Gebed en stilte
The angel fetched Peter out of prison, but it was prayer that fetched the angel. —Thomas Watson
Gebed en stilte
In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.
Ons weet daar is ‘n verband tussen gebed en stilte. Soms is stilte in ons lewens vrede, maar soms maak dit ons bang. Daar is nagte met die sterre en die maan, maar daar is ook nagte wat pikdonker is. So is daar ook twee stiltes: die een vol vrede en die ander een skrikwekkend. Vir baie mense is stilte ‘n bedreiging – hulle weet nie wat om daarmee te doen nie. Dit maak hulle onrustig. Sommige mense kan nie sonder musiek om hulle studeer nie. As hulle in ‘n kamer moet sit sonder ‘n konstante vloei van klank, word hulle senuweeagtig.
Vir baie mense is stilte ‘n bedreiging. Dit is nie verbasend dat hierdie mense probleme met gebed het nie. Maar stilte is vol klanke: die wind wat waai, die blare wat ritsel, die voëls wat hulle vlerke klap, die golwe wat op die strand aanspoel. As ons dit nie kan hoor nie, hoor ons steeds ons eie asemhaling, ons sagte voetsteppe. Maar ons is doof vir die klanke van stilte.
As ons van ons lawaaierige wêreld na ‘n wêreld van stilte beweeg, word ons bang. Ons word soos verslaafdes wat deur die pynlike proses van onttrekking moet gaan. Maar nog moeilier is innerlike stilte. Mense wat in al die lawaai vasgevang is, verloor voeling met hulle innerlike self. Die innerlike vrae word nie beantwoord nie; onseker gevoelens word nie opgeklaar nie; verwarrende emosies word nie verstaan nie.
As ons die daaglikse lawaai uitskakel, kan ‘n nuwe innerlike lawaai dikwels gehoor word. Om in ‘n stil kamer te kom, beteken nie noodwendig innerlike stilte nie. ‘n Innerlike bespreking vind plaas. Baie onopgeloste probleme vereis ons aandag. Almal vereis ons aandag.
Is ons nie bang om ontslae te raak van al die afleidings van buite nie, want dit lei tot ‘n konfrontasie met wat binne in ons is? Daarom probeer ons om altyd besig te wees. Kan ons alleen wees van tyd tot tyd – ons oë toemaak, ontslae raak van al die geluide en kalm en stil sit? Om halm en stil en alleen te wees, beteken ons is volledig wakker en gee aandag aan elke beweging in ons. Miskien sal daar vrees en onsekerheid wees as jy die eerste maal hierdie onbekende terrein betree. Stadig maar seker sal jy ‘n orde ontdek wat jou verlange om alleen te wees sal verdiep.
Met hierdie nuwe vertroue vang ons weer opnuut ons lewens van binne af vas. In hierdie “innerlike ruimte” waar gevoelens van liefde en haat, teerheid en pyn, vergifnis en gierigheid geskei of versterk of verander word, sien ons ‘n sagte hand. Nou kan ons weer meesters van ons eie huis word. Daar is geen nodigheid om meer bang te wees nie.
Hierdie is nie maklik nie. Lawaai van buite eis steeds ons aandag en rusteloosheid van binne maak ons bang Ons is vasgevang tussen hierdie versoeking en vrees. As jy egter hierdie stilte ontdek het, voel dit of jy ‘n geskenk ontvang het Die belofte van hierdie stilte is dat ‘n nuwe lewe gebore kan word. Dit is die stilte van vrede en gebed, want dit bring jou terug na Hom wat jou lei. In hierdie stilte voel jy nie meer dat jy gedryf word nie – jy kan jouself wees.
Nou besef jy dat jy baie dinge kan doen – vryelik en nie ander dwang nie. Jy sien jou lewe in die regte perspektief. Te midde van al jou sorge kan jy bid.
Vraag: Hoekom vermy jy stilte?