Die Openbaring aan Johannes – Drie groepe treur oor Babilon (18:5-19) – Francois Malan

image_pdfimage_print

18:5-8 Die rede waarom die gelowiges uit Babilon moet vlug voordat die plae haar gaan tref, is Babilon se arrogante hoogmoed. Ten spyte van die ongelowiges se lyding onder die sonstrale wat die swere van hulle sonde laat oopbars en die pyn van hulle tande se gekners teen die hael, is haar siening van haarself: ‘Ek sit steeds as ‘n koningin, ek is nie ‘n weduwee (verlate, soos Klaagl 1:1 sê) nie, en smart sal ek beslis nie aanvaar nie’ (18:7b, soos Laodisea 3:17). Johannes skilder dit ironies: ‘n Prostituut sien haarself as koningin. Hierdie arrogante misverstand van ongelowiges oor God se doel met hulle, verduister die tragiese dwaling van hulle self-vergoddelikking om mag te kry en ‘n gejaag na roem en selfbevrediging. Soos die dwases destyds die toring van Babel gebou het om tot aan die hemel te ryk om vir hulle ‘n naam te maak (Gen11:4), is Babilon se sondes so baie dat dit opgehoop kan word om tot aan die hemel te reik. Dit hou God teen hulle (vgl. 16:19) .

 

‘Babilon’ het die nasies ‘n ‘vol beker’ sonde laat drink. Wie God se oordeel daaroor moet uitvoer word nie gesê nie. Uit die oproep tot ‘my volk’ in 18:4 lyk dit of die gelowiges haar moet vergeld; 18:6 se ‘vergeld haar soos sy julle dit laat ontgeld het’ kan ook na al die onderdrukte massas onder Babilon se tirannie verwys; 17:15-18 het gesê die 10 konings en die dier sal die vrou haat, haar verlate en naak maak, haar vleis eet en haar verbrand. Romeine 12:19 sê: gelowiges moet hulle nie wreek nie, maar ruimte laat vir die oordeel, want die Here het gesê: ‘Aan My kom die wraak toe, Ék sal vergeld’ (Deutr 32:34-35). Rom 1:18,24,26,28 sê dat God hulle in sy toorn oorgee aan hulle eie begeertes en verwerplike denkwyse. Openb. 18:20 sê: God het julle oordeel oor haar voltrek. Hy doen dit deur hulle oor te gee aan hulle eie begeertes en onderlinge verdeeldheid.

 

Die versugtinge van die martelare in 6:10, word nou beantwoord. ‘Dubbel soveel’ is ‘n uitdrukking wat wil sê ‘volle vergelding’. Dieselfde beker wat vol onsedelikheid en verdrukking was (17:4) word nou vir Babilon propvol straf geskink (Jer 50:29): sy kry pyn en smart vir haar selfverheerlikking en weelderige lewe (18:7a).

Waar Laodisea nog ‘n kans gehad het om hulle te bekeer, is die oordeel van God nou finaal: 18:8 sê ‘op een dag tref al die plae haar,’ dit wil sê: skielik, soos in Dan 5:30: dieselfde nag waarin Daniel vir Belsasar die skrif teen die muur uitgelê het, is hy vermoor en het Kores die Pers die Babiloniese ryk oorgeneem. Die Romeinse Ryk in al sy glorie kan nie met die Here, die Almagtige God, vergelyk word nie. Die magtige Babilon (18:10) verkrummel voor die oordeel van God. Dood, smart, hongersnood en verbranding tref haar op een dag.

