Die binding van Isak (Genesis 22:1 – 19)

image_pdfimage_print

 

“Where there is peace and meditation, there is neither anxiety nor doubt.” – Franciskus van Assisi

 

Die binding van Isak (Genesis 22:1 – 19)

Christene verwys na hierdie gedeelte as die “offer van Isak,” maar die Jode verwys hierna as die Akedah –  die “binding” van Isak. Binding is eitlik meer akkuraat, want Isak is vrygestel voordat hy geoffer is.

 

In Genesis kry ons baie van die basiese temas wat noodsaaklik is vir ons verstaan van die Bybel.  Die sleutel om hierdie gedeelte te verstaan kry ons in vers 12: Want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie (OAV). Baie Bybelgedeelte beskou “vrees van God” as die kernwaarde in ons godsdiens. Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis (Spreuke 1:7 – OAV). Om God te vrees is om die onmeetbare verskil tussen God en mens in nederigheid te erken. Hier is die eerste keer wat ons sien dat iemand hierdie deug beoefen. [Daar is nie ‘n Hebreeuse woord wat ekwivalent aan godsdiens is nie. Vrees van die Here is die ekwivalente term.]

 

Daar is onmiddellik twee vrae wat na vore kom.

  1. Hoekan ‘n goeie persoon gewillig wees om sy kind te offer?

Die openingswoorde van hierdie hoofstuk help ons: Na hierdie dinge het God Abraham beproef (OAV). God se plan om die mense van die aarde te seën, het van Abraham afgehang (Genesis 12:3). Daar het dinge gebeur wat aan God rede gegee het om aan Abraham te twyfel. Dit was noodsaaklik om Abraham te toets om te sien of hy God se vertroue werd was.  Twee maal het Abraham sy vrou in die steek gelaat teenoor ‘n vreemde koning. Hy het dit gedoen om homself te beskerm, waarskynlik omdat hy God nie genoeg vertrou het om dit in die vreemde te doen nie. Wat hier ter sprake is, is nie gehoorsaamheid nie, maar totale wedersydse vertroue. God beproef vir Abraham om te sien of hy God vertrou al beteken dit dat hy sy seun moet prysgee. Abraham se vrees is ‘n toestand van totale kwesbaarheid voor God. Dit is die menslike toestand waarop die verbond berus.

 

  1. Hoe kan ‘n goeie God vereis dat Abraham sy kind moet doodmaak?

Daar is twee moontlike redes om God vry te spreek op ‘n aanklag van sadisme.

  • Hierdie is ‘n ware toets. God het nie vooraf geweet hoe Abraham gaan reageer nie Net deur alles van hom te vereis, weet God of hy sy toewyding aan God voor alles plaas. Die boek Genesis ondersteun nie die algemene teologiese siening dat God alles weet voor dit gebeur nie. As Abraham die toets slaag lees ons: Want nou weet Ek dat jy God vrees … (22:12).
  • God eis alles van Abraham, want Abraham moet besef dat hy nie in beheer van die verbondsverhouding is nie. Hierdie staan teenoor Genesis 18 waar Abraham aggressief God se oordeel oor Sodom uitdaag. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie? (Genesis 18:25). God het na Abraham se intrede vir die “onskuldige” mense geluister. God verwys selfs na Abraham as ‘n profeet (Geneis 20:7). Ons sien dus Abraham se deernis met mense (Genesis 18) en sy vertroue op God (Hoofstuk 22). Beide is noodsaaklik vir Christene.

 

[In die Koran kry ons ‘n soortgelyke verhaal van die amperse offer van Abraham se seun. Maar die Koran noem nie spesifiek watter seun van Abraham betrokke is nie. Latere tradisie sê dit was Ismael.]

 

image_pdfimage_print