Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hemelvaart
Die Groot Geloofswoordeboek: Die Hemelvaart
Hemelvaart
Die hemelvaart van Jesus staan baie sterk in die skadu van sy wonderwerke, kruis en opstanding waaraan baie meer aandag gegee word in die Bybel en in die kerklike lewe. Dit is net Lukas wat dit beskryf (Luk 24:51; Hand 1:2, 9-11, 22; 2:33-34), maar daar is ‘n aantal direkte en indirekte verwysings daarna (Ef 4:8-10; 1 Tim 3:16; Heb 4:14; 7:26; 9:24). Die verwysing in Markus 16:19 is deel van 16:9-20 wat waarskynlik nie oorspronklik in die Evangelie van Markus ingesluit was nie, maar later bygevoeg is.
Wat die hemelvaart nie beteken nie
Jesus se hemelvaart het besondere betekenis. Maar kom ons kyk eers na wat dit nie beteken nie. Jesus se hemelvaart beteken nie dat Hy weg is en ‘n plaasvervanger in sy plek gestuur het nie (byvoorbeeld die Heilige Gees of die pous). Dit is tog opvallend dat Matteus sy Evangelie afsluit met Jesus se woorde dat Hy altyd by ons bly (28:20) sonder enige verwysing na sy hemelvaart. Indien Jesus se hemelvaart sy vertrek was, kon Matteus dit tog nie gedoen het nie. Dis net so opvallend dat Johannes skynbaar impliseer dat Jesus wel ‘n hemelvaart gehad het, maar daarna weer by die dissipels was. Maria mag nog nie aan Hom vat nie omdat Hy nog nie na die Vader opgevaar het nie (20:17). Maar daarna mag Tomas wel (20:27). Beteken dit dat Johannes die voorstelling het dat Jesus tussen hemel en aarde beweeg?
Dit alles beteken dat Jesus vandag nog by ons is, net op ‘n ander manier as by die dissipels. Hy was in persoon by hulle, maar Hy is deur die Heilige Gees by ons. Hy en die Vader het beide deur die Gees in die gemeente kom woon (Joh 14:23) en Jesus sit sy werk onder ons voort (Hand 2:47). Ons is sy liggaam en Hy ons hoof (kop), en ‘n liggaam kan tog nie sonder ‘n kop wees nie.
En tog is Hy ook in die hemel aan die regterhand van die Vader (Matt 26:64; Hand 2:33; 3:21; 5:31). En juis in hierdie opsig het sy hemelvaart vir ons besondere betekenis.
Wat sy hemelvaart wel beteken
Eerstens is sy hemelvaart die voltooiing van sy verhoging. Meestal word daar onderskei tussen Jesus se vernedering en sy verhoging. Sy vernedering was sy menswording, aardse bediening, kruisiging, dood, begrafnis en hellevaart. (*Ter helle neergedaal) Sy verhoging is sy opstanding en sy hemelvaart. Sy opstanding is die teken dat die Vader sy kruisoffer aanvaar het. Sy hemelvaart is sy terugkeer na waar Hy was, maar met baie meer heerlikheid (Fil 2:9-11).
Tweedens is daar nou al klaar ‘n mens by die Vader, of liewer dié Mens Jesus. Dit gee ons die dubbele versekering dat die Vader ons altyd voor oë het en ons nooit sal vergeet nie. Trouens, daar is ‘n sin waarin ons self klaar in die hemel is (Ef 2:6). Ons is met Jesus verenig. Ons is sy liggaam. Hy is ons lewe (Kol 3:4). Hy kan tog nie sonder sy liggaam by die Vader wees nie. Miskien help dit ons ook om iets te probeer verstaan van ons lewe na ons dood. (*Tussentoestand) Ons is klaar met Christus verenig. Hy het opgestaan in ‘n verheerlikte lewe waaroor die dood geen mag het nie. Ons deel in hierdie lewe. Daarom kan die dood ons nie van Hom skei nie. Die dood is ‘n beëindiging van ons lewe, maar nie van ons aandeel aan sy lewe nie.
Derdens tree Hy voortdurend by die Vader in vir ons (Heb 7:25). Die feit dat Hy in die direkte teenwoordigheid van die Vader is, word op ‘n interessante manier beklemtoon. Ons lees dat Hy “deur die hemele gegaan het” (Heb 4:14). Die “hemele” sien waarskynlik op die wolkehemel en die firmament of blou koepel bo die aarde. Die derde hemel, die eintlike woonplek van God, is dan bokant hierdie hemele. As Jesus dan deur hierdie hemele gegaan het, beteken dit dat Hy nie net op aarde deur die voorhangsel in die tempel tot in die Allerheiligste gegaan het soos die priesters van die Ou Testament nie, maar deur die hemele om direk in die teenwoordigheid van God te wees (“die heiligdom,” die ware “allerheiligste”, Heb 9:12) om daar vir ons in te tree.
Maar daar is nog iets. Tomas se eis om die wonde van die kruisiging aan Jesus te sien, en Jesus se uitnodiging dat hy kan kom kyk en voel (Joh 20), veronderstel dat Jesus ná sy opstanding nog die merke van sy kruisdood dra. Dit beteken dat Hy dit as’t ware in die hemel voor die Vader kan ophou wanneer Hy op grond van sy offer vir ons by die Vader intree.
Die feit dat Jesus deur die hemele gegaan het, het nog ‘n betekenis. Hy het “alles met sy teenwoordigheid vervul” (Ef 4:10). Dit is die vierde betekenis van sy hemelvaart. Dit herinner ‘n mens aan die ander omvattende uitsprake oor Jesus, soos dat Hy alles in almal vervul (Ef 1:23), dat dit God se doel is om alles onder Hom as Hoof te verenig (Ef 1:10), dat alles vir Hom geskep is en deur Hom in stand bly (Kol 1:16-17). Terwyl dit nie regtig duidelik is wat dit alles beteken nie, bring dit ‘n mens nogtans in aanbidding voor Hom. Hy is wonderlik!
Skrywer: Prof Adrio König