Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)
Daar waar God is en ons saam met Hom gaan wees (Hemel)
Die hemel is die plek waar God is. Die mense in die Bybelse tyd het gesê dat God bo is – in die hemel. Ons bly hier op aarde en onder die aarde is die doderyk. Hoe verder jy dus van bo af onder toe beweeg, hoe verder beweeg jy weg van God af. So het hulle dit vir hulleself voorgestel.
As die Bybel nou wil vertel wat met ons gaan gebeur as die Here weer kom, word daar gesê dat ons hemel toe gaan. Dit is maar ʼn ander manier om te sê dat ons vir altyd by en saam met God gaan wees. Kyk na die volgende drie beskrywings in die Bybel:
-
1 Tessalonisense 4:15-17: hier word gesê dat Jesus op die wolke sal verskyn en ons sal kom haal. Hy sal ons dan saamvat, die hemel in. Dit is ʼn ander manier om te sê dat gelowiges vir altyd sal wees waar God is.
-
2 Petrus 3:10-13: hier word gesê dat die ou hemel en aarde vernietig sal word. Daar sal ʼn nuwe hemel en aarde in die plek daarvan kom. Dit beteken God sal nog in die hemel wees en die mense op aarde, met die verskil dat die mense God se wil nou volledig op aarde sal doen. Op die manier sal Hy tussen die mense wees.
-
Openbaring 21: Hierdie hoofstuk vertel hoe die ou hemel en aarde sal verdwyn en ʼn nuwe hemel en aarde tot stand sal kom. En dan sal daar iets groots gebeur: die skeiding tussen hemel en aarde sal verdwyn, want die hemel sal soos ʼn nuwe Jerusalem op die aarde neersak. So sal hemel en aarde een word. God sal dus tussen die mense kom bly.
Boek: Geloof in Aksie-Bybel
Skrywers: Prof Jan van der Watt, Dr Stephan Joubert, Dr Johan Smith
Uitgewers: Christelike Uitgewers Maatskappy