Die Groot Geloofswoordeboek: Sonde

image_pdfimage_print

Die Groot Geloofswoordeboek: Sonde

Sonde • Oorsprong/Begin van die sonde

Sonde

Sonde kan op baie maniere omskryf word:

•             Dit is verkeerde dade wat ons doen, ook regte dade wat ons nie doen nie (sonde van com­mision en omission).

•             Dit is om die doel te mis (die betekenis van een van die Hebreeuse woorde).

•             Volgens Johannes 16:9 is dit allereers om nie in Jesus te glo nie, wat beteken dat sonde in die eerste plek ‘n verkeerde ver­houding is, en dat al die ander verkeerde dinge dan daaruit voortvloei.

Sonde as ‘n verhouding

Dis interessant om aan sonde te dink in terme van ons primêre verhoudings: met God, met ander mense en met die natuur.

•             Sonde teen God. Heelwat sondes het direk te doen met ons ver­houding met God: ongeloof, ongehoorsaamheid, ontrou, gebrek aan liefde.

•             Sonde teen ander mense. Baie ander sondes het te doen met ons menseverhoudings. Die lys sondes van Galasiërs 5:19-21 is almal die verbreking van gemeenskap tussen mense. Dink maar net aan onsedelikheid, jaloesie, woede, rusie, verdeeld­heid, skeuring. Nie een van hierdie dinge skep ver­troue of bou ‘n verhouding nie. Daarteenoor is die ver­skillende elemente van die *vrug van die Gees (5:22-23) al­mal gemeenskapstigtend en opbouend: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, ne­de­righeid, selfbeheersing. Elk­een van hierdie dinge wek juis vertroue en bind mense aan mekaar.

•             Sonde teen die natuur. Dit kom nie in die Bybel so duidelik na vore nie. Ons werklike sonde teen die natuur het eers in ons tyd ontwikkel, veral besoedeling en uitputting van die hulp­bronne. Maar die mens is van die begin af in ‘n ver­ant­woor­delike verhouding met die natuur (Gen 1:28), en dit het die moontlikheid van ‘n wanbestuur van die natuur ingesluit.

 

Sonde as ‘n mag

Dit gaan egter in sonde nie net om verhou­dings nie, maar ook om ‘n mag. Net soos die *dood is sonde ‘n *bose mag wat mense in sy greep kry. Die klassieke hoofstuk oor die doop, Romeine 6, is duidelik hieroor. “Die sonde moet nie oor ons heerskappy voer nie”, “ons moenie ons lewe in die diens van die sonde stel nie”, “die sonde moet nie langer ons baas wees nie”, “die sonde betaal ‘n bepaalde loon” (Rom 6:12 ev) is almal uitdrukkings wat veronderstel dat die sonde ‘n mag is wat oor ‘n mens kan heers. Dit beteken dat God nie net ons son­de vergewe nie (“ver­gewe” veronderstel sonde is verkeerde dade of verhoudings), maar ons ook vry maak van die sonde (wat ver­onderstel dat sonde ‘n mag is). Johannes verwys ook hierna as hy skryf dat elkeen wat sonde doen, ‘n slaaf van die sonde is, en dat die Seun ons van hierdie tiran moet vry maak (8:34-36).

Dit beteken nie dat ‘n mens willoos aan hierdie mag uitgele­wer is nie. Die evangelie roep ons juis op om ons vryheid in Jesus te soek en te kry. Dit is op die ou end ons eie skuld as ons in die mag van die sonde bly.

 

Sondige strukture

Die mag van die sonde kom duidelik na vore in strukture. Struk­ture is die wyse waarop ons ons samelewing inrig en orga­ni­seer. Om aan die linkerkant van die pad te ry is ‘n verkeerstruk­tuur. Ons kinders gaan skool toe, wat netjies ingedeel is in ‘n struktuur van grade. Ons hoef dus nie op elke hoek van die straat te besluit aan watter kant ons sal ry, of elke môre hoe ons ons kinders sal leer nie. Die skool besluit ook nie elke môre weer in watter groepe hulle die kinders sal indeel nie. Dit beteken dat strukture die lewe baie eenvoudiger maak.

Maar daar kan sondige strukture wees. Apartheid was een. Dit het die lewe baie eenvoudiger en aangenamer gemaak vir die wit mense, maar die mense van kleur daagliks aan vernedering on­der­werp. Die geweldige probleme wat dit meegebring het om hierdie struktuur af te breek en met iets anders te vervang is ‘n goeie voorbeeld van die krag van strukture. Vandag is regstellen­de aksie ook ‘n struktuur. Dis nie in sigself ‘n sondige struktuur soos apartheid was nie, maar dit hou die moontlikhede in om sommi­ge mense onregmatig te bevoordeel en ander te benadeel. Dit is ‘n struktuur wat vatbaar is vir sonde. Net so is die huwelikstruktuur van ‘n monogame huwelik in sigself goed en reg, maar daar kan na­tuur­lik baie sonde binne die struktuur gedoen word. Maar die beginsel kan nooit verkeerd wees dat een man en een vrou hulleself lewenslank aan mekaar verbind nie.

As daar sondige strukture kan wees, moet ons ook van die hei­liging van strukture praat. Persoonlike sonde kan vergewe word as ons dit bely, maar strukture wat die moontlikheid van sonde in hulle omdra, moet geheilig word. Die ekonomiese stelsel in ons land bied baie ruimte vir sonde. Mense kan mekaar op ‘n oneerlike manier benadeel. Die struktuur word geheilig as die gate toegestop word waardeur mense oneerlik kan optree.

