die aktiewe werkwoord ‘hulle het gewas’ wys na die mens se verantwoordelikheid om dwarsdeur sy lewe te identifiseer met Jesus se offerdood vir ons, sodat ons rein voor God kan lewe, en waardig is om voor God se troon te staan en in sy teenwoordigheid te lewe (voor Israel se ontmoeting met God by Sinai moes hulle ook hulle self reinig en hulle klere was, Eks 19:10-11).

7:15 Die gelowiges reageer op hulle veilige deurgang op aarde deur hulle aanbidding voor God se troon waar hulle Hom dag en nag in sy tempel dien. Dit is in teenstelling met die volgelinge van die dier wat dag en nag geen rus sal hê van hulle foltering nie (14:11). In 5:10 word die Lam geloof omdat Hy van die gelowiges priesters vir God gemaak het. Hulle diens as priesters is om God dag en nag onophoudelik te loof – Jerusalem se tempel was snags gesluit. In 21:22 word gesê dat daar geen tempel in die nuwe Jerusalem is nie, want God en die Lam is volmaak teenwoordig in die hemel (vgl. Jn 2:21: ons nuwe tempel om by God te wees, is die liggaam van Jesus, afgebreek en deur Hom in drie dae opgebou). Hy wat op die troon sit as regeerder, sal hulle lei en beskerm deur ‘tent op te slaan’ oor/tussen/by hulle (die Griekse voorsetsel kan enige van die drie aandui). Die wolkkolom bedags en vuurkolom snags was die teken van sy teenwoordigheid, leiding en beskerming van Israel deur die woestyntog (Eks 13:21-22; 14:19-20).

7:16-17 Teenoor die vier winde van vernietiging aan die begin van die hoofstuk, word vier beloftes gemaak aan dié wat dwarsdeur die vuurproef getrou bly: geen honger, dors, of verbranding deur die son of hitte meer nie. Dieselfde belofte is in Jes 49:10 gemaak aan die ballinge wat terugkeer uit Babilon. Om die Middellandse-See en in die Sinaiwoestyn was sonsteek en hittegolwe goed bekend (vgl 2 Kon 4:19; Ps 121:6). Gelowiges keer uit die ballingskap van sonde veilig terug na die nuwe beloofde land deur die Lam te volg (18:4), na ‘n hemel waar die aardse verwysingsraamwerk nie meer bestaan nie (Johannes probeer om sy visioene in aardse terme oor te dra). Die Lam sal hulle as herder lei na strome van lewende water (Op 21:6; Jn 4:14; 7:37-39). Die nuwe lewe word voorgestel as ‘n fontein van water wat uit ons binneste vloei as beeld van die Gees wat in ons kom woon (Jn 7:38). God die Heilige Gees woon nou reeds in die gelowiges, maar dan sal ons volledig in Hom lewe, soos die Vader in die Seun en die Seun in die Vader (Jn 14:10) en hulle in ons (Jn 14:23). Soos ‘n ouer sy kind se trane afvee, sal God die gelowiges se trane van pyn en lyding tydens hulle vuurproef op aarde, wegvee/uitwis (Op 21:4). Die teerheid en troos van die Lam en van God wat die hele skepping sal regmaak, staan in skrille kontras met die chaotiese gebeure in hoofstuk 6.

Waar is God in al die gebeure van ons dag? Op. 7 teken twee prente wat sekuriteit en moedskep uitbeeld. Gelowiges op aarde word op hulle voorkop verseël as God se eiendom. Daarna verskuif die fokus op ‘n hemelse toneel waarin dieselfde getal Christene rondom die troon feesvier en God en die Lam se lof besing. Dit laat Christene moed skep om te weet ons lewensreis op pad daarheen sal soms afgryslik wees, maar die veilige aankoms is gewaarborg. God se versekering dat Hy ons besit en vir ons omgee, plaas ‘n nuwe perspektief op ons op-pad-wees om vir ewig by God te wees. Die fees in die hemel is die ewige lewe, die volmaakte saamwees met God en die Lam.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...