Jesaja – Lewe-dood-nuwe lewe (1:22-27) – Francois Malan
1:21-27 Die gedig oordink die vernietigende oordeel wat pas uitgespreek is oor ‘n gewonde Jerusalem wat na aan sy dood is.
1:21-23 Die stad se verlede word onthou as die agtergrond vir ‘n lied van verbasing en smart: vers 21 begin met die vraag ‘Hoe’ waarmee Klaagliedere 1:1 se rou oor die verwoesting van Jerusalem begin. Hoe is dit tog moontlik dat die getroue stad ‘n prostituut geword het – wispelturig, selfbevredigend, beginselloos? Eens vervul met reg en geregtigheid sodat hulle lewenswyse volgens hulle verbond met God die hele gemeenskap deurtrek het, maar nou vol moordenaars. ‘Getrou’ het die idee van ‘n stewige en veilige stad, teenoor ‘n tent se onbetroubaarheid en die wisselvalligheid van ‘n prostituut. Alles wat kosbaar was het nou in waarde gedaal deur verdraaiing en misbruik: jou silwer het nikswerd geword soos silwerslak, die onsuiwer skuim, wat afgekook word in silwer se reinigingsproses; jou bier is met water bederf; jou vorste is rebelle teen God, hulle is kop in een mus met diewe = verkeerde vriende se invloed; hulle almal is versot op geskenke en is agter omkoopgeskenke – omkoopbaar korrup sodat niemand meer omgee vir ‘n goeie samelewing nie. Met so ‘n selfsugtige samelewing verdwyn die behoeftiges uit hulle sig. Die armes is as verbondskinders geregtig op ‘n menswaardige bestaan, waarvoor in die wet voorsiening gemaak is. Vir Israeliete was dit bedoel om aan minderbevoorregtes reg te laat geskied. Job sê om aan armes en weeskinders reg en geregtigheid te laat geskied was vir hom so vanselfsprekend as om klere aan te trek (Job 29:11-14). Weduwees en wese is die lakmoes-toets vir reg en geregtigheid (1:17). Dié toets het Jerusalem totaal en al gefaal.
1:24 Met ‘n massiewe profetiese ‘Daarom!’ kondig die digter aan dat Israel God se toets sekerlik sal druip. Die Here (ha’adoon die eienaar), die Almagtige HERE (Jahweh die ‘Ek is’ wat aktief teenwoordig is; tseba’oot die Almagtige, letterlik ‘van die leërskare’, wat Hom as ‘n stryder voorstel, wat soldate ontbied om teen Babel op te trek (13:2-5) en wat die dood vir ewig vernietig (25:8); ‘die Magtige van Israel’ sê vir Jerusalem dat hy nie onafhanklik van die Magtige van Israel bestaan of kan bestaan nie, op sy eie pad besluit en lewe nie. Die Here het ‘n spesifieke doel met Jerusalem en sal streng optree teen die stad wat faal in God se doel met hulle. Dié wat teen God rebeleer en sy vyande geword het sal deur die Here gestraf word. Die strafaankondiging begin ook met ‘n klaaguitroep soos 1:4 (hoi helaas, o wee!) en voorspel daarmee diepe ellende vir Israel, maar beskryf ook die Here se leed om Israel, wat sy teenstander en vyand geword het, te straf.
1:25 Hulle proses om die silwer te devalueer tot slak, skuim (1:22), sal omgedraai word. Die slak/skuim wat afgekom het uit die silwer wat deur vuur gelouter is, sal uitgeskei word van die silwer om suiwer silwer te kry. Vir Jerusalem voorspel dit die vuur van loutering wanneer die Here letterlik sy hand teen hulle draai, van ondersteuning na kastyding draai, om hulle godsdiens en samelewing te louter.
1:26 Ek sal jou regeerders verander (om te wees) soos in die begin (van die volk Israel), en jou raadgewers soos aan die begin (vgl. Deutr 16:18-20; 2 Sam 8:15) – teenoor die huidige optrede van die leiers wat hulle rug op die Here gedraai het en die samelewing in die ellende gedompel het met hulle korrupsie (1:23). Dan (letterlik ‘n sterk ‘daarna,’ ná die reinigende smart van die ballingskap) sal Jerusalem weer genoem word Stad van Geregtigheid en Dorp of Versamelplek van Betroubaarheid. Die vernietiging van Jerusalem is nie die laaste woord nie. Na die ballingskap sal die stad vir die Here lewe, en sy riglyne vir reg en geregtigheid, ook teenoor die swakkes, volg, soos sy eens was (1:21). Die digter sien groot verdrukking vir Juda voorlê as die Here se straf op Jerusalem se verkeerde godsdiens en samelewing, maar daar is hoop na diepe lyding, omdat God se besluit eintlik is om alles weer tot sy ware regte funksie terug te bring soos God dit bedoel het as ‘n plek van reg en geregtigheid. Dwarsdeur die visoen van Jesaja word gewerk met ‘voor’ en ‘ná’, 2:2 verwys bv. na ‘die laaste tye’ wat sal kom, en hoofstukke 40-48 verwys terug na die vorige tye. Jesaja glo dat die invloed van die regeerders in die hoofstad deur die hele land strek. As dit in Jerusalem reg is, sal alles reg kom.
1:27 Sion (beteken versterkte plek, burg) word vir die eerste maal in die Bybel gebruik in 2 Sam 5:7, toe Dawid die stad ingeneem het en die Dawidstad hier aan die suide van die tempelberg gevestig het. Later het die naam Sion die tempelberg en die paleis ingesluit (Ps 2:6; 132:13-18), en is dit later vir die hele Jerusalem gebruik (Ps 51:20). In Jesaja 1:27 sluit die die hele volk Israel/Juda in. Van hulle word gesê dat hulle losgekoop/teruggekoop sal word deur die skeidsregter se beslissing/oordeel, vrygemaak deur die Here se herstel van die land uit die hande van dié vyande van die Here wat teen Hom rebeleer (1:24).
Die vrygekooptes word ook genoem ‘haar bekeerlinge’ deur geregtigheid – deur God se geregtigheid deurdat Hy die verhouding met jou reg maak, en jou geregtigheid deur die pad van God as jou lewenspad te kies in dankbare gehoorsaamheid aan die Here en sy woord. In 1:26 het die Here gesê: Ek sal jou regeerders verander om te wees soos in die begin. Hy koop vry en Hy stel die verhouding tussen Hom en die mens reg in sy liefde en barmhartigheid en gee die krag om in die verhouding te lewe aan die wat so besluit.
Skrywer: Prof Francois Malan