Die Groot Geloofswoordeboek: Menseregte
Die Groot Geloofswoordeboek: Menseregte
- Individuele menseregte Kollektiewe sosiale menseregte Mensheidsregte en die regte van die natuur Selfbeskikkingsregte
Menseregte is ‘n baie belangrike saak, maar vir sommige tog omstrede. Hulle assosieer dit met Liberalisme en Kommunisme. Ander is oortuig dat ons geen regte het nie omdat ons bedelaars is voor God en net van sy genade kan leef.
Alles wat hierdie mense sê, is nie noodwendig verkeerd nie. Natuurlik verdien ons niks voor God nie en het ons geen regte voor Hom nie. En natuurlik het menseregte eintlik as deel van ‘n liberale mensbeskouing ontwikkel. Maar die afskaffing van slawerny is ook hoofsaaklik deur liberaliste gedryf, maar min mense sal vandag nog sê dit was verkeerd. Dié wat dit dalk nog sê, is of was in elk geval nie slawe nie.
Ons moet onthou dat die evangelie vir eeue goed gevestig was in Europa en dat baie waardes wat daar ontwikkel het, onder die direkte of indirekte invloed van die evangelie ontwikkel het. Hospitale, sorg vir gestremdes en hulp aan armes is alles waardes wat baie direk uit die evangelie gevloei het al was dit soms gedryf deur mense (“liberaliste”) wat self nie geglo het nie.
Watter gronde is daar in die Bybel vir die gedagte van menseregte? Sommige gebooie impliseer dat ons regte het. Die gebod lui dat ons nie mag moord pleeg nie. Dit beteken dat ‘n mens reg het op lewe. Ons mag nie steel nie. Dit beteken ons het eiendomsreg.
Maar dit is veral die feit dat die mens, en dus alle mense, as die *beeld van God geskape is wat aan mense, alle mense, ‘n besondere waardigheid gee en die implikasie het dat alle mense op gelyke vlak behandel moet word. En dit as sodanig is die basis vir menseregte.
Omdat mense as die beeld van God geskape is, mag hulle lewe nie geneem word nie, het hulle reg op ‘n menswaardige lewe, ensovoorts.
Voor die instelling van demokrasie in Suid-Afrika het die wit mense in elk geval omtrent al die regte gehad wat daarna net na alle mense uitgebrei is. Wit mense het regte gehad soos vryheid van beweging, vryheid van assosiasie, vryheid van mededinging. Nou het almal dit.
Eintlik het daar in die loop van die geskiedenis vier soorte/kategorieë menseregte ontwikkel: individuele menseregte, kollektiewe sosiale menseregte, mensheidregte en selfbeskikkingsregte.
- Individuele menseregte
Individuele menseregte het in 1776 amptelike erkenning gekry in die grondwet van die staat Virginië (later deel van die VSA). Die teorie is egter al ‘n eeu vroeër deur John Locke in Engeland ontwikkel. Dit het veral om drie basiese regte van die individuele mens gegaan: die reg op lewe, vryheid en eiendom. Hierdie regte was daarop gemik om die individu teen die staatsmag te beskerm. Ook in ons eie land is die Handves van Menseregte ‘n baie belangrike dokument wat die gesag van die staat inkort. Omdat die staat soveel mag het, kan dit maklik individue onregverdig behandel.
- Kollektiewe sosiale menseregte
Kollektiewe sosiale menseregte het vroeg in die vorige eeu veral onder die Sosialisme en Marxisme ontwikkel. Hierdie regte gaan uit van die gemeenskap en nie van die enkeling soos die individuele menseregte nie. Die teorie was dat die individuele regte aanleiding gee tot onbeperkte selfsug. Individue wat self oor groot mag beskik, kan deur middel van hierdie mag te veel vir hulleself inpalm tot nadeel van die gemeenskap as geheel. Die gemeenskap moet as geheel ontwikkel word, en die individu moet sinvol daarby inskakel. In ruil daarvoor het die gemeenskap dan weer die verantwoordelikheid om in bepaalde behoeftes van die individu te voorsien, soos behoeftes aan werkgeleentheid, loon, opvoeding/onderwys en gesondheidsdienste. Kritiek op hierdie menseregte is dat dit individuele inisiatief strem en dat ‘n gemeenskap nie sonder hierdie inisiatief vooruitgaan nie.
- Mensheidsregte en die regte van die natuur
Mensheidsregte en die regte van die natuur het maar teen die einde van die vorige eeu eers duidelik na vore gekom. Dit het gebeur omdat die aarde “klein” geword het en die mensdom baie sterker onderling verbonde is. Dit gaan veral om die reg op skoon lug en water, en die beskikbaarheid van basiese grondstowwe. As een land die lug besoedel, ly ander lande uiteindelik daaronder. As een die grondstowwe uitput, sal niemand dit later meer hê nie. Dit beteken dat internasionale samewerking baie belangrik geword het.
- Selfbeskikkingsregte
Selfbeskikkingsregte het in en na die tydperk van dekolonisasie ontwikkel. Gedurende die 1960’s is talle kolonies polities bevry, maar dit het gou duidelik geword dat hulle ekonomies en sosiaal nog byna volkome van die koloniale moondheid afhanklik was. Meer as politieke regte was nodig. Daar moes ook ekonomiese en sosiale onafhanklikheid ontwikkel. Die ontwikkeling van hierdie regte is selfs vandag nog nie baie ver gevorder nie.
Hierdie vier groepe regte kom soms in spanning met mekaar. Dink maar aan die groot vraagstuk van grondbesit in ons land. Die oorgrote meerderheid landbougrond en ander grond is in die hande van die klein minderheid wit mense. Die liberale politiek sou tevrede gewees het toe die vorige regering se Wet op Grondbesit en die Groepsgebiedewet afgeskaf is. Dit het beteken dat alle mense grond sou kon besit. Maar dit het nog nie naastenby die probleem opgelos nie. Swart mense se agterstand het deur die jare so groot geword dat hulle eenvoudig nie die middele het om grond te koop en ‘n boerdery te begin nie. Dit bring die behoefte aan regstellende aksie (affirmative action) na vore. Dit is onontbeerlik in ‘n onregsituasie wat oor dekades en selfs langer ontwikkel het, nieteenstaande al die negatiewe gevolge as dit nie verstandig beheer word nie.
Skrywer: Prof Adrio König