Ek bepaal my prioriteite op dit wat ek kan sien
“Prayer is not getting things from God, that is the most initial stage; prayer is getting into perfect communion with God; I tell Him what I know He knows in order that I may get to know it as He does.” – Oswald Chambers
Ek bepaal my prioriteite op dit wat ek kan sien
Om prioriteite te bepaal is ‘n belangrike leierskapsfunksie – veral aan die begin van ‘n nuwe jaar. Jy moet weet wat moet eerste kom – wat is krities belangrik vir jou roeping. Dit geld ook vir die koninkryk van God. Die keuses wat ons elke dag maak, het ‘n dramatiese effek op ons lewens. Dit is dikwels nie ‘n keuse tussen wat goed en sleg is nie, maar tussen beter en goed.
- D. Greear sê dat ons in Genesis 13 ‘n goeie gevallestudie kry. Abraham en Lot moes kies, maar hulle prioriteite verskil.
- Lot se prioriteit is dit wat hy kan sien
Toe Lot die twee opsies moes oorweeg, baseer hy sy keuse op wat hom die rykste kan maak. Om rykdom bo alles anders te plaas, verontagsaam Lot geestelike dinge. Ons lees nie dat hy bid of God raadpleeg voor hy besluit nie. Sy tuiste maak hy naby Sodom, bekend vir sy boosheid. Hy plaas sy hele familie in geestelike gevaar. Hoekom? Sodom was waar die geld was. God roep ons soms om na bose plekke te gaan, maar Lot gaan nie Sodom toe om te getuig nie. Gebeur dit nie vandag nog nie?
- Lot prioritiseer selfbelang
Lot kies wat die beste vir hom is. Hy neem glad nie vir Abraham, sy oom, in ag nie. As die oudste en as die een aan wie God die belofte gemaak het, het Abraham beter verdien. Lot moes die keuse aan Abraham oorgelaat het. Kry alles wat jy kan kry, was sy leuse.
Teenoor Lot kry ons vir Abraham.
- Abraham se prioriteit was God se koninkryk
Abraham vra vir God waar Hy wil hê hy moet bly. Hy gaan woon naby Hebron: Daar het hy ‘n altaar vir die Here gebou. God het vir Abraham in die verlede gelei. Daarom nader hy nou weer God vir leiding. Hy soek vir God in elke besluit wat hy neem. Hy besef dat al sy besittings, seëninge en voorspoed van God af kom.
- Abraham prioritiseer vrygewigheid en nie selfbelang nie
Abraham dink eers aan God en dan aan Lot. Eers daarna dink hy aan homself. Wie sorg vir hom? God. Wie hom oor ‘n arm mens ontferm, gee ‘n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed (Spreuke 19:17). Baie van ons sukkel met vrygewigheid, want ons is bang. Ons vertrou nie dat God sal doen wat Hy belowe het nie.
Is jy ‘n Lot of ‘n Abraham? Is jy Lot wat desperaat die ryksom wat jy kan sien aangryp: Is jy Abraham wat vir God jou eerste en beste gee – al voel dit soos ‘n waagstuk?