Gebruike en Gewoontes in die Bybel: Gasvryheid(4) – JP Louw
‘n Formele ete
Gewone etes het meestal op die grond, of selfs om ‘n tafel, geskied. So ‘n tafel was gewoonlik baie laag, en die mense het op matte gesit. Formele etes het of ‘n tafel gehad waarop die kos geplaas is of die kos was op die grond gesit. Die gaste het letterlik aangelê by die eetgoed want om die tafel, of waar die kos geplaas is, was lae banke gerangskik waarop die gaste op hulle sy gelê het, dikwels met kussings om op te rus (Ester 1:6, Esegiël 23:41). Die kos was aan die kop en die voete het dus weg van die tafel gewys. Soms, waar meer aanlêbanke gebruik is, was ‘n hooftafel op ‘n effens hoër vloerdeel geplaas. Dit was beskou as die beste plekke (Matteus 23:6, Lukas 14:8-10). So het die gaste aangelê met die minste in status op die verste bank of deel van die bank. Die heel belangrikste gas het aan die regterkant van die gasheer gesit en die tweede in belangrikheid aan sy linkerkant (Markus 10:35-37). Hierdie gaste het ook die grootste borde en beste kos gekry.
In die vroegste tye het mense dikwels op hulle voete gesit as hulle eet deur die bene onder hulle te kruis, dikwels op ‘n mat. Hoewel stoele gebruik was om op te sit (2 Konings 4:10, Spreuke 9:14), was dit meer deur owerheidspersone as deur gewone mense gebruik. By die rusbanke het die mense op die linkersy gelê en met die linkerarm gesteun sodat die regterhand vry was om die kos te hanteer, want daar is met die hand geëet. Messe, vurke en lepels soos vandag, het eers lank na die
Middeleeue in gebruik gekom. Om so te lê en eet was nogal moeilik en ‘n mens moes die kop of lyf goed draai om te gesels, of van sy te verwissel. Toe Jesus by Simon geëet het, moes hy op so ‘n bank gelê het, want in Lukas 7:45 word verwys na die vrou wat sy voete gesoen het. Sy voete was dus weg van die ete of waar dit aan die ander ent van die bank maklik bereikbaar was.
Omdat die ereplek aan die regterkant van die gasheer was, het dit beteken dat so ‘n persoon, as hy met die gasheer sou praat, op sy bors oorgeleun het (Johannes 13:13-25). Mans het alleen saamgeëet. Slegs by onverfynde maaltye was vroue ook teenwoordig, maar vroueslawe het by maaltye bedien en dikwels teen die mure op diens gestaan. Die vrou in Lukas 7:45 was dus nie opsigtelik toe sy ook ingekom het nie.
Tydens ‘n maaltyd het die gas soms ‘n stukkie brood geneem, in die sous gedoop en in die mond van die geëerde gas geplaas as ‘n teken van besondere waardering. Toe Jesus in Johannes 13:26-29 die stukkie brood indoop en aan Judas gee, het die dissipels dit nie verstaan nie al het Jesus duidelik gesê dat die verraaier die een is aan wie hy die stukkie sal gee. Omdat so ‘n daad egter ‘n gebruiklike eerbetoon was, het hulle (vers 29) ander redes bedink waarom Judas opgestaan en geloop het.
Die kos wat by formele maaltye geëet was, het bestaan uit wyn wat met water verdun was en soms met heuning versoet is. Wyn is nooit skoon gedrink nie. Gewoonlik is twee dele water by een deel wyn gevoeg. Iemand oor wie dit gesê was dat hy sy wyn skoon drink, was dus ‘n misbruiker, selfs dronkaard. Vleis, vis, brood, eiers en vrugte was die mees algemene kos.
By formele etes is daar soms ook vermaak aangebied. In Amos 6:4-6 word van musiek en liedjies gepraat. Dikwels is ook gedans en gesing. Dans was individueel. Elke persoon het op sy eie gedans. In Markus 6:22 word van Herodias se dogter vertel wat vir die gaste gedans het, en in Jeremia 31:13 lees ons van jong meisies, jong mans en ou mans wat gedans het, maar hier moet ons nie clink dat hulle met mekaar gedans het nie. Hulle het bloot terselfdertyd gedans. Elke persoon het op sy eie gedans – en meestal was daar net mans wat deelgeneem het. Mans en vroue wat met mekaar gedans het, was nie in Bybeltye bekend nie. Na die ete het die gaste hulle met lang gesprekke vermaak, soms meer ernstige diskussies, of selfs poësie – dikwels egter net praatjies.
Skrywer: Prof JP Louw