Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Aarde

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Nuwe Aarde

Nuwe aarde

(*Hemel, *Wederkoms)

Die verwagting van ‘n nuwe aarde kom ‘n paar keer in die Bybel voor (Jes 66:22 ev; 2 Pet 3:13; Op 21:1 ev). Daarmee saam kry ons die belofte van ‘n nuwe Jerusalem (Op 21:2 ev), wat ook al in Jesaja 65:18 ev veronderstel word.

In die Lutherse teologie is die gedagte dat hierdie ou aarde ver­nietig gaan word en dat die Here ‘n ander aarde in sy plek sal maak. Hulle beroep hulle daarvoor op 2 Petrus 3:10-11 waar ons twee keer lees dat alles sal verbrand en vergaan, en dat ons volgens God se be­lofte ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde ver­wag.

In die Gereformeerde teologie kry ons die gedagte dat die ou aarde nie vernietig sal word nie, maar nuut gemaak sal word, en wel deur ‘n radikale krisis heen. Die nuwe aarde sal dus dieselfde aar­de wees, net heeltemal nuut. Daar is nie soseer ‘n duidelike Skrif­verwysing waarop hierdie siening berus nie, maar eerder ‘n argument. As God die ou aarde heeltemal sou vernietig, sou dit beteken dat Hy ‘n neerlaag teen die duiwel gely het, dat Hy nie sy oorspronklike doel kon deurvoer om op hierdie aarde met mense in gemeenskap te leef nie, maar dit wat Hy gemaak het, moet vernie­tig en iets anders, ‘n ander aarde, in sy plek moet maak. Daarom meen Gereformeerdes dat die herskepping van die ou aarde juis die trou sal bevestig van God wat nie die werk van sy hande laat vaar nie (Ps 138:8).

‘n Verdere argument word gebou op ‘n vergelyking tussen die mens en die aarde. Ook mense is deur sonde aangetas, maar God vernietig nie ‘n mens en maak ‘n ander mens in sy of haar plek nie, Hy maak die sondaarmens nuut. Dit is dieselfde mens wat van die sonde vry gemaak en nuut gemaak is. Die term *wedergeboorte is veelseggend, en daar word ook van die wedergeboorte van die aarde gepraat, en dat alles nuut gemaak word, nie vernietig word nie (Matt 19:28, 1953-vertaling; Op 21:5). Die “vernietig” van 2 Petrus moet dan in hierdie lig verstaan word: ‘n radikale verandering en herskepping.

 

Herskep én oortref

Die breedvoerige voorstelling van die nuwe hemel, die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem teen die einde van Openbaring, het twee motiewe: herskep en oortref. Daar is duidelik ‘n herskeppingsmo­tief. Genesis 1 verwys na die hemel en die aarde, Openbaring 21-22 ook. Genesis 2 het ‘n rivier en bome, Openba­ring ook (22:1-2). Aan die begin is God by die mense, teen die einde ook. Aan die begin is daar nie trane, smart en dood nie, teen die einde ook nie (21:4).

Ook die oortreffingsmotief is duidelik. Uit Openbaring 21-22 is dit sonder meer duidelik dat daar ‘n lang geskiedenis verloop het sedert die begin. Daar is sprake van Israel en ‘n tempel en die nasies en konings en die apostels. Maar die opvallendste is die oorgang van ‘n tuin na ‘n stad, van die tuin van Eden na die nuwe Jerusalem. Hierdie blote feit sê baie. In die Bybelse tye was ‘n stad ‘n vesting van veiligheid teenoor die platteland wat baie onveilig was omdat mag daar geseëvier het.

En die oorvloed en luuksheid waarmee die eindstad be­skryf word, is vir daardie tyd eenvoudig oorweldigend. Die stads­muur se (twaalf!) fondamente is met edelstene versier, die twaalf poorte is elk­een uit ‘n pêrel gekap, die strate is van goud. Vir enige era is dit oorweldigend, wat nog vir die tyd toe die boek geskryf is! Dit is on­eindig meer as Genesis 2 se tuin. En die veiligheid: die stadspoorte word nooit eens gesluit nie ter­wyl gerubs en ‘n vlammende swaard die toegang tot die tuin versper het (Gen 3:24).

Die simboliek van die stad is net so ryk. Die name van die twaalf stamme van Israel staan op die poorte, en die twaalf apostels s’n op die fondamente. Dit beteken die totale Godsvolk van die Ou en die Nuwe Testament is daar verteenwoordig. Die stad se lengte, breedte en hoogte is dieselfde, ‘n kubus. Dit is die simbool van vol­maaktheid. En onthou nou dat hierdie stad eintlik die bruid self is (21:2, 9 ev). Die volmaakte bruid op die nuwe aarde!

Dit is die wonderlike beskrywing van die heerlikheid wat God vir sy skepping en in besonder vir sy kinders voorberei. (*Ver­vulling van profesieë)

En die hemel? Gaan ons dan nie eendag hemel toe nie? Of kom die hemel dalk na ons toe? (*Hemel)

 

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...