 

Die oorsprong van die sonde? – ‘n Verkeerde vraag

‘n Vraag wat verkeerd gevra word, kan nooit tot ‘n goeie antwoord lei nie. Die vraag: “Wat is die oorsprong van die sonde?” is ‘n verkeerde vraag omdat dit ‘n sinvolle verklaring veronderstel van waar en hoe die sonde ontstaan het. Dit is die rede waarom daar sulke vreemde antwoorde aangebied word. Sommige sien die vryheid van die mens as die oorsprong van die sonde. Ander dink weer aan die sluheid van die slang. Nog ander dink aan die plan van God.

God sou dan ‘n goeie plan of doel gehad het met die sonde. As Hy die mense van die begin af volmaak geskape het, sou die mens nooit regtig die volmaaktheid kon waardeer nie. Deur die mense so te skep dat hulle sonde kan doen, het Hy die moontlik­heid geskep dat hulle sou ervaar hoe sleg die sonde is en dus ook hoe goed die goeie is. Dit sou hulle motiveer om die goeie te kies en die sonde te los. So ‘n verklaring gee ‘n volkome sinvolle oorsprong aan die sonde.

Die ander bekende verklaring is dat God die mense gemaak het om Hom lief te hê. Maar gedwonge liefde is nie regtig liefde nie. God moes dus die mense vry maak sodat hulle kon kies om Hom lief te hê. Liefde as ‘n vrye keuse is die enigste soort liefde wat die naam liefde werd is. Maar as Hy die mense vry gemaak het om te kan kies om Hom lief te hê, is hulle ook vry om te kies om Hom nie lief te hê nie. Dit is dus volkome sinvol en verstaanbaar dat die mense kon kies om te sondig. Nog ‘n volkome sinvolle verklaring vir die ontstaan van die sonde.

‘n Ander verklaring is dat die slang eenvoudig te slu was en die vrou verlei het om ongehoorsaam te wees.

Die basiese probleem met al hierdie verklarings en ook met enige moontlike verklaring is dat dit ‘n sinvolle plek aan die sonde gee, of ‘n sinvolle verklaring waarom daar sonde in die wêreld is.

 

Sonde is sinloos

En dit bots met die wese van die sonde, wat sinloos, destruk­tief, chaoties is. Daar is niks in die skepping of in God wat sinvol met sonde in verband gebring kan word nie. Sonde pas nêrens in nie. Daarom is daar nêrens in die Bybel ‘n poging om sin aan die sonde te gee of om sinvol oor die “oorsprong” van die sonde te praat nie. Die teendeel is waar. Paulus roep in ontsteltenis uit: “Hoe kan ons wat dood is vir die sonde nog daarin voortleef?” (Rom 6:2). Nêrens kry ons ‘n aangrypender kreet oor die totale sinloosheid en onbegryplikheid van die sonde as uit die Here se eie mond in Jeremia 2 nie. Daar lees ons dat selfs onder die heidene dit nie gebeur dat ‘n volk sy gode vir ander gode verruil nie, en dit terwyl hulle gode nie eens regtig gode is nie. Maar Israel verruil sy God, die magtige God, vir afgode wat niemand kan help nie. Selfs die hemel word dan ingeroep om verskrik te staan by die besef dat Israel totaal sinlose dinge doen. Hulle verruil, by wyse van spreke, ‘n plaas met ‘n sterk fontein vir ‘n droë plaas waar net ‘n paar reënbakke staan om die reën op te vang, en die bakke is nog gebars ook. Dit is ‘n beeld van totale sinloosheid. Dit is sonde.

Genesis 3 se verhaal is net so sinloos. Trouens, as dit nie in die Bybel gestaan het nie, sou ek dit nie geglo het nie. Genesis 2 is ‘n idilliese verhaal oor die pragtigste tuin met die grootste stroom water en heerlike vrugtebome. Onthou, hierdie verhaal het in Pa­lestina sy oorsprong, ‘n land wat maar droog en kalkerig is. Die tuin van Eden is ‘n paradys.

En die Here se verhouding met die mense skep soveel ver­troue. Hy sorg vir hulle, voorsien in hul behoeftes, vul die leemte in die man se lewe. Wat ‘n sprokiesverhaal.

En dan kom die eerste die beste slang aangeseil, en weens sy goed­koop verdagmakery verloor Eva onmiddellik haar vertroue in die Here. Dis nie eens ‘n lang gesprek nie. Daar is omtrent geen weerstand by haar nie, en haar man volg gedweë, sonder enige na­vraag. Wie kan daaruit sin maak?

Wat sou ‘n sinvolle reaksie van Eva gewees het? As sy met een woord gereageer het: “Weg agter my, Satan,” soos Jesus soveel later vir Petrus gesê het (Matt 16:23, 1953-vertaling). Maar haar werklike reaksie pas op geen manier sinvol in enige patroon in nie. Dis son­de. Daarom pas dit hoegenaamd nie in ‘n kind van God se lewe nie, en kan Johannes selfs skryf dat dit eintlik onmoontlik is vir ‘n kind van God om sonde te doen (1 Joh 3:5, 6, 9). (*Perfeksionisme)

Die sonde het nie ‘n sinvolle oorsprong nie. Dit het net ‘n on­verklaarbare begin.

Skrywer: Prof Adrio König

image_pdfimage_print

You may also like...