 

18:9-19 Nogeens beklemtoon die drie groepe wat treur, die finaliteit van die groot stad se wegsink in verwoesting en verlatenheid. Die drie groepe, wat elkeen op Babilon se grootheid floreer het, tree na vore om haar verlies te bekla. Elke groep hef hulle klaagsang aan met ‘Ellende! Ellende!’ (ouai, ouai O, wee! O, wee! 18:10,16,19) waarmee hulle die intense moeilikheid en verknorsing van hulle situasie uitdruk. Hulle staan op nou ‘n afstand as buitestaanders en kyk hoe hulle loopbane en lewenstog saam met Babilon in die slag bly (18:10,15,17). Johannes teken Babilon se ondergang deur die oë van haar minnaars met die woorde van hulle wat haar opgebou het en nou die grootste verlies ly, sodat die leser kan ‘uitkom’ uit Babilon wat op die rand van die ramp staan (18:4).

 

Die konings van die aarde wat hulle mag aan Babilon ontleen het, en ekonomies met haar owerspel gepleeg het met omkoopgeld, sal oor haar huil en rou wanneer hulle die rook van haar verbranding sien (18:9-10. Hulle klaagsang is eggo’s van die lyksange oor die groot stad Tirus (Eseg 26:15-18; 27:1-8; 26-36). Die treurlied is die teenstelling van die lofliedere van die 24 ouderlinge, wat al die gelowiges verteenwoordig. Hulle aanbid God, sit hulle krone voor sy troon neer en prys Hom (4:10-11). Die konings, wat hulle hoop en vertroue op Babilon gestel het, treur egter nou in wanhoop.

 

Die handelaars, wat ryk geword het uit hulle handel met Rome, voeg hulle lyksang by die konings se klaaglied, want niemand koop meer hulle handelsware nie, en hulle moes aanskou hoe soveel rykdom verwoes word (18:11-17a). Die 28 verskillende skeepsvrag-items word in Grieks opgenoem met ‘en’ na elkeen om elke artikel te laat uitstaan langs die ander. As hulle aan een vir een dink, huil hulle telkens opnuut oor die verlies daarvan. Die 28 (4×7) verteenwoordig alle handelsartikels (7 vir volledigheid/volkomenheid) oor die hele wêreld (4 vir die vier hoeke van die aarde); so vér het ‘Babilon’/Rome se wêreldwye invloed gegeld in die destydse bekende wêreld. Dit gee ook ‘n idee van die geweldige materialisme en Mammondiens van dié wêreldryk, en van elke wêreldryk. Die kosbare artikels word in die nuwe Jerusalem op hulle regte plek gevind as boublokke van strate en geboue, en vir die klere van die gelowiges (19:8; 21:18-21) – in die nuwe stad word kosbare artikels nie vereer as die sentrum van die mense se lewens nie. Die laaste twee van die 28 artikels, slawe (letterlik: liggame) en/naamlik menselewens, verhoog Babilon se verdorwenheid. Menselewens, geskep na die beeld van God, word beskou as handelsartikels wat saam met beeste, skape en perde verkoop word.

 

Elke skeepskaptein en elkeen wat iewers heen vaar, die matrose en hulle wat ‘n lewe maak uit die see (18:17b-20) voeg hulle klag by die konings en die handelaars se gekerm oor die ondergang van die groot stad deur wie alle skeepslui ryk geword het (vgl. 12:12 wat ellende vir die aarde en die see sien in die val van die duiwel – wat hulle met hulle sug na rykdom verlei en gevang het). Hulle retoriese vraag het net een antwoord: Geen stad is soos dié stad nie (vgl die stelling oor die draak in 13:4). Dit is Johannes se skerp ironie. Geen aardse stad kan met Babilon/Rome se prag en grootheid vergelyk nie, en in een uur verander dit alles in ‘n verlate wildernis. Die seelui sien hulle hele lewe se gejaag na materiële rydom gaan in rook op, en hulle gooi stof op hulle koppe as teken van wanhoop (soos die skeepslui oor Tirus, Eseg 27:30; soos Israel na die slag by Ai, Jos 7:6; Tamar oor haar skande, 2 Sam 13:19; vgl. Job se vriende, Job 2:12). Hulle wanhoop met ‘n jammerlike geween oor hulle verlies.

Skrywer:  Prof Francois Malan

 

image_pdfimage_print

You may also like...