Daniël 9
Daniël 9 – Marius Nel
Antoinette vra:
Die Amerikaners gebruik Daniel 9:20 tot 27 om hulle siening van die wegraping en die 7 jaar van massa bekering van die Jode te bevestig. Hoe moet ons daardie verse verstaan?
Antwoord:
Dr Marius Nel antwoord:
Die volgende kom uit die kommentaar wat ek oor Daniël vir die Eenvolumekommentaar (CUM, 2009) geskryf het oor die gedeelte. Ek vertrou dit gaan u vraag beantwoord.
9:20-24 Gabriël interpreteer die sewentig jaar vir Daniël. Terwyl Daniël nog met God in sy gebed worstel, verskyn die engel Gabriël weer aan hom (9:20-21). Gabriël het ‘n belangrike boodskap en kom Daniël inlig: die Jeremiateks wat oor die duur van die ballingskap handel, is meerduidig. Na regte is dit eintlik ‘n visioen (9:23). Gabriël begin sommer dadelik met die uitleg. Daar is sewentig tydperke vir die Joodse volk en Jerusalem vasgestel. In die Hebreeuse teks staan daar sewentig (keer) sewe. Vermenigvuldig, gee dit vierhonderd en negentig (70 x 7 = 490). Dit sou eintlik beter gewees het om die uitdrukking te vertaal met sewentig tydperke van sewe jaar.
Gedurende hierdie tydperk sal daar twee groot gebeure plaasvind: (a) die volk se goddeloosheid en sonde sal uitgewis word, en (b) God gaan ‘n nuwe begin met hulle maak. 9:24a handel oor die eerste gebeurtenis, terwyl 9:24b oor die tweede gebeurtenis handel. Die hoofklem val egter op die tweede gedeelte van 9:24. Daar staan: Dit is die tyd waarin ‘n blywende geregtigheid tot stand gebring sal word, waarin die profesie en die visioen tot vervulling sal kom en die tempel heringewy sal word. Die herinwyding van die tweede tempel het in die jaar 164 vC plaasgevind. Sedertdien word hierdie herinwyding deur middel van die Gannukafees herdenk.
9:25-27 Die uitgebreide interpretasie van Gabriël. In sy uitgebreide uitleg van die sewentig tydperke van sewe jaar breek Gabriël die getal sewentig in die volgende samestellende dele op: 7 + 62 + 1. Die sewentig tydperke van sewe jaar verteenwoordig eintlik drie eras. Oor elkeen van die eras word iets gesê, maar die klem val weer eens (soos by die ander visioene: Dan 2 en 7) op die laaste era.
- Die eerste era (9:25a).
Gabriël maak aan Daniël bekend dat daar ‘n era van sewe tydperke sal verloop vandat die opdrag gegee is dat Jerusalem herstel en herbou moet word, totdat ‘n regeerder kom wat deur God uitgekies is. Omgereken na jare beteken dit dat die era nege en veertig jaar lank sal duur (7 x 7 = 49).
Die opdrag dat Jerusalem herstel en opgebou moet word, is reeds in Jeremia 29:10 geïmpliseer en daarom kan ons die beginpunt neem toe Jeremia dié uitspraak gemaak het (594 vC). Die eindpunt moet saamval met die aanstelling van ‘n regeerder wat deur God uitverkies is (9:25a). Die uitverkore regeerder (gesalfde volgens die Hebreeuse teks) na wie die Gabriël verwys, is Jesua, wat na die ballingskap as hoëpriester aangestel is (vgl Sagaria 3:1). Die tydperk tussen die uitspraak van Jeremia (594 vC) en die aanstelling van die eerste hoëpriester van die na-ballingskaptyd beloop vyf en sestig jaar (594 vC – 538 vC = 56).
Neem ons egter die verowering van Jerusalem (586 vC) as die beginpunt en die aanstelling van Jesua as hoëpriester (538 vC) as eindpunt, beloop die verskil agt en veertig jaar (586 vC – 538 vC = 48). Beide getalle kom dus naby aan die nege en veertig jaar waarvan hier sprake is.
- Die tweede era (9:25b-26a).
Gedurende die tweede era, wat twee en sestig tydperke lank sal duur, sal Jerusalem opgebou bly, met strate en verdedigingslote (9:25b). Omgereken na jare beteken dit dat die era vier honderd vier en dertig jaar lank sal duur (62 x 7 = 434). Aan die einde van hierdie tydperk sal ‘n regeerder onskuldig doodgemaak word. Die stad en die heiligdom sal verwoes word deur die volk van ‘n ander regeerder wat op die toneel sal verskyn (9:26a).
Ons het hier te doen met die ná-ballingskaptyd wat in 538 vC begin het. Vir ‘n groot deel van hierdie tyd het die Jode onder Persiese gesag geleef, maar in 333 vC het Aleksander die Persiese Ryk ingepalm. Na Aleksander se dood is sy ryk verdeel. Aanvanklik het die Ptolemeërs die beheer oor Palestina gehad, maar in 198 vC het die Seleukiede die beheer oorgeneem. Die Seleukiede koning wat die Jode al hulle dae gegee het, was Antiogos IV, wat van 175-164 vC regeer het. Daniël 9:26a verwys na hom. Die regeerder wat onskuldig doodgemaak sal word (9:26a), verwys na die dood van Onias III, die hoëpriester wat in 171 vC vermoor is. Reken ‘n mens egter van 538 vC tot 171 vC, gee dit 367 jaar en nie 434 soos hierbo bereken nie. Ook in hierdie geval moet ons rekening hou met ‘n breë aanduiding van ‘n tydperk en nie met ‘n presiese, tot-op-die-dag-en-datum-korrekte voorspelling nie.
- Die derde era (9:26b-27).
Die laaste era sal slegs sewe jaar duur. In hierdie geval moet ons die einde van die vorige era neem as die beginjaar van die laaste een. As ons die af-treksom doen (171 – 7 = 164), sien ons dat die laaste era met die regeringstyd van Antiogos IV verband hou. Hy het immers regeer van 175-164 vC. Gabriël teken die laaste era as ‘n buitengewoon onstuimige een. Daar sal oorlog wees tot die einde toe en rampe soos besluit is (9:26b). Maar dit sal veral die tweede helfte van hierdie era (die laaste drie en ‘n half jaar) wees wat deur godsdienstige vergrype van Antiogos IV gekenmerk sal word. Hierdie getal stem weer ooreen met “‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd” (die hele vasgestelde tyd) waarvan ons in Daniël 7:25 gelees het (vgl ook 8:14 en 26).
Antiogos IV het in 167 vC begin met sy godsdienstige beleid wat die gelowige Jode met soveel wrewel vervul het. Afgesien daarvan dat hy die diereoffers en graanoffers afgeskaf het (9:27a), het hy ‘n ding wat ‘n gruwel is vir God op die een hoek van die tempel gesit. Hierdie ding verwys na die altaar vir die god Zeus Olimpos wat Antiogos IV laat oprig het. Maar die hoop wat hier aan die gelowiges voorgehou word, is dat Antiogos IV nie vir altyd koning sal kraai nie. Sy dood en die einde van sy regering is in sig (9:27b).
Die jaartalle
‘n Mens sou kon vra: Hoekom het die skrywer nie maar die korrekte jaartalle gebruik nie? Die antwoord is: In daardie tyd het niemand noukeurig boek gehou van die datums van belangrike gebeure nie. Beter gestel: Daar was nie ‘n eenvormige stelsel van jaartelling hou nie.
Voorts het skrywers net ‘n breë idee gehad van die duur van sekere tydperke. Die skrywer van die boek Konings bereken byvoorbeeld die tydperk tussen die uittog uit Egipte en die begin van die bou van die tempel as vier honderd en tagtig jaar (1 Kon 6:1). Van die begin van die bouwerk aan die tempel tot die einde van koning Sedekia se regering lewer vier honderd en dertig jaar op – dis nou te sê as ‘n mens die getalle in die Koningsboeke bymekaar tel.
Jeremia verwag weer die einde van die ballingskap na sewentig jaar (Jer 29:10). As ‘n mens hierdie syfers bymekaar tel, kry jy nege honderd en tagtig jaar vir die tydperk van die uittog tot die einde van die koningstyd (480 + 430 + 70 = 980). Nege honderd en tagtig jaar is twee maal vierhonderd en ne-gentig jaar (490 x 2 = 980)!
Die skrywer van die boek Daniël het na alle waarskynlikheid sy vier honderd en negentig jaar hieraan ontleen. Vier honderd en negentig jaar dui dus ‘n lang tydperk tussen twee belangrike gebeure aan.
‘n Preek uit Jeremia. In ‘n sekere sin kan ‘n mens hierdie hoofstuk as ‘n preek gebaseer op Jeremia 29:10 beskou. Die skrywer gebruik die teks uit Jeremia en herinterpreteer dit vir sy tydgenote. Hy wou hulle vertroos en bemoedig. Vir hom het Jeremia se uitspraak oor die duur van die ballingskap ook op hom en sy tydgenote se omstandighede gedui. Hulle beleef ‘n hernude ballingskap, maar dié keer in hulle eie land. Hulle kan nie hulle eie godsdiens sonder vervolging beoefen of hulle eie gebruike ongehinderd uitleef nie. Jeremia het egter voorsien dat die ballingskap nie vir ewig sal duur nie. Dit sou slegs sewentig jaar lank duur. Heel kreatief herinterpreteer die skrywer die getal sewentig en maak dit tot sewentig sewetalle. Voorts wys hy daarop dat daar in hierdie tydperk van vier honderd en negentig jaar drie duidelike eras onderskei kan word:
586 – 538 vC Die ballingskaptyd
538 – 171 vC Die na-ballingskaptyd
171 – 164 vC Die herleefde ballingskaptyd
Die troos wat hulle uit die Jeremiateks kon put, was dat daar ook aan hierdie ballingskap ‘n einde sal kom. God sal hulle nie in die steek laat nie.
In die Nuwe Testament vind ons ‘n boek wat ook as ‘n apokaliptiese* geskrif geklassifiseer kan word. Dié boek is Openbaring. Soos die boek Daniël pertinent vir die Jode van die tweede eeu vC troos wou bied, so het Openbaring die vroeë Christene getroos en bemoedig. Die boodskap in beide boeke is: God is in beheer van die geskiedenis en hy sal sy volgelinge nie in die steek laat nie. Sy koninkryk sal uiteindelik triomfeer (vgl Op 21:1-5). Ons troos as Christene wat in ander tye leef, is dat God die lewe van sy kinders in sy hande hou en dat Hy die toekoms met hulle ingaan. Geen mag op aarde kan ons uit sy hande ruk nie.
Skrywer: Dr Marius Nel